Vakansies

Langebaan – Des 2018

By
on
08/01/2019

21 Desember 2018. Ons is op pad Langebaan toe. Ons gaan vir Dirk en Marissa kuier. Hulle het so ‘n paar maande terug soontoe getrek, en vir 2 heerlike weke gaan ons by hulle bly en bietjie die Wes Kaap verken. Ons eerste stop is in Beaufort Wes. By Nuwe Begin. Dis hier waar my seun Bertie al die laaste 8 maande bly. Nuwe Begin is ‘n plaas net buite Beaufort Wes, Jannie Engelbrecht en sy vrou Helena kyk hier na ‘n paar jong manne wat probeer om van die hel van verslawing ontslae te raak.

Dis Bertie se tweede keer hier. Die vorige keer was hy 6 maande hier. Maar dit was nie lank genoeg nie. Hy het weer Heroien begin gebruik. Die keer gaan ons hom ‘n jaar lank hier hou.

Dis laatmiddag toe ons op die plaas stop. Ons word gul verwelkom deur Jannie en Helena. Dit voel baie snaaks om hulle nou eers te ontmoet. My seun bly al langer as ‘n jaar in hulle huis. Hulle word saam hom wakker en gaan slaap saam hom, gee hom kos, gesels met hom en verander stadig sy gedagtegang van ‘n negatiewe na ‘n positiewe. In meer as ‘n jaar in hulle huis het hulle hom sien groei van ‘n volslae dwelmverslaafde na ‘n verantwoordelike jong man met ‘n toekoms voor hom. En ons het voor vandag nog net oor die telefoon met mekaar gesels.

Bertie gaan wys ons trots die perde. Dis sy werk om na hulle te kyk, hy doen dit al maande lank en die eienares van die perde gee vir hom ‘n geldtjie elke maand vir sy werk. Daarmee koop Bertie alles wat hy nodig het by Nuwe Begin. Ons betaal net die maandelikse fooi vir verblyf en kos.

Laat middag gaan stap ons en kyk na die pragtige sonsondergang. Wat ‘n voorreg om dit elke dag te kan sien. Hoekom lyk die sonsondergange in plekke soos die Karoo en die Kalahari soveel beter as sonsondergange in die stad? Of sien ons dit net nie raak in die stad nie?

Die aand braai ons almal saam ‘n vleisie en gesels soos mense wat al jare lank vriende is. Ek is dankbaar dat my seun hier is, en ek besef dat hy heel waarskynlik vandag nog lewe as gevolg van die “effort” wat hulle hier in hom insit.

Die volgende oggend staan Surika, Miya en ek op voor sonsopkoms. Daar is ‘n klein koppie op die plaas en ons wil die son sien opkom van daar af. Surika wil ook bietjie die drone vlieg.

Dis ongelooflik stil…en mooi. Ons sit vir ‘n lang ruk net stil en ervaar die omgewing. Miya sit en teken ons gesin op ‘n klip. Gert Vlok Nel se bekende liedtjie “Beautiful in Beaufort Wes” speel in my kop. Dis inderdaad “beautiful” hier in Beaufort Wes.

Ons stap terug plaashuis toe, verby Bertie se perde, verby die pragtige tuin wat Helena hier geskep het uit niks uit nie. Op die grond l├¬ ‘n klip in die tuin wat s├¬: “Hoop”

Dis wat hierdie mense vir my en my kind gegee het. Hoop.

Dankie Jannie en Helena.

Miskien sien ons mekaar nooit weer nie, maar ek sal julle altyd onthou.

Een van die heel spesiaalste plekke in my hart is vir julle.

Ons s├¬ totsiens met ‘n swaar hart, dis nooit lekker om jou kind ├¬rens te los nie. My hart s├¬ vat hom saam Kaap toe vir die vakansie, my brein s├¬ vir my die is nou die beste plek waar hy kan wees. Hierdie mense beteken nou meer vir hom as wat ek doen.

Ons ry verder. Leeu Gamka, Laingsburg. Anderkant Touwsrivier draai ons regs op die R 46. In Ceres is dit net mense waar jy kyk. Almal wil hulle laaste kersfees inkopies kom doen. Ons stop en neem ‘n foto in die pragtige Michell’s pass.

Wolseley, Gouda, deur Riebeeck Kasteel.

Surika slaap maar die laaste 100 of wat km’s.

Moorreesburg, langs Hopefield verby.

Vroegmiddag stop ons voor Dirk hulle se huis in Langebaan Country Estate. Ai, dis lekker om weer my broer te sien. Ons het die laaste paar jaar baie nader aan mekaar beweeg, en ek mis hom altyd as ek hom nie gereeld sien nie.

Laatmiddag (vroegaand) gaan ons see toe. Mens moet darem gaan Hallo sê. Ons is hier see!

23 Desember

23 Desember, Surika se verjaarsdag. As jy my vrou wil “treat” sorg dat jy haar met haar verjaarsdag by die see het.

Ons begin haar verjaarsdag met ‘n koek wat Dirk en Marissa vir die “birthday girl” gekoop het.

Daarna gaan ons na die hawe toe. Dirk-hulle het onlangs ‘n boot gekoop, Bella, en hulle gaan ons bietjie op die see uitvat.

Dis ‘n pragtige boot, en ek is SO trots op my broer dat hy een van sy drome verwesenlik het. Lees bietjie hier die storie van sy droom.

Ons het ‘n heerlike oggend uit op die see, almal geniet dit baie, behalwe Timothy, hy is maar lekker seesiek.

Maar dis Surika se verjaarsdag, en tyd om dit behoorlik te vier. Ons gaan kry ‘n lekker sitplek by Marc’s Beach Bar met ‘n see uitsig, en bestel vars seekos, en natuurlik ‘n paar shooters. Ons het Surika se verjaarsdag GOED gevier!

24 Desember gebeur daar nie veel nie, ons ry maar bietjie rond, koop kos en verken die plek. Ons koop darem ‘n bossie bokkoms, maar dis so rou en sout, ons het dit later weggegooi!

25 Desember – Kersfees

Vandag gebeur daar nog minder. Ons gaan ry nie eers rond nie. Sit net by die huis en muf en kuier. Ek moes my Google timeline nagaan om seker te maak ons het niks gedoen nie, en ja, ons HET net by die huis gesit…en bietjie gaan rondstap op die golfbaan!

26 Desember

Vandag ry ons bietjie Paternoster toe. Ons stop eers in Vredenburg by die mall om vir Surika ‘n K Way baadtjie te koop vir die koue aande wanneer ons op die strand gaan stap.

In Paternoster stap ons sommer net deur die strate en winkeltjies en gaan eet later ‘n lekker middagete by die Paternoster Hotel.

27 Desember

Vandag is ons weer met Bella uit. Dit was weereens baie lekker. Maar…

Die terugkom slag in die hawe in het amper katastrofies vir my ge eindig. Dirk het netjies in manoeuver in sy plek in waar sy boot ge anker word. Ek het voor op die boot gesit en moes die boot stadig nader trek die laaste entjie tot teen die kaai. Iets het egter verkeerd gegaan met die ratte van die boot, en toe Dirk vir Bella in “Reverse” wou sit, toe hak sy vas in vorentoe en pyl op die kaai af. Ek het nog my voet so halfhartig uitgestoot om die boot te probeer stop maar besef as die boot die kaai tref met my been tussenin kyk ons na ‘n knievervanging. Ek het toe maar my been teruggetrek en Bella is teen die kaai vas. Skade gehad, maar darem nie TE erg nie. Maar as dit my boot was wat ek nou net oorgedoen het sou ek ook nie gelukkig gewees het nie.

Daarna ontdek ons Pirates Bar en Oven. Dirk hulle se uithang en kuier plek. Ons sou nog baie die vakansie daar gaan draai.

28 Desember – Weskus Nasionale Park

Vandag is ons in die Weskus Nasionale park in en ons het al om die lagoon gery so ver as wat ons kon.

Toe ons nie verder kon ry nie het ons langs die see gaan stop, ‘n paar sambrele opgeslaan, hotdogs ge eet en ek het met ‘n paar lang exposures geeksperimenteer.

Ons het by Kraalbaai in die lou water gaan rondloop.

By Shark Bay het ons gestop en gekyk hoe die mense kite surfing doen. Hoe die klomp nie in mekaar vasseil nie weet nugter alleen.

Daarna is ons na die Yact Club toe waar ons ietsie gaan eet het.

En Dirk het sy dag afgesluit met ‘n haarsny!

29 Desember – Saldanhabaai

Ons ry vandag bietjie uit Saldanhabaai toe en gaan na die hawe toe. Hier is ‘n paar ou bote, party nog seevaardig, en ander staan net hier en oproes. Oral is seemeue wat op hulle nessies sit en eiertjies uitbroei. En hulle raak kwaai as jy te naby kom hoor.

Hier is ‘n boot wat gesink het in die hawe…terwyl hy nog vasgemeer was

Ons gaan eet ietsie by ‘n plekkie met ‘n lekker uitsig op die hawe.

Ons ry later die middag ook deur na Jacobsbaai toe. Hierdie is ‘n vreelike mooi plekkie, en ons besluit om later weer terug te kom en tyd hier te kom spandeer en fotos te neem.

Hier is ‘n stuk van die reuse “barge” wat in 2009 op die rotse geloop het in Jacobsbaai. Die barge was onderweg van China waar dit gebou is na Rotterdam met sy vrag van R300miljoen. Die barge het losgeraak van die skip wat dit gesleep het. Die eienaars het maande lank teen ‘n koste van R21miljoen probeer om die barge van die rotse af te kry, sonder enige sukses. Hy het ophou probeer toe hy uit geld uit hardloop. Die “barge” is toe opgeblaas en aan die genade van die see oorgelaat. Stukke van dit is nog hier sigbaar. Hier is ook die kruis van Charles Michell, een van die plofstof deskundiges wat dood is ten tyde van die operasie. Lees meer oor die Barge Margaret hier en hier

30 Desember – Die wynroete

Dylan en Amber het ook kom kuier, en Dirk en Marissa vat ons vandag op ‘n wynroete. Ons sien nou al laaaank uit na die dag. Maar daar was net een probleempie. Ondanks ‘n 219 km sirkelroete, het ons nie een wynplaas oopgekry nie.

Maar ons was darem by Pieter Dirk Uys se plek in Darling. Evita se Perron.

Ons het by die Darling brewery gaan bier proe.

En by hierdie Take away verby gery. Ek weet nie of ek hier sal vis koop nie. Ek het nogal van Nemo gehou, ek weet Miya sal definitief nie iets eet wat hier gemaak word nie

Ons het later by ‘n wyn proe plek ingedraai, net om agter te kom die plek is reeds gesluit. Ons het darem tyd gehad om die stukkie wysheid teen die muur te lees.

En Dirk het vir Timothy hulle gewed vir R1000-00 hulle sal nie die trein gestoot kry nie, hulle het toe. Het jy al betaal Dirk? haha

Daarna het ons in Riebeeck Kasteel gestop en by ‘n baie oulike restaurantjie ietsie ge eet.

31 Desember – Jacobsbaai

Die laaste dag van 2019. Dirk hulle en ons het verskillende visies gehad van wat moet gebeur. Hulle was lus vir kuier, en ons wou net rustig wees. Hulle het toe uiteindelik na ‘n dress up partytjie toe gegaan, en ons is Jacobsbaai toe om die sonsondergang af te neem.

Dit was ONGELOOFLIK lekker. Ons het seker vir twee ure op die rotse rond geklouter en fotos en video geneem. Hier sit Surika en kry ‘n lekker “shot” van ‘n ho├ź rots af.

Ons het ook op die strand rondgeloop en na Steve Hofmeyer se le├ź hotel gaan kyk. Mens kan nie dink dat ‘n plek met so ‘n ligging dit nie gemaak het nie. Maar nou ja. Miya het dit geniet om met haar kersfees kite op die strand te vlieg. Surika het dit net so baie geniet. Kersvader moet maar volgende jaar vir Surika ook ‘n kite gee vir kersfees as sy soet is in 2019.

Ons sien ook die mees modernste windpomp wat ek nog gesien het.

Ons sit verder tot en met sonsonder op die rotse, en neem 100 de fotos. Daar is nie baie plekke met so ‘n mooi uitsig nie. Die tipe plek maak my sommer rustig.

Dis donker toe ons by Langebaan Country Estate aankom. En dis net hier, op die laaste aand van die jaar, dat die eienaardigste ding van die vakansie met ons gebeur.

Toe ons die draai vat na Dirk hulle se huis toe sien ons al die ligte is aan in hulle huis en die musiek speel kliphard. Ons was baie verras, Dirk hulle moes lankal al gery het, Wat gaan nou hier aan?

Toe ons egter in die garage in ry is alles doodstil, die musiek is af. Toe ons die deur tussen die garage en die huis oopstoot kom ons ook agter dis pikdonker in die huis. Ons het van kamer tot kamer geloop. Daar was niemand in die huis nie. Dirk het later vir ons vertel die man by wie hy die huis huur se vrou is dood terwyl hulle die huis gebou het en hyself het toe ook nooit daar ingetrek nie maar eerder die huis verhuur.

Ons braai die aand ‘n vleisie en vat vir die sekuriteitswag by die hek ook braaivleis. Dis darem wragtag darem seker nie lekker om op oujaarsaand by ‘n hek te sit terwyl almal kuier nie.

1 Januarie – Nuwejaarsdag

Nuwejaarsdag, en ons bring dit deur op die manier wat seker 90% van Afrikaanse mense dit deurbring. Ons braai, en eet, en eet, en eet!

En ons stuur nuwejaarswense uit vir al ons vriende met die foto wat ek die vorige dag geneem het by Jacobsbaai van Surika, Miya en Timothy. Dis Miya se kunswerk voor hulle op die strand.

PS: Let op, Surika met Miya se kite!

2 Januarie – Kaap toe.

Vandag gaan weer ‘n groot ondekkingsdag wees. Ons gaan Kaap toe ry. Ons stop eers langs die pad by Route 27 en eet van hulle heerlike roosterkoeke.

Dirk hulle en ons ry weer aparte rigtings vandag, hy wil goed vir sy boot gaan soek en ‘n windsurfer by ‘n man gaan koop, en ons wil rondrits en die Kaap verken. Ons kom nou nie so baie hier soos hulle nie.

Eerste op ons agenda is ‘n besoek aan die Kasteel. Ek was jare laas hier, en dis net so indrukwekkend as destyds. Dis moeilik om te glo die gebou is al in 1679 gebou. Vandag is dit die oudste gebou in Suid Afrika.

Die Kaapse Klopse gaan op die parade optree en die verkeer in Kaapstad se middestad is ‘n nagmerrie. Ons sukkel ons dood om uit die middestad uit te kom. Daarna ry ons teen Signal Hill uit, die uitsig is ongelooflik. Ons sien ook vir Robben Eiland. En koop peperduur roomyse. Hierdie roomysverkoper wil nie eers ryk wees as hy die dag oud is nie.

Ons ry al langs die kus af. Deur Kampsbaai. Tussen Bakoven en Llandudno stop ons langs die pad en stap af na Cosy beach toe.

Ons ry verder na Houtbaai se hawe toe, ons is nou al lekker honger. Ons stop by Fish on The Rocks en eet seker die lekkerste vis en chips takeaways wat ek nog geet het, of miskien was ek net honger?

Op Pad terug Langebaan toe stop ons by Melkbosstrand, ons moet darem net een van daardie fotos kry van ons met Tafelberg in die agtergrond. Ons wou nog vandag by Tafelberg opgaan, maar die wind was te erg en die kabelkarretjie was gesluit! Die fotos sal nou maar moet doen.

Ons ontmoet vir Dirk hulle by Pirates, en kuier bietjie daar.

Die aand maak ons snacks, en drink wyn, en luister musiek. Elkeen kry ‘n beurt om een van sy/haar favourite songs te speel.

3 Januarie – Weskus.

Ons was in Des 2011 laas in die Kaap, Ons het toe in Velddrif gekamp. Een middag laat het ons opgery langs die see op pad Dwarskersbos se kant toe en op die lekkerste kuierplek langs die see afgekom. Hier is ons fotos van die kuiertjie daardie middag by die restaurant.

Vandag gaan ons weer daardie plek soek. Ons het dit toe gekry, maar hulle het dit nou omskep in ‘n baie “mooier” restaurant wat van stene gebou is. Ons was nogal teleurgesteld. Die plek het nou vir ons daardie lekker “feeling” wat hy destyds gehad het verloor. So verander dinge maar in die lewe, en dit raak nie noodwendig altyd beter nie.

En dit was ons laaste dag by Dirk hulle.

4 Jan 2019 – Op pad terug

Vandag vat ons weer die lang pad huis toe, maar nie op die gewone roete terug Gauteng toe nie, ons wil bietjie iets nuuts sien. Ons besluit dus ons gaan die eerste dag net ry tot by Nieuwoudtville, so 311 km van Langebaan af.

Ons ry weer langs die Weskus op, weer deur Velddrif, en ons eerste stop is by Elandsbaai. ‘n Pragtige rustige klein kusdorpie. Ek wil definitief eendag nog hier kom kamp.

Ons het bietjie uitgeklim by hulle karavaan park en gaan rondloop.

Hier is so ‘n stukkie video van Elandsbaai se “sentrale sakegebied” Hier gaan nie veel aan nie, presies die tipe plek waarvan ek hou.

By Elandsbaai sê ons totsiens vir die see en druk die Elantra se neus binneland toe.

Ons ry deur Leipoldtville en Graafwater, by Clanwilliam se dam draai ons links. In Klawer stop ons en koop biltong by Trawal Biltong.

Dan die laaste entjie Nieuwoudtville toe. Hier is ‘n stukkie video van die pad so 40 km voor Nieuwoudtville. Ek is mal oor hierdie tipe landskap.

Ons ry by die uiters indrukwekkende Vanrhynspas op. Die pas is in 1880 deur Thomas Bain gebou en in 1963 geteer. (Ek is baie bly ek moes nie die pad gery het toe dit nog grondpad was nie) Die pas is 8 km lank en bereik ‘n hoogte van 900m. Dit het ‘n maksimum helling na 1:9. Ons besluit dadelik ons gaan vanaand met sonsondergang weer hier kom fotos neem.

Net anderkant die pas bo op die Bokkeveld plato is Nieuwoudtville. Dis die begin van die Hantam Karoo, Boesmanland en die Knersvlakte. Ons verken die dorpie. Dis maar stil hier die tyd van die jaar, maar skynbaar is die plek volbespreek in die blomtyd.

Ons het nogal lekker gelag vir die boodskap by Antjie se eetplek.

Ons koop vir ons voorraade by die plaaslike Spar.

Ons bly in die oulikste huisie wat ons huur vir die aand, en braai ‘n paar skaaptjoppies op die vuur wat ons by die plaaslike slaghuis gekoop het. Ons probeer ons biere koud kry deur dit in ‘n pot met ys te sit in die diepvries.

Nadat ons gebraai het ry ons eers weer terug Vanrhynspas toe om die sonsondergang af te neem.

5 Januarie – Orania

Vandag se pad is bietjie langer, ons wil vanaand in Orania slaap, maar ons moet nog slaapplek daar kry. Daar lê so 646 km se teerpad voor ons.

Ons ry deur Calvinia en Williston. Hierdie is pragtige wêreld, maar ook baie droog.

Ons ry by die plaas Rietbrak verby. Hier is my klein storie gesinspireer deur die plaas bordtjie.

In Carnarvon stop ons vir middagete by die Karoo Smul Coffee Shop. Ons ontmoet ‘n baie oulike man en sy ma wat saam op vakansie is. Ons eet sommer middagete saam hulle. Hulle bly baie naby aan ons in Pretoria. Ongelukkig verloor ek sy nommer en kan hom nie bel toe ons terugkom in Pretoria nie.

Die pad is warm, en die omgewing verskriklik mooi.

In die tussentyd bel Surika aanmekaar om ‘n plek te kry in Orania om by te slaap die aand. Ek dink sy het seker 20 plekke gebel. Eventueel kry ons darem ‘n plek om by te bly so ‘n paar km uit die dorp uit op ‘n plaas langs die Oranje rivier. Ek moet eerlik wees. Orania het my nie beindruk nie. Ons kon skaars vleis braai by ons blyplek so baie miere is daar. Die mense se klein seuntjies hardloop kaalgat die hele plek rond. (My dogtertjie van 9 is saam met ons) Daar is n├¬rens plek om geld te trek nie. Die garage was toe en ons kon nie petrol ingooi nie, nie die aand toe ons daar aankom nie en ook nie die volgende oggend nie. Die enigste winkel wat oop was het nie ‘n groot verskeidenheid goed gehad wat hulle verkoop nie. Ek dink nie ek sal gou weer hier kom kuier nie.

6 Jan – Die laaste rit huis toe.

Ons is vroeg weg uit Orania vanoggend. Daar lê vandag 738 km voor ons. Ons het eers in Hopetown petrol ingegooi (Oranie se petrolstasie was mos toe) Dit was vir my so oulik, in die klein dorpies verkoop hulle nog die koeldrank aan die buitekant by die petrolpompe, net soos in die ou dae. Baie van die dorpies se garages het nie die moderne winkels waar jy alles in kan koop wat jy in die stad gewoond is nie. En die petroljoggies hier rond groet jou in Afrikaans.

Hier rond sien jy baie van die plekkies langs die pad waar jy kan aftrek en iets kan eet. Dit laat my terugdink aan vakansies saam met my ma en pa in ons Blou Valiant Regal en ons 13 Voet Jurgens karavaan. Mens sien dit nie meer baie vandag nie. Ek onthou hoe het my ma altyd vir ons lekker toebroodtjies, eiers, frikadelle en hoenderboudtjies gemaak en in foelie toegedraai en in haar groot wit Tupperware bak gesit. Ons het dan by een van die plekke langs die pad gestop en iets ge eet. Mamma het dan ook ons geel termos fles uitgehaal met lou koffie in en vir almal geskink. (Daardie tyd het die termosflesse nog nie die koffie lekker warm gehou nie) En almal wat by jou verbyry toet en waai vir jou.

Dirk en Marissa, dit was ‘n ongelooflike lekker vakansie, ons het dit so geniet saam met julle. Dankie vir al julle liefde en opofferings.

TAGS
RELATED POSTS