Naweke

Ons kry ‘n nuwe Echo 4 boswa en gaan bietjie die naweek na Willemsrus in Dinokeng

By
on
30/05/2016

Ons gatte het nou bietjie begin jeuk. Ons hou BAIE van kamp, en het besluit dis tyd om onsself so ‘n bietjie te bederf. Ons het besluit dis tyd vir ‘n nuwe boswa. Ons het na alles gekyk, offroad karavane, Conqueror, Bush Lapa, ens. , maar eventueel op die Echo besluit. Ek wil nou nie ‘n debat hieroor begin nie. ‘n Man se boswa is mos soos sy rugbyspan, jy verdedig hom al verloor hy elke jaar. Ons het nou maar net besluit die Echo is vir ons.

Toe ons op die Echo besluit toe moes ons besluit watter een. Surika en ek het net die meeste gehou van hoe die Echo 4 uitgelê kan word. Ons het ALLES laat insit. Ek meen, hoeveel keer in jou lewe koop jy ‘n nuwe boswa?

 Gaan groot of gaan huistoe man! 

Marius by Echo was ons konsultant, en ons het werklik goeie diens van hom af gekry, hy is ‘n vriendelike man wat sy produk ken…en altyd kalm bly. Presies wie jy nodig het as jy nou net iets gekoop het en nie kan wag om dit te kry nie. 

Ons het sommer al ‘n foto van ons laat neem net toe hulle ons boswa begin bou. Hier is Surika en ek by die dop voor hulle hom aanmekaar begin sit het.

Vreklekker - Echo

 

Kyk net hoe netjies is die kombuis ingerig, hierdie was ‘n baie belangrike punt vir ons. Ons hou van kos maak, en ‘n mens moet georganiseerd wees hier. On shet ook die stainless steel blad op die afslaan blad laat aanbring. Lekker baie plek om kos te maak.

JC Crafford Photo & Video Dinokeng Echo 26

JC Crafford Photo & Video Dinokeng Echo 25

Ons wou nie sukkel met krag nie. Ons het die hele elektrisiteits stelsel gevat. Ekstra battery, true sinewave inverter, dc to dc charger die toetie. Jy charge sommer jou selfoon ook op hom. 

JC Crafford Photo & Video Dinokeng Echo 24

 

Ons het gehou van die afdak wat reg rondom gaan, ons wag nou bietjie moeg om die gazebo oral saam te ry…en na elke vakansie te vervang omdat hy stukkend gewaai is. 

JC Crafford Photo & Video Dinokeng Echo 13

Baie belagrik is die “add a room” vir Miya. Ons wou hê sy moes ook spesiaal voel en haar eie plekkie hê, en ons het Desember gesien dat jy bietjie spasie nodig het as dit heeldag reën terwyl jy kamp. ‘n Verdere probleem was die grootte van ons bed. Ek het gedurig gevoel of ek afval van ons vorige boswa se bed af, ons het by die Echo sommer ons bed ook laat groter maak. Dis nou eintlik TE groot. Maar ons slaap lekker.

Die tent kom eintlik nie saam die Echo 4 uit nie, dis die Echo 5 en 6 se tent, maar ons het dit spesiaal laat “tailor made” vir ons Echo 4. 

JC Crafford Photo & Video Dinokeng Echo 14

 

Ek hou van die kleur ook, dit gaan nie so gou vuil wys nie.

IMG_0722

 

Ons het ook die 1oo liter watertenk met die kaar en pompie laat insit. Ek was nou bietjie moeg om elke keer as ek water soek ‘n ent te loop met ‘n swaar 25l waterkan by ‘n kampterrein. Ek kamp mos, ek is nie besig om te gym nie. 

IMG_0736

Hier sit hulle ons nommerplate aan by Echo!

 

IMG_0729

Dis die naweek van 27, 28 en 29 Mei. Ons troue vir die naweek is gekanselleer, en ons het so pas ons splinternuwe Echo 4 boswa gekry 3 dae terug. So, raai wat gaan ons doen?

Bertie, Mika en Timothy sou eers saamgegaan het, maar toe word Mika siek, bronchitis. Dis toe maar Surika , ek en Miya. Ons besluit ons gaan Willemsrus in Dinokeng probeer, ons het al so baie van hulle gehoor, ons wil bietjie gaan kyk waaroor gaan al die bohaai.

Donderdag middag bel ek en praat met Jeanette, ja, hulle het plek, sommer baie ook, ons kan kom. Donderdag aand word al ons kampgoed in die Echo ingepak, en soos wat dit is wanneer mens verhuis word daar ’n klomp goed weggegooi (in ons geval na Timothy toe aangegee) Sy kamp versameling groei nou mooi aan.

Die nuwe Echo is so goed ingerig, alles het sy plekkie. Ek stap rond soos ’n pa met n nuwe baba. Bekyk die treiler van alle kante af. Ek soek die eerste paar dae gedurig ’n verskoning om buitentoe te gaan….en sommer net vir die Echo te staan en kyk. 

Vrydag oggend gaan koop ons ’n paar goedtjies vir die naweek, haak die Echo, en daar gaan ons. Eers stop ons vir ’n pie en koeldrank by de garage (hoekom koop mens altyd ’n pie voor jy op vakansie ry?)

Ons druk Chucky se neus noordwaarts. N1. Die nuwe wa sleep alte lekker. Willemsrus is 61 km van ons huis af.

So 50 min later staan ons voor die hek, ’n vriendelike swart man kom daar aangedraf. Ben, stel hy homself voor. Vriendelik wys hy ons rond sodat ons kan besluit watter kampplek wil ons gebruik. Maar dis nou amper soos om ’n kind in ’n lekkergoed winkel te los, alles lyk lekker en daar is te veel keuses.

Ons besluit toe maar op Nr 15 (hulle het 25 staanplekke) Lekker naby aan die ablusie blokke en naby aan die draad en ’n drinkgat. Willemsrus is in die Dinokeng Game reserve. Die Big 5 is ook hier. Ons hoop om sommer diere hier langs ons by die draad te sien. Miskien ’n olifant? Of ’n leeu? Ek kyk sommer weer na die grensdraad. Sal hy ’n Olifant uithou?

Ons nuwe boswa in posisie, en nou moet ons die tent begin opslaan. Marius van Echo 4×4 het ons so noukeurig gewys hoe alles werk, en dit het so maklik gelyk by Echo se fabriek. Nou weet ons nie meer watter paal kom waar nie, Eventueel het ons die tent staan, eintlik baie maklik.

Ons vuurtjie is aan die gang (met ’n moerse gesukkel, die hout is nat) Surika en ek het elkeen ’n Castle Milk stout in die hand, Miya ’n Cream soda, en ons is besig om te rus by Willemsrus. Ek neem so ‘n paar time exposures van die nuwe Echo.

JC Crafford Photo & Video Dinokeng Echo

Op die spyskaart vanaand, Skaaptjops en wors. Ons wou braaibrootjies ook maak, maar ons is nou te lui. Ons eet sommer so van die rooster af.

 

JC Crafford Photo & Video Dinokeng Echo 18

JC Crafford Photo & Video Dinokeng Echo 17

En toe gaan kruip ons in. Ons soek mekaar omtrent op die reuse bed van die Echo.

Saterdag oggend is die gewone. Miya en ek is vroeg op en drink koffie en eet beskuit, Surika slaap (sy is konstant besig om te probeer “verlore” slaap inhaal, ek persoonlik dink sy is al so twee jaar voor)

Later maak ons ’n lekker ontbyt van gisteraand se wors (opgsny), roereier en mild & spicy chakalaka. Alles deurmekaar en op brood. Surika sit die oorskiet op buns vir middag ete en ons is op pad. Die big 5 roep.

Ingang na die wildtuin is R250.00 per voertuig as jy hulle selfdrive roete ry. Jy kry ook ’n kaart by. Surika maak ‘n klein videotjie van Miya voor DGR se ingang. Sy vra vir Miya: “Waar is jy Miya?” Miya sê: “Hier is ek mamma!” Te kostelik. Mens moet eintlik al die klein praat juweeltjies van hulle neerskryf.

Wat nogal oulik is is dat die roete oral groterige sement bakens het, elke sement baken het ’n nommer op. Die kaart wat jy by die hek kry  is ook genommer met die sement bakens se nommers. Jy weet dus altyd waar jy op die kaart is. Indien iets sou gebeur kan jy ’n nommer bel wat op die kaart is, jy kan sê by watter nr is jy laas verby, en die veldwagters sal jou kan vind.

Dinokeng Game Reserve (DGR) is ’n baie interessante en volgens my hoogs suksesvolle en prysenswaardige konsep wat jare terug begin het en nog steeds groei. Grondeienaars in die omgewing het hulle grensdrade afgehaal sodat almal saam die DGR kan vorm.  

Oral in die wildtuin sien jy nog pale in die grond waarvan die drade afgeknip is, in die konteks wat hier besig is om te gebeur is dit eintlik ‘n baie mooi gesig. Ek dink toe nou, skoonpa is mos besig om sy plaas te omhein, en hierdie pale kos baie geld. Miskien moet hy hoor of hy hier kom uithaal. 

JC Crafford Photo & Video Dinokeng Echo 7

 

Sulke grondeienaars maak dan ’n bestaan deur lodges, karavaanparke, restaurante, warmlugballon safaris ens. Die feit dat die Big 5 hier is en dat dit op Gauteng se drumpel is beteken natuurlik dat hierdie besig is om ’n baie suksesvolle projek te word. Tans is die reservaat alreeds 18 500 hektaar groot en skynbaar gaan nog so 40 000 hektaar binnekort by die park ingelyg word. Natuurlik ook grondeienaars wat nog steeds inkoop op die idee.

Hulle Self drive roete is in Desember 2014 oopgestel, oor die 3300 voertuie het dit alreeds in die eerste jaar gery. Hou hierdie wildtuin dop, dit gaan nog baie suksesvol word, met toerisme wat so ’n groot deel van ons toekoms gaan speel kan hierdie nie anders om ’n sukses te wees nie.

Ons ry die heeldag rond en sien sommer lekker baie wild. Die Big 5 het ons ontwyk, maar ons sien: Rooihartbees, waterbok, Rooibok, Koedoes, Blouwildebees, zebras, Volstruis, Vlakvarkr, kameelperde, blesbokke en njalas.

JC Crafford Photo & Video Dinokeng Echo 10

JC Crafford Photo & Video Dinokeng Echo 9

JC Crafford Photo & Video Dinokeng Echo 8

JC Crafford Photo & Video Dinokeng Echo 6

JC Crafford Photo & Video Dinokeng Echo 5

JC Crafford Photo & Video Dinokeng Echo 4

JC Crafford Photo & Video Dinokeng Echo 3

JC Crafford Photo & Video Dinokeng Echo 2

Die natuurlik is pragtig. Die plek sien ons beslis weer.

Ons gaan drink ’n koffie en eet kaaskoek en waffels met roomys by Posh restaurant in die Wildtuin.

Ons ry die dag altesaam 65,3 km in die Wildtuin rond…teen ‘n gemiddeld van 10 km/h. Ons was dus definitief nie kandidate vir ‘n spoedkaartjie nie.

 

Screen Shot 2016-05-30 at 5.14.12 PM

Die aand maak ek ’n hoender potjie resep uit die Wegsleep uit en ons eet dit saam met paninis en ’n lekker piesangslaai wat Miya genaak het onder Surika se toesig. Hierdie aande rondom die vuur op ‘n kamp is darem maar net die lekkerste. Jy gesels oor alles en nog wat, luister na die naggeluide, ruik die lekker braaivleisgeure in die lug, en daar is nou net mooi niks wat jou aanjaag nie. 

JC Crafford Photo & Video Dinokeng Echo 23

JC Crafford Photo & Video Dinokeng Echo 22

JC Crafford Photo & Video Dinokeng Echo 21

JC Crafford Photo & Video Dinokeng Echo 20

 

My pragtige oulike vrou, lekker gepanster teen die koue in haar Due South Mussie wat sy vir Lesotho gekoop het.

JC Crafford Photo & Video Dinokeng Echo 19

 

Sondagoggend was dieselfde storie, JC en Miya vroeg op…Surika slaap.

Ons eet sommer gisteraand se oorskiet, dis nou eers lekker. Jeanette en haar man Johan kom maak ’n draai, en staan seker ’n uur en gesels. Jeanette bestuur die oord wat besit word deur haar skoonseun. Sy naam is Willem, vandaar die naam Willemsrus. Die naam is skynbaar sommer een aand oor ’n braai besluit op die einste stukkie grond. Hulle besit so 25 hektaar hier in DGR en Jeanette is duidelik BAIE passievol oor Willemsrus. Haar hand wat oor die plek gehou word is duidelik te sien. Die badkamers is skoon en netjies (die mooiste wat ek nog by ’n kampterrein gesien het) die werkers is vriendelik en behulpsaam en die hele oord is in ’n baie netjiese toestand. Jeanette sê hulle het al selfs 80 bome geplant in die oord wat alles inheems is tot die omgewing. Geen wonder mense praat oral net met lof van die plek nie. Ons kan dit defintitief ook aanbeveel.

Hier sit ek lekker rustig die Sondagoggend en tik aan die blogpost van die naweek. 

JC Crafford Photo & Video Dinokeng Echo 31

…terwyl Surika die skottelgoed was. Is dit nou nie ‘n oulike idee van Echo nie? 

JC Crafford Photo & Video Dinokeng Echo 30

JC Crafford Photo & Video Dinokeng Echo 29

JC Crafford Photo & Video Dinokeng Echo 28

JC Crafford Photo & Video Dinokeng Echo 27

 

 

Hulle is ook nie haastig om mense Sondag uit te kry nie. Jeanette sê hulle is self kampeerders en hulle weet hoe min lekker is dit as jy op ’n Sondag vroeg moet oppak en ry. Ons word vertel ons kan net so laat uit wees soos ons wil. Soos Johan tong in die kies sê: “Dit moet net voor Maandag oggend wees”

Sondag verloop maar rustig, ons pak so elke nou en dan ietsie op, drink ’n paar Milk stouts en braai braaibrootjies vir middag ete.

JC Crafford Photo & Video Dinokeng Echo 16

JC Crafford Photo & Video Dinokeng Echo 15

JC Crafford Photo & Video Dinokeng Echo 12

Dit was ’n heerlike rustige wegbreek naweek in die DGR, vir my een van die juwele van Gauteng wat nog deur baie mense nie ontdek is nie.

Die naweek by Willemsrus kos ons R780.00 vir Surika, Miya (6) en myself.

GPS

25˚22’09.08″S
28˚23’11.94″E

 

Jeanette Vorster

Tel: 081 702 2989

Epos: 
info@willemsrus.co.za

TAGS
RELATED POSTS