Holidays

Thabazimbi Plaas naweek – Sep 2019

By
on
18/10/2019

Familie is BAIE belangrik.

‘n Gelukkige familie is die klein deeltjie wat ‘n gelukkige en vooruitstrewende gemeenskap vorm. En ‘n gelukkige gemeenskap gaan uiteindelik ‘n gelukkige land vorm. En ‘n gelukkige land ‘n gelukkige wereld.

 En ek dink dis juis wat ons nie nou het nie. En baie nodig het.

Want jy sien. Dis nodig vir ouers om tyd saam met hulle kinders te spandeer, sodat die kinders kan sien hoe die ouers dinge hanteer, sodat hulle na die stories van hulle families kan luister, en dit eendag weer aan hulle kinders kan oorvertel.

Van geslag tot geslag.

Dis nodig dat kinders met hulle niggies en nefies meng, sodat hulle hulle eie sterk bande kan vorm vir die dag wat die ouers nie meer eendag daar is nie.

Een vrot appel kan die hele boks appels vrot maak, selfs geslagte later. So wat ek en jy doen dra gewig, wat ons doen beinvloed hoe ons nageslagte lank na ons dood gaan wees.

Ons het nooit my ma se familie baie goed geken nie. Jare terug het my een Oom besluit dat hulle 5 kinders (wat toe al oud was) een keer ‘n jaar moet bymekaar kom, dan kon hulle lekker gesels oor die ou dae en die bande optel wat grotendeels verbreek was. Hulle het die plekke gaan besoek waar hulle as kinders grootgeword het. Ek het gesmeek dat al die ouers hulle kinders en kleinkinders moet saambring, sodat ons na hulle stories kan luister, hulle plekke kan sien, en en ons niggies en nefies kan leer ken. My oom wou niks weet nie, die jaarlikse bymekaarkoms was vir hulle 5 kinders.

So twee drie jaar later is my ma oorlede. Ek het toe nou nooit my niggies en nefies leer ken nie, nooit geleer van my ooms en tannies se verlede en gesien waar hulle grootgeword het nie. Ek het drie jaar terug Springbok besoek waar my ma hulle ‘n plaas gehad het en grootgeword het. Ek het nie geweet waar die plaas is nie, ek moes dit by mense op die dorp uitvind. ‘n Plek wat vir my baie herinneringe en betekenis moes inhou was nou net nog ‘n oulike Suid Afrikaanse dorpie. Ek het daardie dag besluit dinge sal anders wees in my familie.

En dis hoekom ek die naweek gereel het. Logistiek was dit bietjie moeilik. Bertie bly in Beaufort Wes, en net om hom hier te kry en die 1009 km soontoe en 1009 km km terug te laat ry was ‘n duur storie. Om nie eers te praat van die 24 uur wat hulle op die pad is nie.

Maar in ag genome die groter prentjie was dit die moeite werd, want hierdie paar dae sal daar bande gevorm word wat vir almal baie sou beteken in die toekoms.

Ons het besluit om dit op Hennie en Ronell Westermann se plaas by Dwaalboom te hou. Hennie is Surika se oom. Yolandi se pa. Yolandi, Surika se niggie werk ook vir ons en sy en haar twee kinders gaan ook saam. En daar was natuurlik nie ‘n beter plek om dit te hou nie. Hennie en Ronell is by uitstek familie mense. Hulle plaas se lapa is vol van familie fotos en dinge wat as familie saam gedoen is. Hulle hele huis hang vol familie fotos. Yolandi spot dat as Ronel die dag nie meer daar is nie gaan dit haar ‘n week vat net om al die familie fotos af te haal. Hennie vertel vir ons dat Ronell nou al so in die foto ding is, sy weet al hoe werk die foto druk masjien in Thabazimbi se apteek en sy druk sommer self haar eie fotos uit. Hulle is ook twee mense wat gedurig hulle kinders betrek, hulle gaan saam op vakansie en kuier saam. Ons tipe mense. Familie mense.

Vrydag oggend 04:00 ry Bertie en Monique toe deur van Beaufort Wes af. Dit sou die eerste keer wees wat ons Monique ontmoet, en ook die eerste keer wat Monique Bertie se kinders sal ontmoet. Dis maar ‘n “scary” ding, om so nuwe mense te ontmoet. 12 ure later stop Bertie se wit Mazda voor ons huis. Na maande se whatsapps kan ons weer mekaar sien en met mekaar praat. Monique is toe net so oulik soos wat Bertie vertel het sy is.

Ek het die Saterdag nog ‘n troue en Bertie en Monique gaan na ons kleinkind, Leia, se konsert kyk. Monique slaag haar tweede vuurdoop, Leia en Mika is mal oor haar.

Die Sondag oggend vertrek ons 09:00 plaas toe. Bertie, Monique, Leia en Mika ry saam met my en Surika in Mufasa en Timothy, Yolandi, Miya en Yolandi se kinders Amy en Stella ry saam met Yolandi in haar karretjie.

Op die plaas aangekom wag ‘n glimlaggende Hennie en Ronell ons in. Hennie het die hout laat kap vir ons 4 dae se kuier en Ronell het die plek skoongemaak vir ons. Ons gaan sit almal by die kroeg en kuier en ruil stories uit. Hennie het nog nie ‘n huis op die plaas gebou nie, as jy daar kom slaap jy in ‘n ou groen bus en karavane. Maar die “entertainment area” is perfek. Ander mense bou eers die slaapplek en dan die “entertainment area.” Maar die mense se prioriteite is reg. Dis die kuierplek en die stories rondom dit wat onthou word. Nie waar jy geslaap het nie.  Hennie los sy bakkie vir Yolandi sodat ons op die plaas kan rondry en ry terug huis toe met Yolandi se karretjie.

Die aand kuier ons te lekker. Party mense lekkerder as ander. Ons braai wors en Simon, een van die plaaswerkers, kom maak vir ons ‘n groot swart pot met pap. Ek maak ‘n Tamatie en uie sous. Dit vat my omtrent ‘n uur, dis die kleinste uitjies et ek nog gesien het. Yolandi maak vuur en braai, sy is op haar gelukkigste waar sy nou is. Regte plaasmeisie.

Surika en ek gaan slaap laterhand, maar die ander kuier verder. Later het Monique en Bertie ook gaan slaap, en dis Timothy se werk om verder met Yolandi te kuier. Nie ‘n maklike taak nie hoor. Die Yolandi is ‘n besige bytjie en sy hou van kuier, en as sy eers vlamgevat het stop jy haar nie maklik nie. Baie soos ‘n veldbrand.

Maandag oggend is ek 04:00 al wakker. Uit verveeldheid maak ek maar die kombuis skoon. Ons het letterlik elke ding in die kombuis vuilgemaak, dit vat my seker ‘n uur om alles skoon te kry en op te ruim. Ek geniet egter die stilte van die oggend en my eie gedagtes. Dis lekker om die son te sien opkom hier in die bosveld.

So teen 08:00 begin almal wakker te word. Yolandi lyk of ‘n trein haar getrap het. Ander mense se more, Yolandi se eerste woorde is, “Eina my kop, waar is die hoofpynpille!” Drie hoofpynpille en ‘n pleister op haar kop verder is sy reg vir die dag. Ek weet nie watter stories is die vorige aand by die vuur uitgeruil tussen die klomp nie, maar almal het lekker ge “bond” Presies waaroor die paar dae gaan.

Timothy self het nagevolge van die vorige aand. Ek gaan maak hom wakker met twee hoofpynpille, sy bedlampie in die karavaan is aan. Ek vra toe hoekom. Nee, vertel hy:” Ek wou eers bietjie lees toe ek gaan slaap en toe vergeet ek dit aan” Ek skud maar net my kop. Hy lees op sy selfoon en die skerm is verlig, ‘n bedlampie is glad nie nodig nie. Timothy vertel ook hoe deurmekaar hy die vorige aand was. Die karavaan waarin hy slaap het twee deure, maar hy het dit nie geweet nie. Toe hy in die karavaan klim die aand toe loop hy die paar tree na die bed toe. Later in die nag toe hy bietjie uitstap vir vars lug en terug klim in die karavaan toe klim hy by die ander deur in. Hy kan toe glad nie verstaan hoekom is hy nou so naby aan sy bed as hy inklim nie.

Monique praat van ys in die wors….maar sy het haarself maar net verspreek, dit het skynbaar niks met die vorige aand se kuiery te doen nie. Sy het sommer langs die vuur al aan die slaap geraak die vorige aand.

Bertie lyk die beste van die klomp. Ek moet sê, ek is nogal beindruk met hoe hy verander het. My wilde kind het verander in ‘n verantwoordelike jong man. Sy kinders geniet dit vreeslik om bietjie tyd saam Pappa te spandeer.

Die kinders speel ‘n hond uit ‘n bos uit. Hier is ‘n hele emmer vol speelgoed op die plaas. Ons maak ook vir hulle twee skulpies vol water. Hulle bak modderkoekies, dink nuwe speletjies uit, en geniet net mekaar se geselskap. Ons slaan later vir hulle ‘n gazebo op, in die son sal jy Honderde Rande aan son beskerming spandeer.

Maandag is maar ‘n rustige dag. Ons doen almal so min as moontlik. Mika ontpop in ‘n filmmmaker. Sy vat Bertie se selfoon en neem alles en almal af, met haar eie kommentaar daarby natuurlik. Dit is te kostelik

Leia sit op ‘n stadium in die toilet vas. Sy kom toe egter self uit. Miya is baie ongelukkig, sy wou inklim en haar gaan “red” . Soos Miya se: “It was my time to shine!”

Ons doen net lawwe goed, gooi mekaar met water, gooi die kinders met water. Dit was ‘n georkestreerde aanval deur die ouers wat met militere presiesie op die kinders uitgevoer is. Surika gooi vir Yolandi nat terwyl sy in die toilet is. En terwyl die werkers hier naby hout saag “bond” ons familietjie met mekaar, en die kinders vorm bande wat tot in hulle oudag gaan hou. Net soos Yolandi en Surika se bande al van kleins af gevorm het. Ek kyk rondom my, en geniet dit om vir die eerste keer in ‘n lang tyd my familie almal rondom my te hê.

Ons luister na Kenny Rogers wat “It takes a fine time to leave me Lucille” sing, en daarna na ou gunstelinge soos “Kids in America” Ons kuier , en ons gesels. Niks om te doen nie, maar baie om van mekaar te leer.

My pa is so twee maande terug oorlede, en ek veronderstel die mantel het nou op my geval om seker te maak ons bly ‘n familie. My broer Dirk en ek het klaar gepraat daarvan om in 2020 saam met sy vrou en kinders en myne na Mosambiek te gaan vir ‘n week of wat. Yolandi, Graham en hulle kinders moet definitief saam.

Ons ry na Jan Joubert se winkeltjie toe om ‘n paar dinge te koop. (Hoofsaaklik whiskey vir Yolandi) Hulle is egter uitverkoop. Ek gebruik sommer die geleentheid om bietjie op my eposse en whatsapp’s vir die besigheid op te vang. Daar is nie sein op die plaas nie.

Laat middag gaan ry ons op die plaas rond in Hennie se bakkie, ek bestuur en Surika sit voor by my, die res is almal agterop. Dop in die hand. Ons sien darem 5 zebras en drie baie vinnige vlakvarke wat van die buur plaas af na Hennnie se plaas toe deurkruip. Die kinders skree almal baie opgewonde….” Pumba!”

Die aand braai ons hoender en Surika se “famous” braaibroodtjies. Die kinders braai marsh mallows op die vuur met stokkies. Ek probeer al die hele dag ons treiler se krag uitsorteer, ondanks die solar wat aan is wil die batterye net nie die National Luna yskas aan die gang hou nie. Ek het dit nou al twee keer by 4×4 spesialiste gehad, maar hulle kry nie die probleem nie.

Miya, Amy en Stella het die vorige aand saam Yolandi in die treiler geslaap, vanaand wil Miya by ons slaap. Ek weet nie of ek sagter as Yolandi snork nie, en of sy maar net bietjie by mamma en pappa wil slaap nie. Maar dis heerlik om my twee “girls” te “snuggle.” Een van die dae is sy te groot hiervoor. En dan is die kosbare oomblik vir altyd verby.

My ma het my destyds van ‘n oomblik vertel wat ek altyd sal onthou. Ek was so twee jaar oud en saam my ma in ‘n winkelsentrum. Ek het my longe uit geskree. My ma was raadop en baie kwaad. ‘n Ou grys Tannie kom toe na haar toe en se: “My kind, geniet die oomblikke, daar gaan ‘n dag kom wat hulle groot is en wat jy wens jy kon hulle nog al skreuende by jou hê” Wyse woorde.  

Dinsdagogend slaap ek darem tot die son skyn. Vandag gaan ons by Hennie en Ronell kuier by hulle huis op die dorp. Ronell het ‘n feesmaal voorberei. Hoender, groente, wortelslaai en wat nog alles. Hennie wil elke paar minute vir jou nog iets skink om te drink. Gasvrye mense. Familie mense. Ons gesels oor alles en nog wat. Familie stories word ver terug uitgetrek en oorvertel. Ons wys vir Hennie en Ronell ‘n video wat ek gemaak het toe ons laas op die plaas gekuier het so twee jaar terug. Hulle geniet dit terdeë. Ons lag almal saam vir die lekker lawwigheid van die aand en Hennie en Pieter wat so lekker met hulle dogters gedans het. Herinneringe. Daar gaan ‘n tyd kom wat al wat die dogters van hulle pa’s gaan oorhê videos en fotos soos die en hulle herinneringe gaan wees.

Die kinders is pal in die swembad, ek neem nog ‘n paar fotos wat seker op Ronell se muur gaan opeindig, uitgedruk in Thabazimbi se apteek, oomblikke wat haar en ons altyd aan die spesiale dag sal herinner.

Timothy en Bertie het ‘n speel speel geveg wat opeindig met Bertie in die swembad en Timothy staande buite. Die klein boetie is toe nie meer so klein nie. Daar was ‘n tyd wat ek hulle altwee sou ingooi, nou nie meer nie. Die tyd stap aan. Dit word tyd om die fakkel aan te gee.

Laatmiddag neem ons familie fotos teen die mooi bosveld sonsondergang. Almal kry ‘n beurt om afgeneem te word. Ek voel so bevoorreg dat ek my hele familie rondom my kan hê. Eendag gaan my kinders en kleinkinders na die fotos kyk, en al die lekker oomblikke van die paar dae onthou. Dis so interessant hoe ‘n vakansie al lekkerder raak hoe langer hy verby is. Partykeer dink jy maande of jare later aan ‘n vakansie, en dan besef jy eers REGTIG hoe lekker dit was.

Mamma Miya

Ek en my mense.

Bertie en sy mense

Yolandi en haar kinders

Ons almal

Surika en Yolandi

Die manne

Bertie stel ‘n speletjie voor. Almal moet die res van die aand slegs met hulle linkerhand drink. As jy gevang word met jou regterhand drink moet jy of jou glas “down” of ‘n lammie kry. Surika is nie baie goed met die speletjie nie en word sommer gou twee keer uitgevang. Ek vang Monique ook later uit in die kombuis met haar regterhand drink. Ek sê ek sal vir niemand sê nie maar sy is baie eerlik. Sy “down” sommer dadelik haar glas.

Die aand braai ons hamburger patties en kuier om die vuur.

Later die aand is die water in die krane op. Yolandi en Timothy ry gou deur na Simon toe om uit te vind hoe werk die pomp. Die watertenk is leeg en moet eers weer bietjie volgepomp word. Dis nou ‘n gulde geleentheid om nog later te kuier want die tenk moet eers vol loop, so die waterpomp kan eers oor ‘n uur of twee afgeskakel word.

Ek is lekker moeg. Bertie vertel die storie dat jy eers kan gaan slaap as jy ‘n satelliet in die hemelruim sien. Ek kyk en kyk maar sien niks. Ek gaan slaap toe maar sonder dat ek die satelliet sien.

Vanaand slaap al die kinders weer by my en Surika in die tent.

Die volgende oggend was die kinders die skottelgoed en ons maak ‘n lekker ontbyt.

Vandag is die laaste dag van ons vakansie en ons gaan ons by Linette en Jacques en hulle kinders op die buurplaas kuier.  Hoekom gaan ons by Linette hulle kuier? Omdat hulle familie is? Ek dink nie dis al rede nie. Hulle het dieselfde waarde sisteem. Familie beteken vir hulle alles.  Dis snaaks hoe die lewe werk. Soort trek altyd soort aan. Dis hoekom Surika en ek bymekaar is, Graham by Yolandi is, Hennie en Ronell bymekaar is. Ons mag baie verskillend wees. Maar ons dink dieselfde. Ons familie beteken vir ons alles. Die kuiertjie by hulle is toe te heerlik.

Die kinders red ‘n paar visse uit die dam uit. Dis maar droog hier in Thabazimbi.

Ons kuier onder die bome by Tommie en Bettie

En later die middag vat Jacques ons na hulle skietbaan toe. Hier kry almal ‘n geleentheid om met een van Jacques se gewere te skiet. ‘n .375, 30-06, .22 en Haelgeweer. Bertie is nogal ‘n uithaler skut met die haelgeweer en gaan skiet later na die skietbaan ‘n fisant ook.

Die aand braai ons heerlik by Jacques en Linette, ek moet sê, elke keer as ons hier kom kuier ons ‘n hond uit ‘n bos uit, en elke keer doen Jacques iets spesiaals vir ons. Laaskeer het hy ons laat boog skiet, en die keer nou met die gewere. Hierdie mense is regtig ons hartsmense. Jy kan letterlik enige tyd van enige dag daar aankom en hulle sal jou hartlik ontvang en heelaand saam jou kuier. Ons sluit die aand af met ‘n hasejag op die plaas. Linette bestuur en jaag soos ‘n wafferse Dakar bestuurder deur die lande. Die kinders geniet dit vreeslik. Dankie Tommie, Bettie, Jacques en Linette, julle is regtig BAIE spesiale mense.

Die volgende oggend pak ons op en gaan terug huis toe, Ons stop in Brits om klere van Monique op te tel, en terwyl ons die bokse op die dak vasmaak steel iemand wragtag my en Surika se selfone uit die kar uit. Dis nou nogal skade want baie van die fotos en videos van die naweek was net op ons selfone geneem. Al Miya se hokkievideos was ook op Surika se selfoon. Memories wat ons nooit sal terug kry nie.

Dankie aan almal wat saam was wat die paar dae so spesiaal gemaak het. Ek is baie lief vir julle almal hoor. Monique…welkom in die familie.

TAGS
RELATED POSTS