Elke dag

Miya se eerste “date”

By
on
18/11/2019

17 November 2019

Miya is nou 10 en in Gr 4. Hulle skool het ‘n sokkie vir alle kinders en lyk my die mode is nou dat jy iemand uitvra. Miya is nog nooit uitgevra erens heen nie (alhoewel sy darem so ‘n jaar terug ‘n blom gekry het by ‘n outjie) So ek was baie nuuskierig, en bekommerd, oor wat hier gaan gebeur. Wat gaan my arme kind doen as niemand haar uitvra nie? Gaan dit dalk haar selfvertroue knak? Wat van as ‘n klein windgat haar uitvra? En so het die gedagtes deur my tipiese pa-kop gemaal.

So ‘n paar weke terug kom Miya toe by die huis aan van die skool af. ‘n “Josh” het haar uitgevra sokkie toe. O, vra ek, gemaak ongeerg, maar my ore gespits tot die maksimum. Alle sintuie verskerp.

“Ja”, sê Miya. “Maar ek het vir hom gesê ek wil eers daaroor dink.” Ek ontspan so ‘n bietjie, die kind se kop klink reg opgeskroef! “So ek wil by Pappa hoor wat dink pappa, moet ek ja sê?” Hierdie raak al hoe beter. Ek het “actually” ‘n sê in die storie. Of miskien is sy net baie slim en speel my? Sy is “after all” ‘n vrou! Ek moet my kaarte nou mooi speel. My antwoord gaan dalk bepaal of sy my in die toekoms weer iets sal kom sê. Ek moet belangstellend klink, kundig oor die onderwerp, simpatiek teenoor haar probleem, en ek moet meer uitvind van die laaitie en wie en wat hy is. (veral laasgenoemde)

“Is dit ‘n goeie seun Miya?” Ek kan my tong afbyt. Dit is nou ‘n “stupid” vraag van my af. Ek volg dit op met ‘n vinnige: ” Doen hy goed op skool?” Dit klink nie veel beter nie. “Ja pappa” sê Miya ewe trots, hy is die derde slimste in die klas. “Nie te sleg nie” dink ek. Maar ek moet die dinge nou mooi speel. Vir haar wys ek vertrou haar. “As jy dink dis ‘n oulike outjie moet jy vir hom ja sê my kind.” Toe dit uit is wil ek weer my lip afbyt. Weet die kind “actually”genoeg van seuns af om ‘n intelligente besluit te kan neem?

“Dis reg pappa” sê sy. “Dankie pappa” Ek voel trots, die kind is bly sy het met my kom praat. Toe besef ek ek het eintlik niks gesê nie, so sy speel my maar net!

Die volgende dag is Miya toe skool toe. Ek kan nie wag dat sy huis toe kom nie. Wat het sy toe vir Josh geantwoord? “Ek het vir hom gesê ek dink nog daaroor” sê Miya. Klink my die kind het darem haar ma se gesonde verstand. En so gaan dit vir twee weke aan wat Miya vir Josh aan ‘n lyntjie hou.

Tot sy een dag by die huis kom en verklaar: “Ek het toe vir Josh gesê ek gaan nie saam hom sokkie toe nie” Ek is oorbluf, ek het nou half gewoond geraak aan die Josh outjie. Ek meen, hy staan darem derde in die klas. Wat nou van as ‘n ander skermunkel haar uitvra sokkie toe? Iemand wat nie so oulik soos Josh is nie?

Nog ‘n week of wat verloop. Miya kom praat weer met my oor die sokkie ding, en ek kan sien sy is bietjie spyt oor haar nee antwoord aan Josh. Ek gee vir haar dieselfde advies. “My skat, doen wat jy voel die regte ding is”

Twee dae later kom Miya glimlaggend by die huis aan. “Wat gaan aan?” Vra ek. “Ek het toe vir Josh gevra om saam my sokkie toe te gaan, en hy het ja gesê” verklaar Miya. Ek voel sommer verlig, en weet nie hoekom nie. Ek is bly sy gaan nie alleen sokkie toe nie, ek is verlig dat dit Josh is (ek het nou al bietjie gewoond geraak aan hom) en ek is BAIE bly sy het dit op haar terme gedoen. Hiedie klink goed vir die toekoms, geen oorhaastige besluite oor die verkeerde mans eendag nie. Haar ma se persoonlikheid kom nou goed deur in haar opvoeding.

Maar ek kan net Josh se gesprek met sy pa voorstel die aand:

“Pa, onthou pa daardie Miya meisie wat ek uitgevra het sokkie toe, die een wat toe vir my nee gesê het, nadat sy 3 weke daaroor gedink het?” “Wel, sy het MY toe kom uitvra vandag, en ek het ja gesê.” “Pa was reg, mens sal vrouens nooit verstaan nie”

“O” sê Miya, kan ons asb vir my iets moois gaan koop vir die sokkie om aan te trek?” Ek is so verlig oor hoe alles nou verloop het ek stem sommer dadelik in om vir haar te koop net wat sy wil hê vir die aand. Weer daardie klein stemmetjie erens in my brein. Is die kind nie besig om my baie slim te speel nie?

Die tema vir die sokkie is dat jy soos ‘n ster moet aantrek. Miya steur haar soos in glad nie daaraan nie. Sy gaan duidelik koop wat sy van hou en dis dit. Sy het die tema ding nou nie eers vir ‘n sekonde oorweeg nie.

So, vandag is nou die groot dag waar ons die klere moet gaan koop. Miya is so entoesiasties daaroor sy het sommer die oggend uit haar eie uit die hele kombuis skoongemaak en skottelgoed gewas. (Sy het darem die groot pot vir haar ma gelos) Toe ek haar vra hoekom sy dit doen is die slim antwoord; “Ag, ek wil net vir mamma ‘n bietjie help” Weer daardie klein stemmetjie in my agterkop…

Ons is toe nou Menlyn Mall toe. Woolworths. R1250 later is ek daar uit met nuwe skoene, ‘n baadtjie, bloes en rompie vir Miya.

Sy is is ekstase. “Ek dink ek gaan die mooiste van almal lyk op die sokkie” sê sy vir Surika.

“Dankie pappa” Jy is die beste, en ek kry ‘n soen. (Weer daardie klein stemmetjie agter in my kop, speel die kind my?)

TAGS
RELATED POSTS