Vakansies

Mosambiek Desember 2017

By
on
30/12/2017

Laasjaar was ons in Ponta do Ouro, Bilene en White Sands in Barra naby Inhambane.Die jaar was ons bietjie lus om Santa Maria toe te gaan. Ons was bespreek om soontoe te gaan in Julie, maar toe vind ons mos uit Miya se paspoort het reeds verval toe ons moes ry die oggend.
Ons nooi toe vir Dirk en Marissa uit om saam ons te gaan, maar hulle was klaar bespreek vir Palm Grove Lodge in Barra.Dis so 2 km van White Sands af waar ons laasjaar was. Hulle oortuig ons toe om weer Barra toe te gaan.
Ons boek toe weer in by White Sands.
Anders as vorige jare het ons die jaar baie tyd gehad om reg te maak. En dit het ‘n groot verskil gemaak. Vier  dae voor die vakansie moes begin was al die kos klaar gekoop en in die treiler gepak. Die vleis was ook klaar gekoop en in die diepvries voor in die treiler se neus. Die diepvries was solank by die krag ingeprop. Ons was so te se reg om te ry.
Ons het oukersaand en kersdag by Heinrich en die res van die familie spandeer. Kersdag het ons die middag 16:00 se kant gery. Ons moes vroeg gaan slaap. 01:00 moet ons op, en 02;00 moet ons ry. Alles was kant en klaar gepak teen die tyd dat ons moet gaan slaap. Die volgend oggend kan ons net ons badkamersakkies pak en ry.

Dinsdag 26 Desember

Op die kop 02;00 se ons vir Lulu totsiens en vat die lang pad. 989 km en 16 ure se ry lê voor ons.
Ons kry baie slegte verbrande sausage rolls en Monsters by die Sasol naby Bronkhorstspruit. Dit maak darem die leë gaaitjie vol. Naby Belfast neem Surika oor met die bestuurdery, op presies die verkeerde tyd vir haar. Die mis is baie dig, ons karring teen 30 km ‘n uur vorentoe.
Net na 07:00 die oggend is ons by die Sasol buite Komatipoort. Ons kry bietjie lekkerder burger pies en maak vol. Ons wissel ook sommer ‘n paar Rand oor na Meticais toe. R1 = 4 Meticais. (Eintlik R4.58, maar die manne moet ook ‘n geldtjie maak.
Ons is reg vir die grenspos.
Toe ons daar intrek is daar ewe skielik swerms mens om die kar. Almal wil jou help, 3 de partyversekering, Simkaarte, runners om jou paspoort te laat “stamp” en almal wil jou verneuk.
Ons kry ‘n “eerlike” ou om die derdepartyversekering by te koop. Voor ek weet het hy R100 uit my uit en iemand is op pad met ons paspoorte. Toe ek dit agterkom laat roep ek die man terug. Ons sal self in die ry gaan staan, ons wil nie iemand R100 betaal om dit te doen nie. Daar is maar so 4 mense voor ons in die ry, so alles  gaan baie vinnig.
Daarna koop ons sommer ‘n Moz simkaart ook. Data is VREESLIK goedkoop hier. Jy betaal 100MT vir ‘n Gig. Dis maar R25 wat Vodacom die Mosambiekers vra, in SA vra Vodacom jou R149 vir ‘n gig.Iemand doen ons in.
By die Ringroad in Mosambiek is daar omtrent 10 jong mannetjies wat vir ons die pad wil “aanwys” teen ‘n fooi. Ons ignoreer hulle en ry net aan. Twee van hulle hardloop amper ‘n km saam met ons vir geld.
Ons kom die aand so 18”00 by Dirk hulle aan…moeg gery.
Ons braai ‘n lekker vleisie en gaan kruip vroeg in. Ons slaap sommer by hulle, ons sal die volgende dag gaan kamp opslaan by White Sands.

Woensdag 27 Desember

Die sand is lekker dik waarDirk hulle bly en ek gebruik die geleentheid om my ARB Tyre deflator die eerste keer gebruik. (gelukkig het ek ‘n you Tube video hieroor gekyk)

Ons gaan slaan kamp op by White sands. Dit gaan lekker vinnig, behalwe Dirk en Marissa wat ons help huur ons sommer nog 3 locals ook om te help.
Daarna gaan sit ons die res van die dag in die swembad en kuier. Laatmiddag bestel ons ‘n groot bord slap chips en twee pizzas, ons eet dit sommer net daar in die swembad. Ons besluit ons gaan die volgende dag met ‘n dhow die eilande rondom Inhambane besoek.

 

Donderdag 28 Desember

Ons is lus vir die dhow trippie. Ons betaal 1200MT (R300 per persoon vir die trippie.)

Dis eintlik ongelooflik goedkoop vir wat jy kry. Die boot vertrek 08:00, en jy kom eers na 15:00 terug. Hulle seil by twee eilande om, en jy kry ‘n middagete op een van die eilande.
Die mense is vreeslik gasvry en behulpsaam, die emnse in Suid Afrika kan definitief by hulle kom leer.

Niks is vir hulle te veel moeite nie. Toe hulle sien ons het ‘n swaar cooler boks vol drank toe gryp hulle dit en dra dit vir ons na die boot toe.

Ons kaptein van ons dhow se naam is John, hy en sy broer Baito bedryf die boot besigheid. Hulle het die boot by hulle pa gekry, hy is nou afgetree. John se hulle pa het die boot so 20 jaar terug gekoop. Die boot is maar in ‘n gehawende toestand. Die hout is oud en die seil is al baie gelap. Dis duidelik heir is nie geld vir luukshede nie. As ‘n ding werk dan gebruik jy hom net so. Baito seil die boot, en John skep kort kort water uit met sy plastiek emmertjie. Die sitplekke is maar hard en ongemaklik, maar die ervaring maak meer as op daarvoor.

Ons seil eerste tot net so voor Pansy eiland, daar anker ons en snorkel ‘n bietjie. Die uitsig is pragtig, die water is helder skoon en ons sien die mooiste vissies en see sterre. Die teruklim in die boot in is nie so maklik nie.
Ons stop by Pansy eiland, daar is nie veel om te sien nie. Dis eintlik net ‘n stuk sand wat bokant die water uitsteek. Ons loop daar rond en tel pansies op. Miya het later ‘n sak vol. Surika beperk haar egter tot twee. (daar moet nog oorbly vir ander mense ook) Daar is ‘n klomp flaminke heeltemal aan die ander kant van die eiland, ons loop om by hulle uit te kom, maar dis net te ver. Ons draai maar om.

Terug na ons boot. Survivor eiland wag. Dis waar ons middagete gaan eet. Dis ook die eiland waarop John en Baito en hulle gesinne bly.
Die hele eiland bestaan uit ‘n gemeenskap van 984 mense. Almal op die eiland se bestaan hang af van die dhows, toeriste en visvang. Soos John verduidelik, in die besige tyd vat hulle die toeriste uit na hulle eiland toe, in die stil tyd vang hulle vis en verkoop dit in Inhambane en Maxxixe.

Die see en hulle dhows is hulle lewe, van visvang en die getye en seil gaan jy die mense niks vertel nie, hulle is meesters op hulle vakgebied.
Op die eiland is ‘n groot plein met afdakke (die restaurant). Hier sit al die mense wat op die dhows was die dag (in ons geval so 100 mense) en die locals maak vir hulle kos. Hulle bedien ons met rys, ‘n tipe neut sous, spaghetti, krappe, gebraaide vis en hoender. Die kos is heerlik. Timothy eet ook sy gebruiklike eetlepel piri piri sous. Daar is nie ‘n eetlepel nie, so hy drink dit sommer so uit die krap se leë dop uit.

Hierdie mense verstaan meer van diens as enige kelner in ‘n restaurant in Pretoria. Seker ook omdat hulle dit vir hulle self doen, hulle verstaan dat hulle hele gemeenskap se toekom daarvan afhang. Kort kort is daar iemand by ons om te hoor of ons tevrede is en of ons nog iets wil hê. Eers wanneer ons klaar ge eet het eet die skippers van die bote ons oorskiet kos. Dit klink net nie reg nie. Hulle is die mense wat hulle doodwerk en hulle eet laaste.

 

Paul kom stel Chief Eric aan ons voor. Paul is die man wat die dhow trippies verkoop. Hy loop by die kampe om en oortuig mense om die trips te doen. Ek dink hy het die werk gekry want hy kan Engels praat. Hy het so 4 dhows vir wie hy vaarte reel.

Chief Eric het twee vrouens en 15 kinders. Hy is die man wat dinge op die eiland moet beheer en sorg dat almal gelukkig is. Hy staan trots daar in sy Builders Warehouse hempie (Ons is nie seker of hulle hom dalk ‘sponsor” nie) en vertel ons dat een vrou “Is a lot of troubles” Twee vroue egter “No trouble” Ek verstaan nie sy logika nie, maar ek is bly dit werk vir hom.

Daarna vat Paul ons op ‘n toer deur die eiland. Dis duidelik dat die mense BAIE arm is, maar almal groet jou vriendelik. Daar is geen water op die eiland nie, en hulle probeer so ver as moontlik reenwater opvang. Paul vertel dat dit al vir Chief Eric nodig was om die water te rantsoeneer na 20 liter per huishouding per dag.

Die kerkie is Rooms katoliek, een keer per week kom daar ‘n priester oor om vir die mense in die kerkie te preek. Daarna is ons na die kliniek toe. Dit is spartaans ingerig, maar skoon. Buite ontmoet ons ‘n vrou met ‘n drie maande oue baba. Die ma van die baba is dood met geboorte, en die vrou maak nou die kindtjie groot. Paul stop die vrou ‘n klomp Mets in die hand. Met die min wat hy het en kry by toeriste deel hy nog uit aan die mense. Al hierdie mense verstaan dat hulle enigste manier om te bly bestaan is om saam te werk en mekaar te help. Van die bietjie wat jy het gee jy ook vir ander. Ek weet sommer dat die kleintjie ok gaan wees. Hy het ‘n hele eiland se mense wat hom gaan grootmaak.

 

Laastens vat Paul ons na die skooltjie toe. Buite is ‘n tekening wat die kinders leer dat Albinos hulle vriend is. Die skool het net tafels, verder niks, nie eers vensters nie. Die mure het lanklaas verf gesien. Maar hier word kinders geleer sodat hulle lewens eendag nie so hard soos hulle ouers s’n hoef te wees nie. Aan die grrot boom langs die skooltjie hang ‘n yster staaf, jy slaan teen die staaf, dis die klok wat die kinders laat weet die skool gaan begin.

 

Ons stap terug na die dhow toe, ewe skielik besef ons dat die twee manne, die “Captains” van die dhow, met hulle gehawende klere en harde hande eintlik van die meer bevoorregte mens op die eiland is. Net omdat hulle ‘n 20 jaar oue dhow besit wat lyk of hy uitmekaar gaan val.

Die dhows is die verskil tussen bestaan en ondergang op Survivor eiland.

 

 

TAGS
RELATED POSTS