Elke dag

Dag 0: 17 Nov 2019 – Die Begin

By
on
17/11/2019

Eintlik skryf ek die blogpost die dag nadat ek die idee gekry het om elke dag iets te skryf en persoonlik af te neem. So toe ek die fotos geneem het het ek nog nie besluit om dit te doen nie.

En dis hoe Surika en ek baie van ons vrye tyd deurbring (nie dat daar so baie vrye tyd is nie) Ons lê langs mekaar op die bed, elkeen met sy eie Ipad, en kyk waarvan ons hou. Ek hou daarvan om iets oor fotografie of oor reis (meer spesifiek 4×4) te kyk. Ek het letterlik 100de mense wat ek volg op You Tube. Ek kan nie eers almal se videos kyk nie, dis net te veel. Surika is tans besig om Rust Valley Restorers op Netflix te kyk. Daar is natuurlik niks daarmee verkeerd nie. Dis lekker onttspannend. Maar dit het my laat dink. Dis die tyd waarin ons lewe, ons is so besig om ander mense se lewens wat interessant is te volg, ons werk nie meer aan ons eie interessante lewe nie. Ons skep nie meer vir onsself iets soos die mense wat ons volg nie. “They are living the life…and we are also living their life!” Wel, ek wil nou my eie lewe lei en ding doen wat vir my interessant is, ek gaan myself forseer om elke dag iets te skryf, en my kamera saam met my ronddra en ‘n paar persoonlike fotos neem.

Miya is nou op die kitaar fase. Sy wou eers karate begin doen soos Amy. Maar Miya is nie regtig die karate tipe nie. So Surika het voorgestel sy moet eerder haarself kitaar leer speel. Miya het nou Surika se kitaar boek, en elke dag oefen sy ‘n baie drukke. Ons sal maar sien hoe lank dit hou. Ek onthou ek het destyds vir ‘n lang tyd, ek dink ‘n paar maande (alhoewel dit soos jare voel) kitaar lesse geneem by Mike Barker in Pietersburg. Ek was toe in die koshuis en kon die een keer ‘n week afkry by die middag studie sessie. Dan vat ek my kitaar in die swart plastiek sak en stap na Mike se kantore toe vir my weeklikse les. Ek onthou ‘n leë kamer, met geen gordyne voor die venter nie, en twee stoele daarin. Op die tweede of derde vloer van die gebou as ek reg onthou. Die idee van kitaar speel was eintlik vir my groter as om die “effort” in te sit. Ek het nie my oefeninge gedoen nie, en het nooit net tyd spandeer aan die kitaar spelery nie. Maar my pa-hulle het die kitaar gekoop, en vir die lesse betaal. So ek kon nie net ophou nie. Hulle het geld spandeer hieraan en ek moes begin winste wys. Wat toe nou nooit gebeur het nie. Ek het ge “suck” as kitaar speler. Dis nie my ding nie. Ek moes later maar aan my ouers erken dat ek nie hou daarvan nie. En dat ek eintlik hulle geld gemors het. Eintlik moet mens in die lewe net doen wat jy wil doen. Besluit waarvan jy REGTIG hou en DOEN dit!

Ons het gister ‘n troue gehad by Red Ivory, en vanoggend twee afsprake met kliente wie se troues ons eersdaags afneem, daarna het ek twee studio shoots gehad. Nou is dit sulke tyd. Die res van die dag net lekker ontspan, braai (piri piri hoender vandag saam met Surika se “famous” braaibroodtjies) en so ‘n whisky of drie.

TAGS
RELATED POSTS