Naweke

Tzaneen, Zebediela, Groothoek Hospitaal naweek trippie

By
on
20/02/2018

Tzaneen, Groothoek en Zebediela

3 Februarie 2018 – 5 Februarie 2018
Ons ry: 915km

‘N Mens het nie altyd baie tyd nodig om lekker ervarings te hê nie.

Ons is die naweek van 4 Feb 2018 na Tzaneen om ‘n troue te gaan afneem. Die troue was eers die Sondag. Surika en Timothy en ek het toe al Saterdag oggend vroegerig deurgery, ons wou rustig by ‘n paar plekke omgaan op pad Tzaneen toe. Miya het by Yolandi gebly vir die naweek.

Die N1 verby Polokwane was soos altyd doodvervelig. Behalwe by Mokopane. ‘n Bus van Xilumani Coaches probeer ons verbysteek. Ons ry klaar 120 km per uur in die linkerbaan, maar hy wou vinniger. Hy ry vir ‘n lang ruk langs ons in die regterbaan en het nie genoeg spoed om ons verby te steek nie. Hy besluit toe hy het genoeg gehad en draai sommer oor na die linkerbaan met ons langs hom. Ek moes net briek of ons was van die pad af. Eish.

Haenertsburg

Ons ry die middag by Haenertsburg in Magoebaskloof verby op die R71. Ek onthou die dorpie se naam. Op skool het ons partykeer teen hulle meegeding. Ons sien net motors die wêreld vol staan en besluit om te gaan kyk wat gaan aan. Volgens die 2011 sensus bly hier 282 mense op die dorpie. En hulle is definitief almal vandag hier by die jaarlikse Berry Festival. En sommer baie meer mense van oral oor.

Hierdie is een van daardie baie lekker klein-dorpie feeste. Almal het ‘n stalletjie in die hoop om ‘n ekstra ou geldtjie te maak. Jy kan jouself hier trommeldik eet aan alles wat verkoop word. Berries natuurlik, Worsbroodtjies, kerrie en rys, doughnuts, biltong, wors op stokkies ens. Die Biertuin sit propvol. Ons koop ‘n halwe salami (R120), bokkaas bolletjies (R75) en sommer ‘n heerlike vrugte blatjang (R23) vir aandete. Surika en Timothy koop ook doughnuts…waarmee hulle nie baie beindruk is nie.
Ons maak ‘n draai by Once upon a Thyme, ‘n klein koffie en boek winkel. Binne in die winkel is die gepaste slagspreuk. “Book lovers never go to bed alone” ‘n Ouerige tannie vra vir die verkoopsdametjie of sy ‘n boek van Chris Barnard het…”die hartsjirurg jy weet Hartjie!”

Ons ry ‘n draai deur die pragtige dorpie, en kies dan verder koers deur die skilderagtige Magoebaskloof na Tzaneen. Die pad drentel stadig afwaarts deur die boom bedekte berge. Fotogeleenthede is oral om jou. Plek om te stop ongelukkig nie.

Debengeni Valle S23° 49.157′ E30° 01.806′

Ons volgende stop was die Debengeni Valle. Ek was as kind van so 10 jaar oud laas daar. Ek onthou die baie mooi natuurskoon. En my Tannie Joekie wat my niggie Mareca probeer keer wat by die gladde rotse afgly. Terwyl Tannie Joekie met Mareca raas gly altwee al verder af want hulle kry nie gestop nie, die rotse is te glad. Mareca huil, Tannie Joekie raas, en altwee gly. En ons lag.

Die natuurskoon is ongelooflik mooi, Die Ramadipa rivier stort so 80 meter met die valle af in ‘n groot poel, vanwaar dit weer met gladde rotse afloop en uiteindelik in die Magoebaskloof dam uitloop. Die Pedi mense het die waterval die naam “Debegeni” gegee. Dit beteken “Plek van die Groot poel”

Jy ry so 3 km se grondpad, wat nie te sleg is nie. Daar was mense wat dit met hulle gewone motors gery het. Die ingangsgeld is R10 per persoon en R10 per kar. Ons R10 fooitjie het die wag by die hek sommer baie breed laat glimlag.

Daar is baie lekker piekniekplekke en braaiers vir ‘n lekker middag kuiertjie onder die hoë bome. Ablusiegeriewe is ook redelik skoon. Defintief een van die beste plekke waaraan ek kan dink om ‘n middag by deur te bring.

Surika het vir ons lekker broodtjies gemaak vir die pad en ons het 2 twee liters Coke en ‘n liter Sprite agter in die yskas. Ons het besluit die kos en koeldrank kopery langs die pad raak te duur. Ons het mos die yskas in Mufasa laat inbou, ons gaan dit bietjie begin gebruik. (Ongelukkig het ons probleme begin ondervind op die tweede dag) Iets is fout met ons elektriese sisteem.Ramon van LA Sport moet maar volgende week hierna kyk.

Tzaneen

Ons slaap die aand by Highgrove Lodge in Tzaneen. ‘n Baie lekker plek. Ons gaan sit langs die swembad en drink elkeen ‘n bier. Die enigste irritasie is dat daar ‘n groep mense van een of ander Lamborghini Klub ook daar is. Hulle is luidrugtig, vloek kliphard en sit hulle musiek kliphard op hulle boombox.

Die Sondag is die troue. En dit was ‘n lang een. 14 ure om presies te wees. Ons was doodmoeg.

Een van die hoogtepunte vir my was die “shoot” by die pragtige dam by Polisi en in ‘n plantasie. Hulle trou in die Katolieke kerk in Modjadjiskloof. ‘n Pragtige kerkie.

Die troue was by die Fairview Hotel. ‘n Pragtige plek met uitstekende diens en kos.
Ons kom die aand 11:00 doodmoeg by die huis aan. Timothy en ek gaan vat ‘n vinnige swem in die Lodge se swembad…yskoud, maar verfrissend.

Maandag oggend is ek so 05:30 op. Ek is eerste ding op my ipad en lees die nuusberigte. Die ANC Top Ses het die vorige aand met Jacob Zuma vergader en hom skynbaar gevra om te loop. Is hy in of uit? Lyk my nog in vir ‘n rukkie. Ek sien uit na ons dag se huis toe ryery. Ons gaan van die N1 afbly en al die agterpaaie ry. Ek wil ook op Zebediela by my ou laerskool ‘n draai maak. Ons dag gaan defintief baie lekkerder as Zuma s’n wees.

Ons ry weer deur Magoebaskloof nadat ons eers ‘n ontbyt van oorskiet salami en Bacon Kips van Vrydag aand ge-eet het. Die mis hang dik rondom ons. Werklik ongelooflike natuurtonele.

Ons kry Cappucino’s en seker die grootste Choc Dip Koekie wat ek in my lewe gesien het by Minki’s in Haenertsburg.

Die mistigheid hang tussen aan die bome.

Moria

By Moria Draai ons links van die R71 af. Ons plan is om nou by Chuniespoort deur te ry, daarna deur Lebowakgomo en dan Zebediela. Die ZCC se groot ster is met wit klippe teen die berg uitgepak.
Die reuse ZCC kerk het 16 miljoen lede. Elke April sak oor die miljoen lede van die kerk toe op Moria wat hulle spirituele hoofstad is. Pastoor Lekganyane is die hoof van die kerk. Ek onthou toe ek ‘n kind was is daar vertel dat die pastoor so baie geld inkry met die April langnaweek dat Volkskas in Pietersburg die dag na die langnaweek net vir hom oopmaak. Of dit die waarheid is weet ek nou nie. Maar dis ‘n indrukwekkende storie, en ‘n nog meer indrukwekkende kerk. Hierdie mense dra almal ‘n ZCC kruis op ‘n groen lappie aan hulle klere. Ek onthou toe ek jonk was het almal altyd gepraat van hoe eerlik is die ZCC mense. Jy kan hulle net aanstel in ‘n werk…altyd betroubaar het my ma vertel. Ons huishulp Sara Sithole was self in die ZCC.

Ons ry deur die vlaktes in die rigting van Chuniespoort. Hier is vreeslik baie huise, en bitter min mense. Nie eers baie taxis wat gewoonlik oral is nie, ek wonder hoekom.

Die berge rondom Chuniespoort is ontsettend mooi.

Groothoek Hospitaal

En ewe skielik ry ons verby Groothoek. My grootword plek. Ek was hier vanaf Gr 2 tot en met st 9. Toe was dit ‘n pragtige plek. Ons het hier fietsgery en berg geklim. Die grootmense wat by die hospitaal gewerk het het elke maand saam ‘n braai gehou by die ontspanningssaal. Elke oggend het almal op pad werk toe eers in die saal bymekaar gekom vir skriflesing en gebed. Vandag is daar niks van die plek oor nie. Ons ou huis waar my ma die tuin met soveel liefde opgebou het is nou net ‘n kaal stuk grond. Feitlik enkele plant wat daar met liefde geplant is is verwyder. Waar is al die pragtige alwyne heen? Die Swembad het bosse wat in dit groei. Die paaie is stukkend en vol gate.

Ek staan verbysterd deur die verwoesting. My klein seuntjie plekke lê aan skerwe. Hoe kan enige iemand so ‘n bate so laat agteruitgaan? As daar so baie mense is wat nie huise het om in te bly nie?
Ons huis staan nog, maar staan leeg en alle deure en ligte is lankal uitgeruk. Die eens besige hospitaal staan leeg. Dis baie tragies om die plek so te sien. Hier is miljoene in die plek ingedruk, hier was van die beste mediese dienste, teaters en dokters van sy tyd, en vandag is die plek vervalle?

Ons het darem ‘n steggie van ‘n plant wat my ma nog geplant het op ons erf afgepluk.

Iets om my aan die mooi Groothoek en my ma te herinner.

Iets van Groothoek wat gaan groei en met liefde gaan versorg word.

JC Crafford

Zebediela

Hierna ry ons Zebediela toe. Hierdie was eens die grootste sitrus plaas in die Suidelike halfrond. Daar was lemoenbome sover jy kan kyk. Dit was ‘n vooruitstrewende plekkie wat baie goed bestuur is. Vandag is hier amper niks oor nie.

Wat presies hier gebeur het? Hoe kan so ‘n uiters suksesvolle plek so in die grond in bestuur word?

Ek ry by al die bekende plekke om.

Die lemoen fabriek staan verlate.

Langs die pad staan ‘n waentjie wat eens op ‘n tyd vol lemoene op pad was na die fabriek, vir verskeping oorsee. Nou is dit vol hout gepak.

Die saal waar ons kerk gehou het word nie meer versorg nie. Hier het die gemeenskap Saterdag aand fliek gekyk in die saal, en Sondag kerk gegaan. Die stoele het nog dieselfde oortreksels oor as in die 1970’s. Ek kyk deur die venster in die saal in. Ek kan nog vir ou Ds van der Westhuizen voor in die kerk sien. Met sy ouderlinge en diakens wat met stroewe gesigte in die voorste ry sit. En agter hulle al die tannies met hulle hoede op wat die kinders alleen probeer stilhou. Pa sit mos voor in die diaken bank.

Ons ry na die tennisbaan.Niks oor nie.

Die groot swembad waar ons galas geswem het. Dis nou net ‘n gat in die grond met hoë gras rondom. Ek onthou nog hoe Pieter Lotter hier die een swemrekord na die ander opgestel het. Sy rekords staan nou defintief vir altyd.

Die rugbyveld se pale staan skeef in die veld waar eens op ‘n tyd gras was. Hier het ons harde wedstryde gespeel teen ander skole. Ek onthou hoe Magiel ons ster speler was. Hy het menigte wedstryde vir ons op die veld gewen,  seun alleen.

Leë huise staan oral. Hier het Herman van der Westhuizen gebly (Worsie), daar het Daleen hulle gebly, Magda-hulle. Die herinneringe is nog daar, die mense nie. Ek wonder nogal waar almal vandag is en wat hulle doen?

Zebediela laerskool S24° 18.245′ E29° 15.380′

Nou het ons die skool ingesleutel op Google maps. Ons ry die grondpaadtjies op en af. Party plekke wys Google draai hier af, en dan is daar nie eers meer ‘n pad nie. Op ‘n ander plek ry ons deur gras wat hoër as Mufasa se dak is. Net om by ‘n doodloop uit te kom. Eventueel kom ons by ‘n gesluite hek, die skool kan nie te ver anderkant die hek wees nie. ‘n Ou swart man, John, kom aangedraf. Hy sluit vir ons oop. Hy vertel ons van die mooi huis waar die hoof van die landgoed altyd gebly het. In ons tyd Pieter Lotter se pa. Nou staan die plek leeg. Hy hou die plek in stand. Hy sê een van die dae kom daar skynbaar ‘n Rus intrek. Ons druk R10 in sy hand. Dankie Morena se hy.

Ons kry eventueel die skool.

Ek was hier vanaf 1970 tot 1975. Gr 2 tot St 5. Ek was selfs onder hoofseun. (Daar was net 8 seuns om uit te kies in St 5 so dis nou nie die grootste prestasie gewees nie)
Ons was nooit eers 100 kinders in die skool nie. Vandag is daar 400 kinders in die skool.

Ons skool se wapen staan nog trots by die ingang. Ons leuse: “Arbeid dra vrug” Die ironie is daar is nie meer Afrikaanse kinders in die skool nie. Maar die leuse is nog in Afrikaans.

Die skool het al twee jaar lank nie meer krag nie. Die kabels word gereeld gesteel. ‘n kragopwekkertjie staan en lawaai eenkant op sy eie. Die water vir die skool word gekoop en aangery. Die toilette word met emmers ge”flush” verduidelik die een juffrou my. Waar groen gras was is nou bossies. Ek onthou hoe ons elke Vrydag oggend op aandag gestaan het terwyl ons die landsvlag hys. Jy mag slegs die vlag gehys het as jy skoene aangehad het.

Mnr John Vorster, destydse eerste minisiter het selfs eendag by die skool ‘n draai kom maak. Ek dink daardie dag het almal skoene aangehad op die plaasskooltjie. Ek onthou nog hy het vir my baie kwaai gelyk.

Ons skoolsaal. Elke Maandag kom ons hier bymekaar. Ons sing die Stem, dan die Skoollied: “Aan die voet van die Strydpoort berge, omring van die skoonste natuur, staan ons skooltjie klein maar trots…”
Ek kan dit vandag nog sing. 43 jaar nadat ek dit laas hier gesing het. Die klavier waarop Juffrou destyds ons begelei het staan steeds daar. Ek onthou ons operettes, met opgewonde ouers wat die skoolsaaltjie volsit om te sien hoe doen hulle Jannie of Grieta. Agter in die hoek van die saal was die biblioteek. Eintlik net twee lank rakke met boeke in. Ek het seker meer boeke hier uitgeneem en gelees as die meeste ander.

Die atletiekveld. Hier het ek menige kere laaste gekom. Of ek of Lesley Greeff. Nie een van ons twee was natuurlike atlete nie. Ons sportspanne was die Navels en die Valencias. Die twee tipes lemoene wat verbou is op Zebediela. Ek was ‘n Navel. Vandag is daar ‘n Lemons span ook. Hulle is nou te veel kinders vir net twee spanne.

Ou herinneringe van jare terug spoel in my geheue in. Dinge wat ek gedog het ek het lankal vergeet. Persone wat ek weer onthou. Oomblikke, slegtes maar ook baie goeies. Ek dink met dank terug aan die onderwysers wat my lewe gevorm het. Onderwysers soos Juf Lourens en Mnr Ben Vorster.

Ek sien die rooi baksteen muur waarteen my pa altyd die skool se fotos vir die jaarblad geneem het. Hy was die nie amptelike fotograaf op Zebediela. Vandag is dit my professie.

Hier is ek as kind gevorm, liefde gegee, pak gegee en geleer om eendag ‘n man te wees.

In my hart is ek steeds trots om ‘n Zebbie te wees.

 

 

Ons ry verder. Deur Immerpan, Roedtan en klim op die N1 net duskant Wallmanstal. Dit was ‘n kort twee dae. Maar met al die herinneringe van jare voel dit of ek dae lank op vakansie was. Ek is uitgerus. Weer reg vir werk.

Al wat mens aan die einde oor het is net jou herinneringe. Maak seker dis goeies.

TAGS
RELATED POSTS