Vakansies

Mosambiek Desember 2016

By
on
14/01/2017

Hierdie jaar se vakansie beplanning het soos alle jare s’n gebeur. Tussen ‘n dolle gejaag om alle werk klaar te kry beplan ons vinnig ‘n vakansie. Ons besluit toe dat ek die jaar my belofte aan Surika moet gestand doen. (Ek belowe haar nou al van voor ons troue af ek gaan haar eendag Mosambiek toe vat, en dis nou 8 jaar.) Die tyd het nou aangebreek.

Ons bel sommer vir Moz Connection. ‘n Baie vriendelike Ranu reĂ«l ons verblyf. Ons besluit op 4 aande in Ponta do Ouro, 4 aande in Bilene en 5 aande in Inhambane. Die verblyf word betaal, en ons is reg vir die avontuur.

Ons laaste troue is op 17 Desember, ons besluit om die jaar nie sommer dadelik te ry die volgende dag nie. Dan is dit te veel van ‘n gejaag en mens kry niks behoorlik gedoen nie. Ons besluit om eers die 19 de te ry. Die 18 de word nou opsy gesit vir dinge koop vir die vakansie en die treiler te pak. Die aand so 09:00 klim ek in die bed. Ons beplan om 03:00 op te staan en 04:00 te ry. toe daardie wekker 03:00 lui is ons wakker, Bertie en Timothy staan al buite en rook. (Ander dae kry jy Timothy nie eers 07:00 wakker vir werk nie)

Die vakansie het begin. Ons het die vorige dag al alles gepak en die treiler gehak. Ons het almal ons nuwe kortbroeke, T shirts en rokkies aan, die Drive Moz stickers is opgeplak. Nou is dit net vir die laaste goedtjies indruk en ons is op pad. See toe. Mosambiek toe.

Miya is net nog steeds bekommerd dat vader Kersfees nie Mosambiek sal kry nie. Surika verseker haar hy het ‘n GPS!

Ons stop sommer daar anderkant Piet Retief vir ‘n breakfast. Ons eet sommer polonie op buns wat ons by die Spar gekoop het.

JC Crafford Vreklekker Mosambiek 2016-2

Mae vol en dis tyd vir Miya om te slaap, sy kan nou net nie wakker bly as ‘n kar se wiel rol nie.

JC Crafford Vreklekker Mosambiek 2016-1

 

Timothy lyk self maar ook nie te wakker nie.

JC Crafford Vreklekker Mosambiek 2016-3

 

Ponta do Ouro

So ‘n bietjie Geskiedenis

Ponta do Ouro lĂȘ so 10 km van die Kosibaai grenspos af. As jy hier nie ‘n 4×4 het nie, bly eerder weg, daar is geen teerpaaie nie, net dik, los sand. Ponta do Ouro beteken “Place of Gold” Party mense sĂȘ dit kom van die goue sonsondergange af, ander sĂȘ weer dis omdat daar destyds ‘n skip met goud hier gesink het.

Mosambiek het sy onafhaklikheid in 1975 van Portugal af gekry. Twee jaar later het daar egter burgerloorlog uitgebreek en dit het tot en met 1992 gewoed. Groot dele van die land en baie infrastruktuur is so verwoes. Tekens hiervan kan nog oral deur die land gesien word.

Maar Mosambiek het iets baie besonders. Vriendelike hardwerkende mense, en 2500km pragtige kuslyn. En dis hoekom Suid Afrikaners vakansies Mosambiek toe stroom. En dis hoekom ons hiernatoe kom.

Ons eerste aand sou ons erens naby die grens oorslaap en die volgende dag inry Ponta do Ouro toe. Ons is so vroeg, ons besluit sommer ons ry deur ry Ponta toe. Moz Connection se kantore is al toe vir die jaar, en ons probeer Phumbeka Resort self in die hande kry.Tevergeefs. Die mense antwoord nie telefone, sms’e of eposse nie. Hierdie sou net die begin wees van die uiters swak diens en fasiliteite wat ons by hulle sou ondervind.

Ons besluit om maar net deur te ry en hoop vir die beste. Ons grenskruising was vinnig en pynloos. Die pad na Ponta van die grens af nie. Binne 5 km van die grenspos af begin die Echo 4 probleme gee. Ons moes dit verwag het. Die Splinternuwe “offroad” treiler het nou die gewoonte om gereeld probleme te gee op elke trippie wat ons doen. Met die Richtersveld trip het die watertenk gelek en ons het dus te min water gehad (waar het jy meer water nodig as in die Richtersveld?) En hulle swak planne om ‘n yskas in die “nosecone” vas te hou het daartoe gelei dat dat ons yskas stukkend gestamp het op die trippie (hulle verskaf ‘n band om die yskas mee vas te trek) Nou het ons die  probleem dat die Treiler se braking axle die treiler elke paar sekondes Briek. Ons sukkel maar so voort tot in Ponta.

In Ponta aangekom moet ons eers Phumbeka kry. Dis nie so maklik nie. Na baie rongeryery en vraery kry ons uiteindelik die plek. Hulle het darem plek vir ons en ons boek ‘n dag vroeĂ«r in.

Klaar opgeslaan en ons ry see toe, lekker geswem. Die aand maak ons moerby kos en gaan slaap vroeg.

Die volgende dag ry ons rond. Ons ry tot by Techobanine anderkant Malongane. Op pad terug stop ons by een van Mosambiek se tipiese boskroegies. “Suzie’s Afro Bar” vriendelike mense wat baie behulpsaam is.

JC Crafford Vreklekker Mosambiek 2016-4

Die man het ook ‘n baie netjiese kroeg gebou. Ons kuier te lekker daar. R & R’s Rum en Rasberry. Dis basies wat ons heeltyd hier gedrink het, dis die gewildste drankies in Mosambiek.  En 2M’s. (Jy spreek dit uit Dois M. Dois beteken 2 in Portugees. Portugees is die amptelike taal in Mosambiek)

JC Crafford Vreklekker Mosambiek 2016-8

Ons besluit toe ons is honger en vra of hulle slap tjips maak? Ja, geen probleem, verseker die einaar ons. En ons wag, en ons wag. ‘n Halfuur later kom daar so ‘n klein mannetjie van omtrent 7 jaar oud in die stofpad aangedraf met olie en sout. Ons bestanddele het opgedaag.

Agter in die jaart het die eienaar ‘n pot op die vuur wat hy eers moes maak.

JC Crafford Vreklekker Mosambiek 2016-15

Ons chips is in wording.

‘n Uur na ons bestelling eet ons. Heerlike slap tjips, tamatie sous en piri piri.

Ons kon sommer met ‘n kt kaart hier betaal. Ons gee vir die einaar van die plek en sy broer bietjie van my skoonpa, Piet Westermann se kersie mampoer wat hy in my hand gestop het toe ons ry. 62% alkohol.  Net om dankie te sĂȘ. En die goeie betrekkinge tussen ons twee buurlande te behou. En om hulle bietjie terug te kry omdat ons so lank moes wag vir die kos terwyl ons honger was.

Hier is hulle reaksie.

 

Elke tweede winkeltjie hier is in die Vodacom kleure geverf, en moenie dink hulle het iets met Vodacom te doen nie hoor. Dis duidelik dat jy hier een of ander deal met Vodacom kan doen as jy jou winkel in hulle kleure verf. Dis nogal baie misleidend, ons het gedog ons kan by een van die winkels instap en airtime koop, toe nie. Hier is so baie rooi in Mosambiek, dit lyk omtrent of almal vir Manchester United ondersteun!

Uiteindelik het ons die mannetjie by die mark gekry, hy het vir my data gelaai. Ons het al in SA ‘n Mosambiek simkaart gekoop, en dit net geaktiveer toe ons oor die grens gaan. Hulle data is spotgoedkoop hier, en jy gee sommer net die foon vir hulle, hulle laai alles en gee jou foon terug. Goeie diens. Jy kan ook sommer by sekere mense langs die pad lugtyd koop, jy vra net by die mark, almal ken almal en hulle roep sommer gou gou vir jou iemand wat jou kan help.

Die middag spandeer ons in die see en in Phumbeka se swembad. Die middag koop ons prawns by die “mark” op Ponta. Dit het nie TE vars gelyk in die “cooler’ bokse waaruit hulle dit verkoop nie. Maar nou ja, “When you are in Rome…” Surika en ek maak die heelikste prawns en piri piri die aand. Ons eet ons vingers af. Bertie en Timothy het die prwans skoon gemaak terwyl Miya kyk, sy het darem later een prawn ge eet. Sy is meer ‘n vleis tipe girl!

Bertie het ‘n maagvirus en is nog die heeltyd so siek soos ‘n hond.  Die meeste van die dag word by die see spandeer. Die aand nooi ons buurman, Dries en sy vrou ons uit vir braaivleis. Aangename mense. Miya speel die boardgame “Boereplaas” by Daniel.

Die volgende oggend is “more of the same”…ons gaan see toe. Hier teen middel van die dag se kant raak dit bietjie erg daar, hoogwater maak dit bietjie onaangenaam. Jy hoef hier niks saam te vat strand toe nie. Jy kan selfs gazebos huur. R100 per dag. Hulle kom slaan hom op vir jou net waar jy wil sit. Party is al heeltemal deurgeroes, maar die mense hier maak ‘n plan. In so ‘n geval sit hulle net vir die gazebo hout bene aan.

Bertie het vir Miya ‘n gat gegrawe, en toe swaai ons ‘n vis onder haar neus toe sy niks kan doen om te keer nie.

 

Hulle verkoop alles op die strand, jy hoef nie eers bier te vat strand toe nie, hulle loop die heeltyd by jou verby en verkoop yskoue bier, die arme mense dra hulle dood aan die coolerboxes net om ‘n paar meticais te maak. Hulle verkoop ook vis, handgemaakte juweliersware, peanuts ens op die strand. Amper ‘n bewegende supermark wat na jou toe kom.

Hier probeer iemand ‘n donkerbril aan my verkoop. Lyk ek nie bietjie soos Ozzy Osbourne nie?

 

Ons skuif na die swembad toe by Phumbeka. Die enigste probleem is dat dit ontsettend warm is. Maar ons maak ‘n plan, die gazebo word sommer binne in die swembad opgeslaan, en daar kuier ons die heel middag.Kort voor lank het sommer ‘n hele paar mense onder die gazebo by ons aangesluit.

Ons maak die aand ‘n lekker kerrie potjie, voorrade is sommer by die mark aangekoop. As jy nie van iemand se prys hou nie stap jy net so twee tree verder, almal hier verkoop dieselfde produkte, die mark is altyd ‘n miernes van bedrywighede.

Ons nuwe Cadac Carri Chef 2 werk BAIE lekker, ons gebruik dit vir alles. Ons het onsself bietjie bederf en dit met ons FNB e Bucks gekoop, ons het toe sommer vir Miya ‘n lekker “stretcher” ook gekoop. Hierdie opblaas matrasse is nou maar net nie ‘n ding wat hou nie, jy gebruik omtrent een per kamp.

 

 

Ons vind ook uit Mosambiek is ‘n land van teenstrydighede. Hier staan sommer vervalle huise van jare gelede se glorietye langs nuut geboude prag plekke. ‘n Land van kontraste.

Kyk hoe lyk die Cruiser wat ons teegekom het, sy bestuurder sĂȘ egter hy werk nog lekker, hy ry elke dag in hom.

Surika Verjaar

23 Desember, Surika se verjaarsdag. Ons besluit ons gaan bietjie pub crawling doen. Ons ry in Malongane se rigting, eerste pub waarby ons stop is Luigi’s se pub, hy beweer hy maak die beste R&R’s. Maar ek kon nie die verskil proe tussen sy R&R’s en ander pubs s’n nie. Hulle proe dieselfde, en hulle doen dieselfde!

Daarna ry ons verder. Ons tweede Pub stop is by Alex se pizza plek, ons drink wyn.

Ons 3 de stop was by ‘n restaurant terug in Ponta do Ouro. En hier verander ons middag heeltemal. Ook miskien maar goed, anders sou dit ‘n duur middag geword het met al die gekuiery.

 

Die groot Recovery

Ek het my Jeep hemp aan. Op pad in die restaurant in stop ‘n vriendelike ouer man my. Hy se hy wil nie die Jeep logo sien nie, dit maak hom naar. Die man se naam is Gustav, hy, sy vrou, sy ma en skoonma en sy dogter is op vakansie in Mosambiek.

Hulle probeer deurry Malongane toe. Maar het al drie keer vasgesit en dan het iemand hulle uitgesleep, en dan draai hulle maar terug. Die rede, hulle ry ‘n Jeep Compass en ‘n swaargelaaide treiler. Die Jeep is net 2×4, dit het low profile bande op, en kom nie die mas op in die dik sand in Mosambiek nie. En toe bied ek mos aan dat ons hulle treiler en kar sal deurvat Malongane toe, Bertie sal hulle Jeep bestuur. Ek sal die treiler agter Chucky haak. Ons eet eers ‘n lekker pizza, en toe is ons is op pad. Nie eers 500m verder nie sit die Jeep vas, en word uitgetrek. En dit sal die patroon word vir die res van die middag, die Jeep sit oral vas. Die derde ou wat die Jeep uittrek is ‘n local, hy sleep toe sommer die Jeep met sy Colt tot in Malongane.

Gustav hulle bly toe nog anderkant Malongane, by Waikene. Bertie “floor” nou die Jeep, en ons hak eers weer vas by die steil opdraende by Waikene. Ek gaan haak die treiler af, en kom terug vir die Jeep, ons sleep die Jeep toe maar weer die opdraende uit. Uiteindelik, na ure se geskukkel het ons die mense by hulle vakansie bestemming, hoe hulle gaan terugkom weet ek nie, maar dis nie meer ons probleem nie.

Hier staan ons almal met die Jeep wat al die probleme gegee het.

Nou is ons KLAAR. Hierdie recovery het seker omtrent 3 ure van ons tyd gevat,  Ons ry na die Drunken Clam in Malongane toe vir ‘n verversingtjie (2M). Na al die geskukkel in die warm sand en son. En daar onthou Bertie hy het nog die mense se kar se sleutel in sy sak. Terug Wakene toe. Nou voel ek nie meer soos ‘n ridder op ‘n wit perd nie. Gatvol is nader aan die woord!

So, terug Wakene toe.

Daardie bier by die Drunken Clam het soos moedersmelk geproe toe ons daar terug kom.

Hier staan ons reddingspan!

Ons sluit die dag af met ‘n laaste drink en ‘n lieflike sonsondergang by Phumbeka se pub wat op die see uitkyk.

 

Die volgende oggend sal ons vetrek na Bilene toe. Ponta do Ouro is ‘n pragtige plek en vreeslik lekker om in te kuier. Maar Phumbeka sien ons nie weer nie, die geriewe is swak verby en teen R165.00 per persoon per nag is hulle way, way overpriced.

24 Desember. Op pad Bilene toe.

Meer oor Bilene

Wat Bilene so besonders maak is sy lagoon, die hele dorpie is reg langs die Uembje lagoon. Die lagoon is so 13km lank, en op sy breedste so 2 km breed. Dis dus geen wonder dat almal hulle jetskis en bote saambring nie. Oral is mense wat watersport doen. Lekker man. Bilene is 649 km van Gauteng af, ons ander naaste see, Durban, is 629km.

So waarnatoe wil jy eerder gaan?

 

Ek dog so! Bilene natuurlik!

Ons durf die lang pad Bilene toe aan, die Echo 4 gee nog steeds probleme, elke paar meter slaan die brieke vas en ruk die  Prado hard terug. (Ons sou later uitvind dis een of ander iets wat ingegee het) Na so ‘n halfuur se ry besluit ons dis dalk nie die treiler nie, maar die Prado se hak. Dit het een van daardie hakke in wat jy kan vassit of uithaal, die hak het dus bietjie speling, ons begin te vermoed dis die probleem. Ons hak die treiler af in die middel van erens en nerens en Bertie en Timothy word afgevaardig om by die treiler te bly. Surika, Miya en ek ry terug Ponta toe, ons gaan ‘n man soek wat kan sweis, die hak moet nou vas gesweis word…op die dag voor Kersfees. Gelukkig kry ons toe ‘n man langs die pad, vir R100 sweis hy die hak “netjies” vas. (Dit het so 500 km gehou)

En ons is weer op pad. Binne 2 min na ons die treiler aangehak het is dit duidelik dis nie die probleem gewees nie, ‘n uur van ons tyd gemors.

Die paaie na Maputo uit die suide uit is eintlik baie mooi, die sjinese is mos besig om die hele Afrika te teer, en Mosambiek kry ook ‘n beurt.  Hulle het ook ‘n vreeslike mooi klein dorpie langs die pad gebou vir al die mense wat aan die pad werk. Jy kan sien die mense is georganiseerd.

 

Ons gooi petrol in by ‘n Puma garage langs die pad. In die middel van nerens, en dis R2.00 per liter goedkoper as in SA. Hoe nader ons aan Maputo kom hoe erger raak die verkeer. Bumper teen bumper, en baie stadig. Ons vat die ring road van die EN4 na die EN 1 toe. En ewe skielik steek ‘n verskriklike storm op, die wind waai ons amper van die pad af. Ek het nog nooit so iets gesien nie, maar dis net die begin, dit sou later die dag nog baie, baie erger raak.

Ons hou oral maar by die spoedgrens, ons wil nie nou ‘n “fine” kry nie. Die “Policia”staan hier elke paar km, dit lyk letterlik of die helfte van die mense in die land vir die “Policia” werk. Ons het so baie riller stories gelees op Drive Moz van polisie en bribes, ek is op die trippie meer wetsgehoorsaam as my skoonma.

Die weer raak el erger en erger. By Macia trek ons bietjie geld by ‘n ATM, ons hardloop letterlik enkeldiep in die water. Ek draai die Prado se neus see toe, af van die N1 af. Ewe skielik is die storm met all mag op ons. Dit reĂ«n so hard dat die ruitveĂ«rs op vol spoed amper nie eers ‘n verskil maak nie, dit donderweer, en die wind is vreeslik sterk. Ons hoor op Zello net waarskuwings van hoe sleg die weer oral is. Ons sukkel teen 20km per uur vorentoe.

Net voor 6 die aand, na 10 en ‘n half ure op die pad het ons die net meer as 350 km afgelĂȘ. (Onthou ons probleme met die treiler)

Hoe ons gaan kamp opslaan in die weer weet nugter.

Complexo Palmeiras

Ons kry Complexo Palmeiras waar ons gaan kamp maklik, maar ons stop eers vir ‘n paar 2M’s by ‘n bottelstoor. Ons het so pas 10 ure gery, ons verdien seker nou ‘n bier. En wat meer is, ons moet nou dink wat om te doen met die kamp opslanery, 2m’s behoort ons gedagtegang te stimuleer.

Dis duidelik dat ons nie sal kan tent opslaan nie, dis onmoontlik. Gelukkig het hulle nog een bungalow oop teen R800 vir die aand, ons stry die man af na R600 toe, en skielik is ons kamp probleem opgelos.

Die bungalow het net 4 enkel beddens, maar Surika en Miya slaap sommer saam, dit beteken Surika kry glad nie ‘n goeie nagrus nie. Miya slaap mos soos iemand wat uit ‘n “straight jacket” probeer ontsnap. Ek parkeer die Prado en die treiler voor die woonstel wat reg langs die “lagoon” is, daar is sulke lekker hoĂ« bome ook. Iets sĂȘ net vir my trek vorentoe, en ek doen. 30 sekondes later breek ‘n boom af en val presies waar my kar gestaan het. Chucky is ok, maar die woonstel langs ons se patio se dak is tot niet. Hier is die skade die volgende dag.

 

Ons gaan parkeer toe maar die kar en treiler bo by die kantoor en hardloop in die storm terug na ons woonstel toe. Ons aandete is koue kos: rooiworsies, baked beans, en sweetcorn. En elkeen kry so ‘n slukkie koeldrank, die bier is vuurwarm, maar gaan lekker af.

Ons eerste dag by Bilene. Die weer is nog bietjie guur. Maar ons besluit ons gaan die weer vertrou en kamp opslaan. Die vriendelike Alex wat by ontvangs werk wys ons waar ons moet opslaan, nr 32. Nou begin die lekker deel by elke kamp. Hoe slaan jy jou kamp op, waar gaan dit die beste lyk, watter kant toe moet jou sleepwa wys ens.

Die res van die dag verken ons bietjie Bilene. Ons gaan koop produkte by hulle straatmark en ry sommer oral rond en kyk wat gaan aan.

Hier koop Surika ontbyt bestanddele langs die pad, veral hulle brood is baie lekker. Dit het nogal verduidelik gekos om eiers gekoop te kry. Die mense hier praat nie eintlik Engels nie, en ek moes met gebaretaal en vertoon van die arms verduidelik wat doen die hoender om die eier te kry. Eers het hulle met vars hoenders daar aangekom, en na my volgende reeks demontrasies dink ek hulle het gedink ek soek ‘n toilet. Maar na ‘n paar minute is ons daar weg met eiers.

 

Miya maak kersgeskenke oop. Vader Kersfees het haar toe darem gekry. Einlik het hy sommer maar net die kersgeskenke in ‘n swart sak onder ‘n boom naby ons kamp gesit. Gelukkig het ek dit darem raakgesien. Ek weet nie van wanneer af raak Vader Kersfees so lui nie, iemand kon die geskenke daar gesteel het!

 

En hier is Surika met haar kersgeskenk aan haarself!

 

Ons gaan ry weer bietjie rond en koop voorrade vir ons gammon later die dag. Wanneer Bertie, Timothy en ek op kersdag saam is is dit al ‘n instelling dat ons Gammon maak. En vandag gaan beslis nie ‘n uitsondering wees nie. Die straatmark verkoop alles, so ons koop aartappels en uie om saam die gammon te maak.

Die middag gaan sit ons bietjie in Palmeiras se restaurant en drink ‘n drankie, en besluit toe sommer om ‘n piri piri hoender te probeer, dis mos Mosambiek se gunsteling kos, en ons het dit nog nie eers probeer nie. Dit was nou uit die boonste rakke hoor. Lank laas so lekker ge eet. Timothy het in Mosambiek begin om ‘n eetlepel piri piri rou te eet en te sluk, en hy doen dit nou sommer hier ook. Jackass styl.

En so “suffer” mens na die tyd as jy sulke dinge probeer aanvang.

 

Ons moet ook nog ‘n paar biere in die hande kry, ons gaan verken bietjie Bilene, en kom toe op die “drankwinkel” af. Hulle vertrou mens maklik hier, sy vra net mooi asseblief dat ons die botteltjies terugbring.

Maar die lekker eet vir die dag kom nog. Die manne is besig met hulle gammon. En was dit lekker. Die vleis het sommer so in stukke uitmekaar geval. Ons gooi speserye, aartappels, worcestershire sous, mayonnaise, mosterd, tamatiesous en chutney by. Daar was net net genoeg oor vir ‘n lekker gammon ontby die volgende oggend.

Ons ontmoet vir Regardt Joubert en sy meisie Estazel, almal noem haar sommer “Es” terwyl hulle die naam probeer onthou, en hulle klein dogtertjie van 3. Hulle kamp langs ons. Regardt stel voor ons ry bietjie uit na Zongoene Lodge toe.

Dis so 40 km van Bilene af. Ons ry ‘n heerlike trippie tussen die pragtige landskap en villages deur.

Oral probeer die kinders iets bedel en waai vir ons. Jy voel omtrent soos Royalty.Die mense hier is maar arm. Huisies is hoofsaaklik deur hulleself gebou, en water word op baie plekke nog uit ‘n put getrek. Maar dis ‘n vreeslike mooi wereld om deur te ry.

Naby Zongoene sien sien ons daar is ‘n ligtoring aangebring op Tracks 4 Africa se kaart. Ons besluit om te gaan verken. Daar is die oulikste bokke wat jou ontvang, hulle bly sommer in hulle eie ou vervalle huis en is baie nuuskierig oor ons, duidelik sien hulle nie baie mense nie.

By die Ligtoring ontmoet ons vir Alfred, hy is in beheer van die ligtoring. Toe ons daar aankom is hy besig om al die vloere te was. (Baie konsensieus vir ‘n werker in Desember vakansie wat alleen is.) Hy laat ons toe om bo in die ligtoring in te klim. Nogal ‘n paar steil en angswekkende trappies wat mens moet klim. Alfred vertel ons die ligtoring is in 1912 gebou, dis beskadig in die oorlog tussen Frelimo en Renamo en die hooflig werk nie meer nie, hulle het ‘n ander kleiner lig aangebring in die tussentyd.

Terug op moeder aarde is daar ‘n skerpioen op die stoep wat doelgerig op my afloop. Siestog, hier kom ook seker nie baie mense hier uit wat hy kan probeer aanval nie.

Op pad na Zongoene se strand toe ontmoet ons ‘n man en sy twee seuns wat vasgeval het, en goed ook. Geen manier dat hulle kan uitkom nie. Maar hy het die trippie in ‘n 4×2 probeer aandurf terwyl hierdie eintlik 4×4 wereld is. In ‘n japtrap het ons hom uit. Hierdie keer doen Bertie die uitsleepwerk. 20 min later toe ons op die strand aankom kom hy ook daar aan, en later die middag toe kry ons hom weer waar ander mense hom uittrek nadat hy weer vasgesit het. Party mense leer maar net nie.

 

Ons gaan stop by die lagoon en swem ‘n bietjie, Miya tel skulpe op, vir een of ander rede is die water hier heelwat kouer. Timothy sukkel om sy swembroek aangetrek te kry. Hy het vroeĂ«r ‘n foto van my geneem toe ek die bos in is met ‘n graaf, en nou gee ek hom nie kans om sy swembroek aan te trek nie. Ek beweeg al om die kar met my kamera om ‘n foto te kry.

Op pad terug ry ons ‘n ander pad as wat die gps voorstel. Ek sit die gps op die funksie wat 4×4 roete aandui. Dit trek net ‘n reguit streep tussen jou bestemming en die plek waarheen jy op pad is. Mens kan dan baie mooi sien of jou paadtjie jou min of meer in daardie rigting gaan vat.

Ons stop langs die pad by ‘n plek wat amper soos ‘n kerkie lyk wat hulle vir hulleself gebou het. Hier eet ons pynappels wat ons langs die pad gekoop het. Baie sappig.

Ons ry nog so lekker tussen die villages deur toe ons in die bokant van Bilene se se lagoon vasry.En hier ontdek ons die verrassing van die vakansie tot dusver. Reg op die strand is Villa’N Banga. ‘n Lieflike plek met ‘n pragtige kroeg en kuierplek. Dis reg aan die bokant van die lagoon. Ons spandeer die hele middag hier, eet piri piri chicken en drink R&R’s. Kuier ons gatte af.

 

 

 

 

Ons ry weer met al die agterpaadtjies terug na Bilene. Al langs die lagoon af. 

Hier is die kaart van die hele 88km wat ons die dag gery het. Teen ‘n gemiddlede spoed van 10 km/h!

Ons laaste dag in Bilene het aangebreek. Ons gaan dit deurbring saam met Regardt en Es, en ons bure aan die anderkant, Clint, Linda en hulle kinders. Regardt het ‘n boottrip gereĂ«l.

Ons eerste probleem is dat ons bier klaar is. Vroeg, vroeg gaan staan Bertie en Timothy dus solank in die ry by die drankwinkel.


Ons tweede probleem kom toe ons skipper, Orlando, nie die boot aangeskakel kry nie. Hy bel die einaar van die boot. Die eienaar se broer kom daar aan. Hy trap die arme skipper voor ons so uit dat die see hom nie kan afwas nie. Hy dreig selfs voor ons om hom af te dank omdat hy so onbevoeg is. Ons almal sit in geskokte stilte en luister na die man se tirade. Op die ou end is dit nie eers Orlando se skuld gewees dat die boot nie wou aanskakel nie, maar iets wat fout was met die boot. Maar nou is ons op pad, ons geniet ‘n heerlike dag, kuier lekker, snorkel lekker, en ry die middag terug in ‘n reĂ«n storm, maar almal geniet dit en hou net aan gesels en drink. Partykeer interessant hoe min het ‘n mens nodig om gelukkig te wees en jouself te geniet. Mense wat ons skaars geken het voor die bootrit, en nou is ons sommer groot vriende.

 

 

Ons besluit om almal saam te gaan eet. Palmeiras se restaurant is vol, en ons besluit om by Highlander te gaan eet. Die kos is heerlik, maar die diens is swak verby en dit vat ontsettend lank om die kos te maak. Ons wag vir langer as ‘n uur. Ons almal was al klaar ge eet toe kom Clint se kos eers. Die rekening is nog ‘n groter gemors. Die mense skryf net eenvoudig enigiets op en dan moet jy dit betaal. Ek het nou al gesien mens moet maar jou rekening goed nagaan in Mosambiek. Nadat ons ‘n halfuur gewag het en die rekening is nog nie uitgesorteer nie besluit ons genoeg is genoeg. Ek los my besigheidskaartjie en sĂȘ vir die einaar hy moet my bel as hulle eendag die rekening uitsorteer, ek sal dan vir hom ‘n oorplasing maak. 

Ons besluit om almal saam te gaan eet. Palmeiras se restaurant is vol, en ons besluit om by Highlander te gaan eet. Die kos is heerlik, maar die diens is swak verby en dit vat ontsettend lank om die kos te maak. Ons wag vir langer as ‘n uur. Ons almal was al klaar ge eet toe kom Clint se kos eers. Die rekening is nog ‘n groter gemors. Die mense skryf net eenvoudig enigiets op en dan moet jy dit betaal. Ek het nou al gesien mens moet maar jou rekening goed nagaan in Mosambiek. Nadat ons ‘n halfuur gewag het en die rekening is nog nie uitgesorteer nie besluit ons genoeg is genoeg. Ek los my besigheidskaartjie en sĂȘ vir die einaar hy moet my bel as hulle eendag die rekening uitsorteer, ek sal dan vir hom ‘n oorplasing maak. 

4 x Hudsons, 1 x Piri piri Chicken livers, een waffel sonder roomys (ons het roomys bestel,maar die wafel kom droog daar aan)  Miya eet ‘n halwe hoender en drink ‘n cream soda.  Almal drink 3R&R’s en Bertie drink 4. Almal dubbels.

Surika en ek gaan stap so ‘n klein bietjie langs die strand die middag

 

28 Desember 2017 Inhambane – White Sands

Die volgend oggend begin ons trippie Inhambane toe. Dis maar 350 km, en ons moet volgens die gps 4 en ‘n half uur soontoe ry. Dit vat ons toe 8 ure. Die EN1 loop deur alle klein dorpies, en die Policia is oral. Jy ry dus meer 80 en 60 as wat jy 100 ry. Ons koop bietjie voorrade by die Shoprite op Macia en maak vir Chucky vol. Ons wou visvingers koop maar dis so vrot dit stink sommer. Toe Surika vir hulle daarop wys toe sĂȘ hulle net “It’s very nice” 

Kry maar vir julle. Ons gaan nie vandag visvingers eet nie hoor.

Die taxis hier ry soos maniakke met ‘n “death wish”. Ons is twee keer amper van die pad af gery deur taxis wat verbysteek met aankomende verkeer wat aankom. Ons moes dus kwaai uitswaai om ‘n paar van die plaaslike inwoners se lewens te verleng.

Om by White Sands uit te kom ry jy deur Inhambane. Ons is baie verras met hoe groot die dorp is. Barra, waar White Sands is, is so 20 km verder.

Ons sukkel so ‘n bietjie om White Sands te kry. Dis heel op die punt van ‘n skiereiland geleĂ«. En dis VREESLIK mooi. Dis was bietjie intimiderend toe ons daar aankom. Want hierdie is die paadtjie wat jy moet ry om daar uit te kom. Met laagwater trek die water heeltemal terug, maar met hoogwater ry jy amper in die water. Daar sit toe ook nog ‘n 4×4 reg by die ingang vas, maar ons is by hom verby, treiler en al.

Hier is die kaart van waar White Sands is.

 

Hier is so ‘n paar fotos van White Sands


29 Desember

Dag een. Ons gaan na die Andaga Lodge bar en restaurant naby White Sands en sit heel oggend in die swembad. Ons ontmoet ‘n eiendomsagent van Krugersdorp. Sy en haar vriendinne en kinders is daar, hulle het ‘n huis daar naby en kom elke vakansie oor.

Weereens is die rekening ‘n probleem, die “local waiters” kan nie onthou wat ons gedrink het nie en bring ‘n TE groot rekening daar aan. (Nee ons het nie te veel gedrink en kan nie onthou nie!)
Ons maak lekker hamburgers die aand.

 

30 Desember

Ons ry na Tofu en kyk by die stalletjies daar rond.

 

Ons ry dan na  Cocos Bay en  Praia da Jangamo. Ons eet by Seablue waar ons ‘n pragtige uitsig oor die see het. R440 vir 5 mense, incl drinks en n shooter elk. Dis wonderlike Afrikaanse mense wat die plek saam met hulle ouers besit. Hulle dogter is die kelnerin. Die kos is heerlik en die rekening is vir ‘n verandering reg. Dis net hartseer om te sien hoe stil is die plek in seisoen. Wat gebeur buite seisoen?  Ek dink Mosambiek is partykeer ‘n baie harde lewe vir lodge eienaars en mense met restaurante.

 

31 Desember

Hier is ‘n tipiese Mosambiek Dhow. Die “locals” loop gedurig rond om ‘n trippie op een van die dhows aan jou te verkoop.

 

Dis White Sands wat jy daar sien.

Die Coco nut vlieĂ« is nogal erg hierso. Die mense wat oorkant ons kamp het opgepak en na ‘n lodge toe getrek, hulle was gaar gebyt. Die man lyk omtrent of hy melaats is.  Om een of ander rede byt hulle ons nie so erg nie. Seker maar die 2M Bier/bloed verhouding wat ons red.

Die aand gaan bring ons in die swembad deur en wag vir die nuwe jaar. Ons gaan die nuwe jaar met geesdrif binne. Timothy probeer selfs die eienaar oorreed om vir ons ‘n gratis rondte shooters te gee. Hy het egter baie minder mense by die lodge gekry vir nuwe jaar as wat hy verwag het, ek dink dus nie hy is in ‘n bui om nog goed verniet ook weg te gee nie. Timothy kom druipstert terug tafel toe terwyl ons lĂȘ soos ons lag.

Ons maak vriende met mense wat langs ons kamp. ‘n Baie oulike paartjie. Hanschen en Sila Viljoen. Hulle is van die Kaap af.

1 Januarie

Wat sal die nuwe jaar bring? 

Hopelik net goeie dinge. Miskien is dit partykeer goed mens kan nie in die toekoms insien nie. 

Ons besluit ons gaan vis braai.Die mense kom hier elke oggend oor en verkoop vis, brood en alles en nog wat aan jou. Die brood  is heerlik. Ons koop vis by Shaun, ‘n red roman van 3.2 kg vir R140. En hy maak dit nog skoon ook. Bertie en Timothy maak dit vir ons gaar. (Ek moet erken ‘n lekker skaap tjoppie of “steak” is lekkerder)

Bertie, Timothy en Miya klim een van die palmbome uit.

Bertie pluk vir Miya ‘n kokosneut en kap dit vir haar oop. 

 

 


Die res van die dag lĂȘ ons in die swembad en geniet die lieflike uitsig. Die “lagoon” trek baie ver terug hier, partykeer is die water tot teenaan White Sands, en ander kere sien jy net sand.

White Sands is BAIE mooi, eintlik idillies mooi. Elke staanplek het selfs sy eie klein thatch gazebo.

Daar is egter nie vars water nie. Selfs die water in die krane in die badkamers is sout. En daar was regtig nie baie mense in die kampterrein gegewe dat dit ‘n Desember vakansie was nie.

2 Januarie

Die einde van ons vakansie het aangebreek. Vandag ry ons die 1087 km terug huis toe.

Ons maak die fout om net anderkant Palmeiros die Moamba pad te vat. Dis nou heelpad grondpad, en die pad raak al hoe slegter. Dit is egter ‘n ondervinding, maar volgende keer ry ek eerder maar deur Maputo. Daar is later nie eers meer “locals” en klein spaza winkels nie.

Hier is die pad wat ons gery het.

Ons “bracket” van Frontrunner wat die spaarwiel op die dakrak vashou breek morsaf. Dis nou ons tweede trip waar iets van Frontrunner breek.Ons maak maar die spaarwiel met “ratchet straps” vas.

Ons koop ‘n baie welkome paar botteltjies coke met ons laaste Meticais by die winkeltjie net voor Moambo

Ons deurgang by die grenspos by Resano Garcia gaan vinnig, en is chaoties.    

Net deur die grens eet ons gou ietsie by ‘n pub in Komatipoort, en toe ry ons deur huis toe.

Ons kom die aand moeg maar gelukkig by die huis aan. Ons het vir Miya ‘n bed gemaak agter in die Prado, en daar het sy amper die heeldag gelĂȘ en slaap

 Al wat nou nog oorbly van die vakansie is die modder en stof op Chucky, en o ja, om die Echo 4 terug te vat om alles wat weer gebreek het te laat regmaak. Ek hoop ons het nou uiteindelik die treiler reg. Tot dusver was dit maar een stroom van probleme, moeilik om te dink ons het dit nuut gekoop.

TAGS
RELATED POSTS