Holidays

Botswana Julie 2018

By
on
10/01/2019

Ons was weer lus om bietjie Botswana toe te gaan en die dele te verken wat ons nie nie in April maand by uitgekom het nie.

Maar hierdie keer wou ons dit saam met iemand doen.

Ek het so ‘n bietjie kontak gehad met die pa van  ‘n paartjie wie se troue ek ‘n paar jaar terug afgeneem het. Kobus Bouwer. Ons het nie saamgekuier nie, maar ek het gevoel ek en hy kom lekker oor die weg toe ons ‘n paar keer oor die foon gesels het. Ons het dieselfde tipe belangstellings, kamp en fotografie. “On the spur of the moment” vra ons toe sommer vir hulle of hulle nie wil saamgaan nie. Ons het ‘n kuiertjie saam Kobus en Karin Bouwer gereël en sommer dadelik besluit. Ons ken mekaar nou nie, maar hulle wil Botswana doen en ons wil. Ons sal mekaar leer ken.

Somtyds is ‘n impulsiewe besluit “n goeie een. In hierdie geval was ons gelukkig, om Kobus en Karin saam te nooi was een van die beste besluite van ons lewens. Ons het kuier vriende gemaak wat nog baie avonture saam met ons gaan meemaak. Ons kon lekker dinge deel, maar ons kon ook elkeen op ons eie wees. Dit was nie ‘n geval van ons MOET alles saamdoen nie. Ons het sommer aan die begin al besluit elkeen maak sy eie kos. Twee vrouens in ‘n kombuis of twee mans besig met een braai werk net nie.  

Die feit dat Kobus en Karin saamgaan het dinge sommer van die begin af verander. Surika en ek ry baie keer sommer net op vakansie sonder ‘n duidelike plan van waarheen en waar gaan ons slaap. Menige kere was ons al op vakansie en terwyl ek bestuur bel Surika rond en soek plek waar ons moet slaap die aand. Met Kobus en Karin by het dinge bietjie anders gewerk. Hy is ‘n ingenieur, so hy is uit die aard van die saak BAIE gesorteer. Ons het besluit om alles voor die tyd haarfyn te beplan. Kobus sou die helfte van die plekke soek en bespreek en ek die ander helfte. Ons sou weggaan vir die skoolvakansie, so ons het onsself bietjie onder druk gesit aangesien baie plekke reeds vol geboek was.

Maar eventueel het ons oral plek gekry waar ons wou bly.

Daar is so ‘n paar veranderinge ook gedoen aan Mufasa en Dassie na ons laaste Botswana trippie. Na ons lekker vassit by Kubu eiland laaskeer het ek besluit ‘n highlift jack is ‘n moet. Jy gebruik dit nie elke dag nie, maar as jy dit nodig het en jy het dit nie….So die hghlift jack is gekoop en op die Frontrunner dakrak vasgesit.

Ons het laaskeer ook amper probleme gehad toe ons net een spaarwiel gehad het en ons kry ‘n pap wiel so 30 km van Kubu Eiland af, met ‘n BAIE ver pad van die naaste plek af wat bande verkoop. Ek het bietjie rondgekyk en ‘n tweedehandse “mag” gekry vir R1000-00. Ek kon ook ‘n goeie tweedehandse band kry vir R500-00. Nou was ons reg vir papwiele kry. Die ekstra spaar is ook op die dakrak vas.

Die een 75A batterytjie waarmee die Echo treiler standaard uitkom het ons sleg in die steek gelaat toe ons dit nodig gehad het. Ramon van LA sport het voorgestel ek gooi die battery uit en kry twee 105A Deep Cycle batterye. Hy het die area waar die batterye inkom in die Echo bietjie dieper gemaak sodat die hoër 105A batterye daar kan inpas.


Sondag 1 Julie 2018: 530 km

Pretoria na Serowe

Nou was ons reg vir die ding. Ons vertrek datum was 1 Julie 2018. 09:00 die oggend trek ons toe uit Pretoria uit weg.

Ek het twee Bosvark tweerigting radios. Ons hou een in elke voertuig. Solank ons nie te ver uitmekaar uit is nie kan ons lekker kommunikeer daarmee.

Ons het gedog ons gaan lekker vroeg by ons eerste aand se stop aankom, maar die grenspos by Groblersbrug is ‘n nagmerrie. Die volgende dag is ‘n publieke vakansiedag in Botswana en al wat ‘n inwoner van Botswana is en in SA is is op pad deur die grens. Ons staan maar geduldig in die ry. Ek begin lekker te gesels met ‘n vroutjie van Botswana wat net agter ons staan. Ek vertel haar watse werk ek doen en sy wil net hê ek moet ‘n studio kom oopmaak in Palapye, sy reken dit sal baie goed werk. Na twee ure en 20 min se wag is ons deur. Ons kom die aand so teen 18:26 die aand by Masama Lodge net buite Serowe aan en slaan dadelik kamp op. Captain K en sy ontvangsdames is net soos laaskeer baie vriendelik en behulpsaam. Dis al donker toe ons daar aankom so ons steek sommer dadelik die vuur aan en braai die aand ‘n vleisie.

Soos altyd met die eerste aand van kamp slaap ons soos dooies.


Maandag 2 Julie 2018: 281 km


Op Pad na Kubu eiland

Die volgende oggend het ons lekker ontbyt gemaak en gaan voorrade aanvul by Serowe. Ons maak sommer die 4×4’s en al die petroltenks ook vol.

Dan druk ons deur na Kubu Island toe. So teen 15:00 stop ons by die Gaing O Trust se kantore in Mmatshumo. Hulle beheer die kampplekke by Kubu Island.

So teen 17:00 kom ons op Kubu Eiland aan. Die pad is aansienlik vinniger as laaskeer toe ons net na die reën seisoen daar was, ons ry nou ‘n korter pad ook want ons kan nou oor die Sua panne ry en nie meer die lang pad om soos laas omdat hulle bang was ons sit vas nie. Daar is gelukkig nie die keer so baie muskiete en insekte soos laas net na die reën seisoen nie. En hier is die keer HEELWAT meer mense. Die rooi roete op die kaart hieronder is die pad wat ons die eerste keer gery het en die geel roete is die pad wat ons die tweede keer gery het. Met die geel roete (Ons tweede vakansie) ry jy oor die panne, wat nie gedurende ons April Kubu eiland vakansie moontlik was nie. Ons moes ‘n wye draai ry om nie vas te val nie.

Die aand braai ons weer.


Dinsdag 3 Julie 2018: 90 km

Sonsopkoms op Kubu Eiland

06:00 die oggend is Surika, Kobus, Miya en ek op. Ons ry so om die eiland en neem fotos met sonsopkoms. Karin slaap so ‘n bietjie later. Die natuurskoon hier is natuurlik ongelooflik. Fotos kan nie die volle verhaal vertel nie. Hierdie is nou maar net ‘n BAIE spesiale plek.


Ons ry van Kubu Eiland na Planet Baobab

Die pad tussen Kubu Eiland en Gweta

Ons vertrek by Kubu Eiland op pad na Gweta. Hier is die kaart van die pragtige pad wat ons die Ntwetwe pan van Kubu na Gweta gery het.
Die sowat 90 km grondpad vat ons toe so 6 ure. Maar wat ‘n lekker pad om te ry. Jy is ver van alles en almal af en die stilte en natuurskoon maak dit absoluut die moeite werd. Definitief een van die lekkerste 90km wat ek al gery het.

‘n Groot ou groot Baobab net so ‘n entjie van Kubu af.

Toe ons deur die Vet fence is raak die los sand ‘n probleem

Ons blaas eers bietjie ons wiele af. Surika leer hoe om dit te doen met my ARB tyre deflator. Hierdie is nou maar net een van die beste R1000 wat ek al spandeer het. Waar is die dae wat ons Mosambiek en Sodwana toe was en die wiele met ‘n stokkie afgeblaas het.

Hier is ‘n foto wat Kobus geneem het, daardie stofwolkie daarvoor is ons.

Ons stop vir ietsie om te eet. Sommer chips op ‘n bun.

Ons het so ‘n bietjie skade toe Kobus agterkom hy het sy een jerrykan wat vol petrol is en agter op sy Infinity boswa was verloor. Ons weet tot nou toe nog nie wat het met die jerrykan gebeur nie. Is dit erens afgesteel of het dit afgeval?

Planet Baobab

Ons slaap vanaand en more aand by Planet Baobab. Ons maak die bespreking deur Uncharted Africa. Dit kos ons BWP800 vir die twee aande vir vier grootmense met twee treilers en 2 4×4’s, en dan natuurlik Miya ook.

Ons kom moeg maar tevrede by Planet Baobab aan. Lekker warm storte en lieflike badkamers. Net wat ons nodig het om Kubu Eiland se stof af te was.

Miya maak maatjies en voer die voëltjies. Die aand toe ons opslaan is daar Franse wat hulle gehuurde 4×4’s en daktente amper bo-op ons kom opslaan. Ons moet ons net inhou sodat ons nie sonde met die bure veroorsaak nie.


Woensdag 4 Julie 2018

Baines Baobab

Vandag was ons Baines Baobab toe. Dit het ons P120 per persoon gekos om in te gaan. Miya was P60.00 Jy betaal P50 per kar ook. Die mense by die hek vat ook nie kaarte nie en hulle het ook nie kleingeld nie. Die pad na Baines Baobab toe was ook vir lang stukke baie slegte sinkplaat en ander plekke lekker dik los sand. Ek het Surika so ‘n bietjie laat ry sodat sy solank kan oefen om in die sand te ry vir wanneer sy oor ‘n maand Mosambiek toe gaan vir ‘n troue. So, 3 dae in die vakansie in en my vrou kan al die tyre deflator gebruik en 4×4 ry in dik los sand. Ons vorder.

Die Baobab bome was darem iets besonders. Waar hulle vandaan kom weet ek nie, die wereld is maar redelik sonder bome, en hier staan hierdie paar reuse. Die geluid wat die wind maak as dit deur hulle takke waai is iets ongeloofliks om te hoor.

Ons koop hout op pad terug Planet Baobab toe. Daar is ‘n pragtige stalletjie met baie hout langs die pad, maar niemand daar om die hout te verkoop nie. Ons vat toe maar net die hout wat ons nodig het en besluit ons sal die volgende dag weer daar verby ry, hopelik die entrepreneur te siene kry, en hom of haar dan sommer betaal. Die volgende dag was daar egter nog steeds niemand nie. Ons het toe maar die geld gelos in ‘n sak wat daar hang. Of hy dit ooit gekry het weet ek nie. Hoe sê hulle : “Ver van jou goed is naby jou skade”

Ons gaan maak ook petrol vol by Gweta en koop bietjie bier by een van die plaaslke “drankwinkels”

Surika se 4×4 kennis brei nou vinnig uit. Sy het vanoggend sommer Mufasa se wiele ook opgeblaas met die kompressor. Een van die dae is sy reg vir die Dakar.


Donderdag 5 Julie 2018: 190 km

Maun

Vandag ry ons deur Maun toe. Ons slaap die volgende drie aande by Island Safari Lodge net buite Maun. R1006.68 c vir my en Surika vir die drie aande. Miya betaal nie. Ons dink ons gaan die klein afstandtjie sommer vinnig kafdraf, Dis mos heelpad teerpad, en dis die A3. Maar ons het toe nog nie geweet hoe lyk groot dele van die pad nie. Om te sê daar is baie “potholes” is die verkeerde beskrywing, sê eeder daar is net hier en daar teer tussen baie gate. Jy ry so ”zig zag”om die gate mis te ry dit lyk soos ‘n paar baie dronk mense wat bestuur as jy die motors voor jou dophou. Maar ons was gewaarsku. Op die GPS het daar gestaan “A3 (potholed)”

In Maun aangekom stop ons eers gou by die eerste hardeware winkel, Kobus se boswa se geiser gee probleme en hy het ‘n sealant nodig.

In Maun gaan eet ons eers ‘n lekker middagete by Marks Eatery. Ons was beindruk. Ons het glad nie so ‘n mooi plek hier verwag nie.

Ons wil ook sommer vleis koop. Daar is ‘n Spar, maar ons sien toe “gelukkig” ‘n “baie oulike slaghuis” raak. Ek sal maar nie die naam noem nie. Ons koop toe al ons vleis daar. Dit lyk nie TE lekker nie,en daar is nie juis ‘n groot verskeidenheid nie, (veral nie as jy elke aand braai nie) Maar wat, hoeveel plekke verkoop nou vleis in Maun dog ons. Ons koop toe maar die volgende week se vleis daar. Daarna stap ons oor na die Spar toe vir ‘n paar stukkies kruideniersware, en tot ons skok het hulle die heerlikste vleis, sosaties gemarineer in ‘n verskeidenheid souse, gerookte ribbetjies ens ens. Ons monde kwyl sommer soos ‘n Jack Russell s’n as hy ‘n Beeno beskuitjie sien.  En ons het nou so pas al ons vleis by “die oulike slaghuis” gekoop.

Ai!

“Haastige hond verbrand sy mond”

Ons ry die res van die middag die hele Maun plat op soek na kamp winkels want ons wil ‘n sak koop waarin jy jou wasgoed kan sit saam met water en waspoeier, soos jy ry was jou klere dan. In die eerste plek is die plekke nie waar Google maps sê hulle moet wees nie, en wanneer jy die winkel aan die anderkant van die dorp kry weet hulle nie waarvan jy praat nie. Ek kom gou agter dat die goed wat die ouens op die You Tube 4×4 kanale wat ek volg gebruik nie noodwendig verkrygbaar is in ‘n klein plekkie soos Maun nie. Iemand gaan met die hand moet was, of ons moet more maar weer dieselfde aantrek. Ag wat, kan seker nie skade doen om klere twee dae te dra nie nê?

Ons het nogal ‘n baie ingewikkelde kampeerplek waar ons ons boswaens in trurat moet instoot, bome aan alle kante.Baie “challenging” Karin is ‘n pragtige oulike mens, maar ons kom gou agter om vir Kobus aanwysings te gee hoe hy moet “reverse” is nie een van haar sterk punte nie. Haha.Toemaar Karin. Met jou oulike, sprankelende persoonlikheid sou jy in elk geval nooit ‘n “spietkop” hoef te gewees het nie.

Ons eet die aand sommer broodtjies en gaan lê in die tent, ek raak amper dadelik aan die slaap. Surika lees darem so 14 bladsye van haar boek waarop sy baie trots is. (Miya lees meer as dit as sy moeg is)


Vrydag 6 Julie 2018


Moremi

Miya het nie ‘n goeie oggend nie. Eers het die apies haar koekies gesteel.En toe kry sy raas omdat sy net verdwyn en ek weet nie waar sy is nie.

My oggend was ook nie te waffers nie, daar is nie warm water in die storte nie. Kobus en ek begin die dag met ‘n Chakalaka toebroodtjie.

Maar nou is ons eers op pad Moremi toe. 90 km tot by die hek. Dit vat so twee ure, want 60 km daarvan is grondpad, en dis nou nie die wêreld se beste grondpad nie.

Die toilet by Moremi se hek…

Ons ry toe die heeldag in die wildtuin rond, sien ‘n paar diere, en die aand weer terug Maun toe.

Ek het so ‘n klein insidentjie met ‘n Olifant in Moremi. Hy staan so reg langs die pad. Ek is mos maar bietjie versigtig vir ‘n Olifant. In elk geval, Surika is nog besig om ‘n video te neem van die Olifant toe ek my verbeel hy begin storm. Ek trek so vinnig weg dat my vrou amper “whiplash” opdoen in die proses. Ek is natuurlik die res van die dag daaroor gespot.

Dit was ‘n heerlike dag, die paadtjies is plek plek baie smal en dis ook baie ruig. Die natuurskoon is pragtig en ongerep. Hierdie is definitief die tipe plek waarheen jy wil kom as jy bietjie batterye wil herlaai.

Die aand braai ons weer van die “baie oulike slaghuis” se vleis en Surika maak ‘n koolkop met bacon, kaas en garlic in. Skoonpa se resep.Die koolkop word dan toegedraai in foelie en stadig in die kole gaargemaak. Ons lê toe te veel klem op die “stadig gaarmaak” en die koolkop word toe glad nie gaar nie. (Ons het dit toe darem die volgende aand ge eet) Maar dit maak nie saak nie. Ons is Afrikaners so ‘n gebalanseerde maaltyd beteken jy moet net drie tipes vleis op jou bord hê, en die het ons.


Saterdag 7 Julie 2018

In Maun: Eet by Miguel’s

Ons besluit om die dag net rustig te vat en so min as moontlik te doen. Ons gaan maak die 4×4’s se tenks vol en gaan eet toe ietsie by ‘n klein Mexikaanse restaurantjie genaamd Miguel’s, of Magiels soos Karin sê.  Baie lekker kos. Die “waiter” is sommer die ou wat die kos ook maak, so alles vat ‘n bietjie langer. Maar, as die biere koud is en die geselskap is goed is mens bereid om te wag.

Net langsaan Miguel’s is daar mense wat geverfde lappe en handgemaakte “African” juweliersware verkoop. Ons ondersteun bietjie die “local trade” en koop goedtjies vir onsself en die mense by die huis en kantoor.

Die aand braai ons hoender en eet Surika se koolkop,  nou die nie lekkerste hoender nie, dis van die “baie oulike slaghuis” af, maar dis darem in en ons gaan slaap nie honger nie.


Sondag 8 Julie 2018: 335 km


Swampstop by Sepopa

Ons ry die oggend 06:00 al. Vandag moet ons tot by Swampstop by Sepopa ry. 335 km. En groot dele is skynbaar weereens sleg en vol “potholes.”

Maar ons wil eers ietsie eet. Ons is vreeslik verras toe ons ‘n oop Wimpy sien. Daar is ‘n werknemer wat buite die Wimpy staan en die vensters was. Ek is so opgewonde oor die oop Wimpy ek sê toe vir hom: “You’re open, I Love you man” Hy merk so ewe droog op: “I love you to Sir, welcome to Wimpy”

En toe het ons lekker ge eet. Die hoender van die vorige aand is vergete.

Ons druk die 4×4’s se neuse in ‘n Suidwestelike rigting op Die A3, Daarna draai  ons weer Noord op die A35 in die rigting van Namibië.

Maar eers word ons afgetrek deur ‘n paar spietkops op die A3, ons het skynbaar te vinnig gery. Erens was ‘n 60km bordtjie wat niemand gesien het nie. Die man is so goed met die bribe vra dat ek basies gedink het ek betaal nou wetlik vir die kaartjie.

Die A35 raak al hoe slegter hoe verder Noord ons ry, die aankoms tyd het nou al met 40 min aangeskuif oor die laaste 225km. Dis net “potholes, poholes, potholes”

Sepopa Swampstop is ‘n aangename verassing. Die plek is regtig baie mooi. Ons kampplek is reg op die walle van die Okavango rivier.

Ons boek ‘n bootrit vir die middag op die Okavango rivier en dit is absoluut ‘n belewenis. Ons sien selfs twee krokodille/tjies. Die gids wat die boot bestuur stop erens langs ‘n mooi blom wat op die water groei en maak vir Miya ‘n hangertjie van die blom en sit dit vir haar aan. Hy verduidelik sy pa het toe hy sy op sy ma verlief geraak het vir haar ook so ‘n hangertjie gemaak.

Ons bly tot met sonsondergang op die water. Daar is eenvoudig nie woorde om te beskryf hoe mooi is ‘n sonsondergang op die Okavango rivier op ‘n boot nie.

Toe ons terug vaar jaag die gids vinnig terug met die boot. Dis baie lekker….as jy jou mond toehou en nie praat nie. Die oomblik as jy jou mond oopmaak vlieg daar ‘n paar muggies in.

One eet die aand sommer Mince mate.

Erens deur die nag word ons wakker, ons hoor seekoeie sommer hier by ons in die water. Ons hoop maar nie ons staan op die plek waar hulle graag lê in die aande nie.


Maandag 9 Julie 2018: 450 km


Caprivi Mutoya Lodge in Namibië

Ons is lekker vroeg op pad. Vandag gaan ons Namibië binne. Ons gaan die volgende 2 aande by Caprivi Mutoya kamp in die Caprivi strook, of soos die nuwe naam nou lui, die Zambezi Region.

Ons stop langs die pad en tap so 20 l petrol uit ‘n jerrykan in my FJ in. ‘n Vriendelike man kom nader gestap, sy naam is Tom. Hy is ‘n boer in die omgewing, hy kom groet maar net. Dis een ding wat ek baie van Botswana hou, die mense hier is baie vriendelik.

Die A35 is nog steeds net die ene slaggate

Ons maak vol by Mohembo net voor die grens aan die Botswana kant en kry sommer bietjie slap chips vir die pad ook. Net so om die honger gaaitjie vol te maak tot ons netnou gaan ontbyt maak.

Ons grenskruising in Namibië by die Mohembo grenspos verloop glad. Die mense is baie vriendelik en baie agtermekaar. Die gebou binne is ook pragtig gedoen met houtsnee werke van diere. Ons is die eers mense vir die dag wat uit en ingaan vir die dag.

Ons betaal 295 Nam dollar vir die kar en 188 Nam dollar vir die treiler. (1 Nam dollar = R1)

Hul aanvaar ZAR in Namibië.

As jy deur die grens gaan is jy dadelik in die Bwabwata nasionale park. Dis ‘n pragtige breë grondpad waarop ons ry. Diere is oral te sien.

Ons stop langs die pad en maak ‘n lekker ontbyt. Daar is so ‘n honger hondtjie wat rondom ons draai vir ietsie om te eet Ons gee vir hom broodtjie. Met elke snytjie wat ons vir hom gee hardloop hy met die stukkie brood so ver in die bos in dat ons hom nie meer kan sien nie. Na ‘n rukkie kom hy terug en kom haal nog ‘n stukkie, en dan word die proses herhaal. Hy hardloop ver weg en kom na ‘n rukkie eers terug as hy klaar ge eet het. Lyk my kos is maar skaars hier. Jy moet versigtig wees as jy kos kry.

By Divundu draai ons regs op die B8. Nou is dit reguit teerpad deur die Caprivi strook tot by Katima Mulilo.

Dit lyk my die land lyk mooi na hulle infrasruktuur. Dis net na die 08:00 die oggend en ons het al twee groepe mense op die B8 gekry wat die pad in stand hou deur op te kap en oor te teer. Hier lê ook nie papiere en bottels oral langs die pad nie. Die mense is ook baie vriendelik.

Naby Kongola maak ons weer vol.

Na Katima draai ons van die B8 af af op die B3508. Dis nou nog 13 km na Mutoya Lodge toe.

Hulle is besig om groot padwerke te doen en nuwe paaie te bou naby Mutoya CapriviLodge.

Ons ontmoet ‘n vriendelike gesin wat Caprivi Mutoya besit en bestuur.Zayne is die eienaar van die plek en het jare terug uit Rhodesië getrek en die stuk grond gekoop langs die Zambesi rivier. Hy het eiehandig alles gebou wat hier staan. Sy vrou en dogter en stiefdogter, Serina en Joey,  bestuur die plek saam met hom. Jy gaan nie maklik ‘n plek kry wat beter en vriendeliker bestuur word as Caprivi Mutoya nie. Die koste om hier te bly is Nam160 per grootmens per nag en Nam80 vir kinders onder 12.

Ons laat was sommer ons klere ook by hulle.

Later die middag ry ons so ‘n bietjie rond. Ek het ‘n paar paadtjies op Tracks 4 Africa gesien wat ons tot reg langs die Zambezi rivier gaan vat. Dis waarnatoe ons nou op pad is. Ons ry by ‘n paar verlate ouerige huise verby. Ons ry so ‘n entjie voor Kobus en Karin. Die volgende oomblik kry ek ‘n baie benoude oproep oor die radio. Daar is probleme by Kobus hulle, ons moet omdraai. Ons ry dadelik terug. Daar gekom sien ek hier staan ‘n man met ‘n yslike geweer by Kobus se venster. My bloed word eers koud. ‘N Klomp gedagtes gaan deur my brein. Is dit dalk ‘n ou soldaat wat nog teen ons geveg het in die bosoorlog in Suidwes wat nog ‘n vendetta teen ons het? Maar dis toe nou niks so dramaties nie. Nadat ons hom verduidelik het ons is net hier om die rivier te sien raak hy baie vriendeliker. Sy naam is Matenga, sy vriend Pollack kom ook later daar aan met sy mokoro. Hulle is selfs so vriendelik en poseer vir fotos. Hulle wil eers geld hê vir die poseer, maar ek verduidelik vir hulle ek is ‘n professionele fotograaf en mense betaal my eintlik. Haha. Hy stem toe in dat ek hulle verniet afneem as ek net vir hom die foto whatsapp. Karin gee vir hulle ‘n pakkie koekies, net te bly sy lewe nog.

Die Magtige Zambezi

Die tweede middag bespreek ons ‘n 2 uur motorboot rit op die Zambezi, en wat ‘n ervaring.

Dit kos ons Nam 250 per persoon, maar dit was elke sent die moeite werd. Wanneer jy op die rivier vaar en jy kyk links kyk is dit Zambië en regs is Namibië.Die middel van die rivier is die skeidslyn tussen die twee lande. So party van die eilandtjies is Namibië eilandtjies en party is Zambië eilantjies. Oral langs die rivier is daar klein groepies hutjies aan die Zambië kant. Dis skynbaar mense wat maande lank in die binneland bly en saai en beeste aanhou en dan kom bly hulle weer ‘n paar maande langs die Zambezi en maak hulle lewe uit visvang met hulle mokoros en nette. Die mokoros word van die jackalberry boom gemaak.

Gepraat van eilandtjies. Skynbaar is van die gras en weiding op die eilandtjies baie voedsaam. Van die mense aan die Namibië kant sal dan hulle beeste laat deur die Zambezi swem en op ‘n eiland laat bly vir ‘n ruk om daar te wei. Hoe hulle met die krokodille maak weet ek nou nie. Die beeste het seker vinnig leer swem.

Ons sien ook ‘n monster krokodil. Hy steur hom nie aan ons nie, hy weet hy is die “top of the foodchain” hier rond.

Ek is innerlik bly ons is in ‘n motorboot en nie in ‘n mokoro nie, daardie bootjies lyk vir my of hulle maklik kan omslaan, en dink jou nou in dit gebeur hier voor Oom Krokodil. Eish!

Met sonsondergang is ons nog op die boot op die “mighty Zambezi” wat ‘n ongelooflike 2 ure.

Die aand maak ek, of kom ek herhaal, PROBEER ek brood maak in my nuwe “cast iron” brood potjie. Dit draai kliphard uit. Die ape het dit darem baie geniet.


Woensdag 11 Julie 2018 135km


Kasane: Kubu Lodge

Ons twee dae kuiertjie in Namibië het tot ‘n einde gekom, en ons is op pad uit by die Ngoma grenspos. Wat interessant is is dat waar jy by die Mohembo grenspos in Namibië ingaan ry jy in ‘n nasionale park in, En wanneer jy by die Ngoma grenspos weer in Botwana ingaan ry jy ook direk in ‘n Nasionale park in.

Ons gaan nou die volgende 2 aande by Kubu Lodge kamp.

Ons gaan die middag weereens op ‘n boot rit op die rivier. Dis hier by Kasane waar die Chobe rivier in die Magtige Zambezi rivier invloei. Die Zambezi is die 4 de langste rivier in Afrika.

Dis natuurlik ook hier waar 4 lande mekaar ontmoet. Zambië, Botswana, Namibië en Zimbabwe.

Ek moet eerlik wees ek was nie baie beindruk met Kasane nie, dis nie my tipe plek nie. Dis regtig ‘n klein vuil grens dorpie. Lange stringe trokke wag om oor die grens erens heen te ry of kom nou net van erens af. Gemors en vuilgoed lê oral langs die pad. Daar is ‘n lughawe en natuurlik die twee riviere. En dit maak dat die omgewing en rivieroewers besaai is met lodges en hotelle. Hierdie is nie nou meer  die Zambezi van Caprivi Mutoya Lodge waar jy hier en daar iemand se strooi hut sien nie. Dit veroorsaak 1000 besoekers van oral in die wereld. Daar is letterlik 100de bote op die rivier wat mense heen en weer vervoer om diere te sien. Die kere wat daar ‘n olifant of buffel langs die water was was daar binne oomblikke tientalle bote wat die dier omring, dis net kameras waar jy kyk. Ek dink die olifante voel seker ‘n bietjie soos ‘n rolprentster op die rooi tapyt by die Oscars. Elke oomblik word afgeneem. Nie vir my nie dankie. Hier bly ek nie weer oor nie.

Ons boot “kaptein” was ook definitief op iets wat hom op ‘n “high” sit. Sy oë was rooi en hy het baie stadig gepraat en beweeg. Dit skep nou nie baie vertroue as so ‘n ou jou op die rivier vat nie.  Ek het ook my gunsteling CRKT mes in die boot vergeet, toe ek dit die volgende oggend gaan soek het ek ons kaptein by die boot gekry, al die vuilgoed was nog steeds in die boot, maar my mes nie meer nie.

Ons het ook ‘n probleem by die kampplek gehad. Ons het een aand laat net ‘n hengse lawaai en iemand wat praat oor luidsprekers gehoor. Dit het tot sommer 1 uur 2 uur die oggend geduur. Die een oggend het dit hier teen 3:30 weer begin. Dit was so erg dat jy nie kon slaap nie. Ons dog toe dis ‘n sport kroeg of so iets langs die lodge.  Toe ons gaan kla sê hulle toe vir ons dis ‘n nuwe kerk oorkant die rivier aan die Namibië kant. Hulle kan niks daaraan doen nie. Ek weet wat kan daardie “pastoor” met sy mikrofoontjie maak….


Donderdag 12 Julie 2018: 82 km


Victoria Waterval

Vandag is dit ons en die wêreldbekende Victoria watervalle.

Ek het vanoggend voor ons valle toe ry mos eers my mes gaan soek wat ek in die boot verloor het. Op pad Kasane toe ry ek toe langs die pad verby drie uitgeroeide buffels wat langs die pad staan en wei. Sommer net so 1m van die teerpad af. Seker so 500m verder ry ek toe by twee omies verby, wat draf, lyk soos Britse omies, en hulle draf in die rigting van die buffels. Ek weet nie wat het so ‘n paar minute later gebeur toe hulle die buffels raakdraf nie, maar daar was darem nie ambulanse langs die pad toe ek terugry nie. Maar ek is seker hulle het bietjie vuil broeke en so aan gehad om te was…

Ons maak ontbyt en Miya speel met van die mak bokkies wat in die kamp rondloop en voer hulle koekies.

Die oggend is ons vroeg vroeg weg om deur die grens te kom. Ons is eers deur die verkeerde grenspos, Kobus was al uitgeboek uit Botswana op pad Zambië toe toe ons agterkom dis nie nie die Zimbabwe grenspos nie. Die twee grensposte van Zambië en Zimbabwe is hier nie eers 2 km uitmekaar uit nie. Die trokke staan in lang rye oral en wag geduldig om deur die grens te kom. Ek dink ons is seker nou naby aan waar die 4 lande bymekaar kom. Dis natuurlik Botswana, Zambië, Zimbabwe en Namibië. Die grenspos is natuurlik baie besig, almal is op pad na die Victoria valle toe, na so ‘n uur of wat is ons deur die grens en ry ons die 82 km sommer saam in Kobus se Fortuner.

Kobus is baie siek vanoggend. Hy het net ‘n marmite broodtjie ge eet vanoggend vir ontbyt.

Ons gaan drink eers ietsie by ‘n restaurant/cafe in die dorpie Victoria Falls. Ja, die dorpie en die waterval het dieselfde naam. Die koffie en tee drinkery het nie goed vir Karin gegaan nie. Die waitress het ‘n hele koppie tee op haar skoot laat uitval. Dit was die eerste en laaste keer wat ek Karin kwaad gesien het. (Ek is nie seker hoe groot was die “tip” wat Karin eventueel vir haar gelos het nie.)

“The smoke that thunders” word beskou as die wereld se grootste waterval. Om dit as indrukwekkend te beskryf is nie waar nie. Daar kort nog ‘n hele paar woorde om te beskryf wat ‘n ongelooflike ervaring dit is om die Zambezi oor die valle te sien stort. Ek sal elke keer wat ek in die omgewing is die Victoria valle besoek, so mooi is dit.

Ons het reënjasse gehuur, maar was nog steeds papnat. Kobus hulle het sommer plastiek sakke gedra, dit was definitief die beste keuse.

Terug van die valle af ry ons die middag in Kasane toe en gaan eet ‘n Nando’s. Terug by die kamp “polish” ons ‘n blik perskes en vla. Jisterday. Ons moet regtig begin minder eet as ons op vakansie is.


Vrydag 13 Julie 2018: 249km


Elephant Sands

Nadat ons ‘n lekker rou “pie” langs die pad gekoop het vat ons die pad Elephant Sands toe. Ons is almal baie opgewonde om daar oor te slaap.

Ons ry op die A33 in ‘n min of meer suidelike rigting.

By Pandamatenga is daar groot silos. Hier word die bordtjies langs die pad wat jou gewoonlik waarsku teen Olifante vervang met bordjies wat jou waarsku teen laagvlieënde vliegtuie.

Die hoeveelheid landcruisers in Botswana is verstommend. As jy hier ‘n Toyota garage het is jy definitef van die ryker mense.

Ons is by die vetfence so 8km voor Elephant Sands voorgekeer. Hulle lê beslag op al Kobus en Karin se vleis, en tamaties. Ek dink hy kon nog die verlies van die vleis hanteer, maar die tamaties was die gatslag. Dankie tog vir boelie beef. Vanaand is daar nie braaibroodtjies en vleis vir Kobus hulle nie. Hulle gaan sommer braaiboelies eet.

Elephant Sands is toe alles wat ins gedink het dit gaan wees. Die plek is basies ‘n dam met water wat omring is deur ‘n groot lapa en verskeie tenthuise. Olifante kom dan deur die dag en nag aangestap en kom drink hier water en speel in die modder reg voor jou. Wat ‘n belewenis. Hulle steur hulle nie eers aan ons nie. Hulle weet duidelik wie is eintlik in beheer.

Ons gaan ry ook bietjie rond op die plaas en ontmoet ‘n man en sy 5 hondtjies in sy…reg geraai, Landcruiser langs die pad. Hy het 5 hondtjies by hom, en ‘n vriend. Sy naam is Ben. Hy moet seker die eienaar wees. Hy beduie ons na twee mooi panne daar naby en ons ry soontoe. Reg langs die een pan is daar sulke klein tentjies wat jy kan huur en in oornag langs die water. Die olifante staan dan net hier langs jou en drink. Ek dink nie hierdie is vir my nie. Ek is so bietjie skrikkerig vir ‘n Olifant, ek verkies om in iets te sit wat vinniger kan ry as wat hy kan hardloop. En wat van as jy in die tent sit en daar is ‘n trop olifante rondom jou, en jy moet toilet toe gaan? Nee wat.

Ons eet die aand chicken steaklets met rys, aartappels en Peper sous. Te lekker. Kobus hulle eet natuurlik, “drumroll” Boelie bief!


Saterdag 14 Julie 2018: 881 km


Ons ry huis toe.

Ons staan 05:00 op en gaan stort. Maak lekker koffie en maak die Stanley fles vol. (My verjaarsdag present)

Sit vir Miya in die kar, en daar gaan ons. Miya raak toe sommer dadelik wakker.

Ek sê: “ Miya is nou so wakker soos ‘n akker”

Miya van agter af:

“‘n Akker kan nie wakker word nie pappa”

En sy is natuurlik reg, en ek sê dit my hele lewe nog.

Krap kop.

‘n Oulike ding wat ons die vorige aand by ‘n mede kampeerder gesien het:

Dis ‘n lig wat bo op ‘n “telescopic handle” is. Dis dan aan die kant van sy treiler vas en steek hoog die lug in. Die lig is verbind aan ‘n motion sensor in die treiler en ‘n buzzer wat afgaan wanneer die lig aangaan. Oulike idee, hy het dit op Kamp-Mal gesien en gekoop. Ek weet net nie wie skrik die grootste as ‘n Olifant die aand die ding laat afgaan nie. Die Olifant van die buzzer en lig of jy as jy die Olifant langs jou treiler sien. Hmmmm.

Ons gaan deur die grens. 5 min deur aan die Botswana kant, en die SA kant is ‘n absolute “bolls up”

Uur en 15 min.

Lekker vakansie gewees. Saam met die beste mense ooit.

Kobus en Karin.

Ons gaan nog baaaaaie saam kamp!

Die roete wat ons gery het.

Totale afstand gereis: 3622km

TAGS
RELATED POSTS