Elke dag

Stella se partytjie, stories teen die muur, en puzzles!

By
on
25/11/2019

Stella verjaar op 22 Desember 2019. Dan word sy 10. Sy het dieselfde probleem as Surika (wat 23 Des verjaar) Die probleem is dat die skole al gesluit en al jou maatjies op vakansie is wanneer jy verjaar. Jou ma en pa spaar dus op partytjies, maar dis natuurlik nie so lekker vir jou wat verjaar nie.

Ek ken Stella nou al ‘n rukkie. Sy is nie een wat op haar bekkie geval is nie, sy het ALTYD nog ‘n plan. Net soos Miya is sy baie dramaties en hou sy van speel en maatjies. Dis seker hoekom hulle so goed oor die weg kom. (Behalwe nou vir die feit dat hulle familie is)

Stella het die jaar besluit sy GAAN ‘n partytjie hê, net so ‘n maand vroeër.

En daar gaan Yolandi en Graham se “budget” vir November, kinderpartytjies is nie deedae ‘n goedkoop ding nie. Ek weet nie of hulle gesukkel het om Stella by net 4 maatjies te hou nie, ek weet ons sukkel altyd met Miya, hulle wil mos altyd die hele klas nooi. Al waaraan hulle dink is die baie presente, nie arme ma en pa se sak nie.

Die partytjie is by Winston en Amanda se huis gehou. (Graham se ma en pa en Stella se oupa en ouma) Die tema was dans en musiek.

Ons is ook genooi, ons gaan sommer wors braai en kuier terwyl die kinders in die swembad speel en partytjie hou!

Ons was so 30 min laat, en toe ons daar aankom is die ander kindertjies klaar in die swembad. Ek het nooit geweet 5 kinders kan so lawaai nie. Ons het hulle probeer stilmaak, maar nee wat, 2 min later lawaai hulle weer. Winston-hulle se arme bure!

Amanda en Yolandi dra “snacks” en doopsous aan. Hierdie gaan nou ‘n tipiese Afrikaanse kuier wees. Ons eet ons mos altyd trommeldik aan die “snacks” en wanneer die regte kos kom, dan eet ons asof ons nooit “snacks” gehad het nie.

Ons ken vir Amanda en Winston nie baie goed nie. Ek dink ons het hulle nog net eenkeer REGTIG gesien en dit was op Graham en Yolandi se troue. En toe het ons ook nie baie kon gesels nie. Maar Miya ken hulle goed genoeg dat Winston al sommer Oupa genoem word. Amanda-hulle kyk baie na Stella, Amy en Miya wanneer Surika, Yolandi en ek Saterdae werk. En Miya is MAL oor Winston en Amanda, sy is altyd sommer baie opgewonde as sy hoor sy gaan daar oorslaap of kuier.

Ek sien dus baie uit daarna om sommer lekker saam met Winston en Amanda te kuier en hulle baie beter te leer ken. En sommer gou kom ons agter hoekom is Miya so mal oor hulle, dis definitief nie net omdat sy saam Stella en Amy kuier as sy daar is nie. Die twee mense het harte van goud. Ons verlede en ons hede pas soos ‘n “puzzle” inmekaar in. Ons kuier die dag asof ons al 10 jaar lank vriende is.

Graham steek vir ons ‘n vuurtjie aan, dis altyd vir my interessant hoe elke persoon sy/haar (ons vrouens is ook mal oor vuurmaak) eie manier van vuurmaak het. Jy het jou manier erens geleer of afgekyk by iemand. Dit werk vir jou. En nou maak jy die res van jou lewe so vuur. My manier van vuurmaak is baie soos Graham s’n. Ek het dit by my ma geleer. (My pa was nie die wereld se grootste braaier nie, hy het altyd gesê hy kom van die Kaap af, hulle braai nie baie daar nie)

Stories teen die muur

Iets wat vir my BAIE interessant is is die stories teen mense se mure (en yskaste) Het jy dit al opgelet?

Ek was al by baie mense wat ‘n 1000 piece puzzle wat hulle op ‘n stadium gebou het, laat raam en teen die muur opgehang het.

En elke legkaart het ‘n storie. Winston-hulle het ‘n luiperd “puzzle” teen die muur, maar ek het nie oor dit gevra nie.

Wel oor die ander goed teen die muur.

Windpompe en die Karoo

Hier is Winston voor twee fotos van windpompe wat hy geneem het, en toe laat druk het op “canvas” Hy het my vertel waar hy dit geneem het, ek kan nou net nie onthou nie. Maar die waar is nie die belangrike deel nie. Dis die hoekom. Die twee fotos definieer hom, dit vertel waar hy vaandaan kom, wie hy is, en wat vir hom belangrik is. Dis hoekom hulle daar hang. So in ‘n sekere mate IS die twee fotos Winston.

Winston het op ‘n plaas in die Karoo grootgeword. Naby Prins Albert, sy pa was ‘n plaasbestuurder. Later het dinge met die droogte begin swaar gaan op die plaas. Winston sê hulle het partykeer die windpomp met die hand gedraai om water te kry. Winston se pa trek toe sy hele familie Oudtshoorn toe. Daar werk Winston se ma by die OK Bazaar vir 25 jaar en Winston se pa werk eers in die hotel se kroeg, en later by die weermag. Maar daardie eerste 11 jaar op die plaas kry jy nie uit Winston uit nie. Dit was sy vormingsjare. Die tye daar as klein plaasseuntjie sal hy nooit vergeet nie. Hy is ‘n Karoo mens, ‘n goeie mens. Karoo mense gee om vir mekaar, en laat nie toe dat die lewe hulle onderkry nie. Amanda word ook op Oudtshoorn groot, alhoewel hulle mekaar eers later ontmoet. Soos Winston sê: “Dis ‘n ander dag se storie wat ek jou oor ‘n rum’pie sal vertel”

So die twee windpomp fotos verduidelik alles van hom. Ek is seker Winston sal wat wou gee om nou nog op daardie plaas by Prins Albert te sit. Maar nou moet dit maar die stad wees. Want dis die paadtjie wat die lewe met hom geloop het. Mens kan egter maar terugdink. Elke nou en dan as jy by die twee windpomp fotos verby loop en na hulle kyk. Wat was, en wat kon gewees het.

Vlakvark Tande en Pa en seun oomblikke

Graham voor die vlakvark wat hy geskiet het se tande. Die eerste en enigste dier wat hy nog geskiet het. Winston het gaan jag en vat die 14 jarige Graham saam. Dis bietjie pa en seun tyd. Hulle sit en wag in die skuiling vir iets om te skiet, maar daar is niks. Winston gaan sit later agter in die skuiling om ‘n sigaret te rook. Hy sê nog vir Graham:” As iets verby kom skiet jy hom” Graham het voor vandag nog net met ‘n windbuks geskiet, en hier staan nou ‘n .303 langs hom. En net daar kom ‘n groot vlakvark aangestap. “Skiet hom Graham” roep Winston uit. Graham gryp maar die .303 en skiet. En toe hy skiet draai die vlakvark. Graham skiet hom agter in en voor by die kop uit. So al wat oorbly vir die muur is net die tande. En die storie. En die herinneringe aan ‘n pa en seun naweek.

‘n Skateboard Vadersdag

Graham se vadersdag gesskenk vir sy pa. Dit het ‘n ereplek op die stoep. Graham is ‘n groot skateboarder. Hy saag toe ‘n skateboard middeldeur en sit ‘n botteloopmaker op dit vas. Maar die beste idee is die magneet onder die oopmaker. Dit keer dat die doppies op die vloer val. Praktiese mense die Chamberlains. En ook omgee mense. Party mense koop ‘n kaartjie met vadersdag, ander mense maak iets besonders.

Plate…en Nostalgie

Ek vra vir Winston wat is die storie met die plaat teen die muur? Het hy dan gesing? “Nee” Sê hy. “Jare gelede toe cd’s begin uitkom toe sê ek vir Amanda, ons moet een van die plate laat raam, eendag gaan ons kinders nie weet wat dit was nie, dan kan hulle sien”

En nou is cd’s ook al uit. Ons het nou Itunes.

En plate (of Vynils soos hulle deesdae sê) is al weer terug. Dit lyk my alles is ‘n sirkel, mens loop altyd na ‘n rukkie in jou verlede vas. Hoe meer dinge verander hoe meer bly dit dieselfde.

Nostalgie. Ons dink aan wat was. Onwillekeurig reik ons terug na die verlede en gebruik dit om ons toekoms mee te bou. Dis hoekom mense weer plate koop, hoekom ek weer op film begin afneem. Die legkaart stukkies van verlede en hede pas inmekaar in. En maak saam ‘n prentjie. Een wat die moeite werd is om te raam en op te hang.

Datsuns

Hierdie 1976 Datsun het ‘n ereplek in die Chamberlain familie. Eintlik lyk dit my hulle is Datsun mense. Winston se pa koop die bakkie in 1979, en sy ma ry vir jare lank met die Datsun bakkie OK toe waar sy werk. Later neem Winston die bakkie oor. Die bakkie is nou al 40 jaar in die Chamberlain familie, en nog in net so ‘n goeie kondisie as die dag toe hy gekoop is. En die Datsun bakkie sorg ook vir die volgende storie.

Winston se eerste kar was ‘n Datsun GX, so ‘n vaalkleurige een.

So twee jaar gelede soek Winston ‘n spieëltjie vir sy Datsun bakkie. Graham bied aan om op die internet te help soek. Hy kry toe ‘n Oom in Potchefstroom wat nie ‘n spieëltjie wil verkoop nie, maar wel sy valerige Datsun GX. ‘n Presiese replika van Winston se eerste kar. Graham sê sommer dadelik vir die Oom: “Jy kan maar my pa se naam op die Datsun skryf, ek ken my pa, hy gaan hom vat.” 3 weke later gaan koop Winston hom toe. Die Datsun het nou ook ‘n ereplek in die familie. Dit was selfs Yolandi en Graham se troukar gewees.

Party dinge is net belangrik. En Yolandi verstaan dit. Sy is ‘n Westermann, en Westermann’s verstaan lojaliteit en tradisie. Dis is een van die deeltjies van hoe die legkaart inmekaar pas. Dis hoekom ons familie is, en goed oor die weg kom. Winston en Amanda. Graham en Yolandi, en dis hoekom Surika en ek vriende en familie met hulle is. Tradisie, lojaliteit en familie. Ons onthou die klein maar belangrike deeltjies van die verlede wat die hede vorm. Die wete dat waar jy was bepaal waar jy eendag gaan wees. Dat hoe jy optree teenoor ander bepaal hoe JOU lewe gaan wees.

Die foto langs die Datsun s’n is een oggend deur Winston geneem op Richardsbaai se strand. Hy was daar vir werk en hy en twee kollegas het ‘n lang ent gaan stap op die strand toe die son uitkom. As mens in die Karoo grootword sien jy die mooi in die lewe raak…en gaan soek jy dit!

Belangrike dinge in ‘n kroeg

Die belangrikste dinge kom in jou kroeg. En dis nooit die drank self nie. Dis die herinneringe en spesiale oomblikke wat mense wil onthou wat hulle in die kroeg uitpak of ophang. Daardie ’97 potjiekos kompetisie wat jy gewen het, en fotos van jou kinders se karate prestasies. Die onthou dinge. Ons neem nie fotos en hang dit op vir nou nie. Ook nie vir more nie. Maar vir wanneer ons die belangrike dinge begin vergeet.

Sodat ons kan terugdink.

En onthou.

Amanda

Amanda hou nie van fotos nie. Sy wil nie die aandag op haarself gevestig hê nie, sy wil eerder daar wees vir ander mense. Dis hoekom sy vandag ‘n suster is en ander mense help, en dis hoekom alle kinders so welkom voel by haar. Maar daar is darem ‘n mooi foto van haar langs die kroeg. Dis in 1974 deur ‘n fotograaf genaamd Piet Smit van haar geneem in sy studio. Die dae toe fotos en oomblikke nog belangrik was. So belangrik dat die fotograaf nog sy naam op ‘n foto geskryf het as hy dit neem. (As ek vandag my naam op ‘n foto skryf sal die klient weier om te betaal daarvoor.) Vandag het almal selfone, met kameras in. Miljoene fotos word elke dag geneem. En geeneen word ‘n prentjie op ‘n muur nie. Dit kom net op die Facebook muur. En ons sien dit skaars raak. Die lewe en ons Facebook “feed” stroom by ons verby. “Vriende” word mense wat jy nog nooit mee gekuier het nie en niks mee in gemeen het nie. Hulle sal nie jou prentjies teen die muur verstaan nie. Hulle wil net ‘n knoppie druk. Iets “like” en aanbeweeg. Baie “vriende” wat ons het deesdae is deel van ‘n legkaart, maar nie noodwendig van ons legkaart nie.

Gelukkig het Stella besluit om die foto van Ouma Amanda uit te haal en erens te vertoon. Ek het die foto gevat en vir Winston gesê ek gaan dit vir hom laat raam. Sodat dit opgehang kan wod op ‘n spesiale plek. Want Amanda verdien dit. Sy is soos my ma, hulle gee net altyd vir ander, en dink nooit aan hulleself nie.

Nou gaan ons braai…en kuier.

In party huise braai die mans en die vrouens maak slaai. Graham braai en maak sommer self die slaai. Dis nou wanneer jy weet jy het reg gekies nê Yolandi?

Die jonges en die oueres. Eendag sal ons kinders ook terugdink aan die spesiale oomblikke van die verlede, aan dae soos Stella se partytjie gister. Oomblikke wat ons vir hulle help skep het.

Stella, jy moet lekker verjaar op 20 Desember. Jy is ‘n spesiale ou dogtertjie, en een van Miya se beste vriendinne. Jy, Amy en Miya gaan altyd daar wees vir mekaar. Julle gaan eendag mekaar se “bridesmaids” op mekaar se troues wees. Julle is reeds besig om julle “puzzle” saam te bou. Julle gaan eendag julle eie prentjies teen julle mure in julle huis hê.

Prentjies wat JULLE stories gaan vertel.

En daardie prentjies gaan julle laat terugdink aan spesiale oomblikke soos vandag.

Winston, Amanda, Graham, Yolandi, Timothy en Baby. Gister was baie lekker, baie dankie. Ek sal die dag baie lank onthou, spesifiek oor die gehalte mense waarmee ek dit deurgebring het.

Dis lekker om in dieselfde puzzle as julle te wees.

TAGS
RELATED POSTS