Vakansies

Ons Wildcoast/Transkei 2015 trippie.

By
on
18/05/2016
26 Desember
 
Ons staan die oggend 04:00, eintlik 4:30 op en pak vinnig die laaste goedtjies. Ons vakansie Wild Coast toe het begin. Ons stop om petrol vol te maak, bande te pomp en elkeen ’n pie en koeldrank te kry voor ons Chucky en Skillie se neuse kuswaarts druk.

Ons het nog nie eers plek bespreek vir die eerste aand of groceries gekoop vir die vakansie nie, daar was net nie tyd nie. Ons sal dit erens langs die pad doen. Maar eers haal Surika bietjie slaap in. Sy het die vorige aand net 4 ure geslaap want sy het eers ons wasgoed gewas. Timothy en ek gesels maar terwyl die girls slaap.

Naby Frankfort erens stop ons vir ’n Wimpy burger.

Dan weer verder, teen middagete se kant ry ons Harrismith binne. Ons gaan na die Country Meat Market om vleis te koop. net nadat ons betaal het sien ons die beesvleis is vrot. Hulle gee nie terugbetalings nie so ons moet iets anders vat (Wat, meer vrot vleis?) Ons vat toe maar pakke chips, hulle sien ons nie gou weer nie. Toe gaan gas volmaak by die chinees op die dorp, Harry’s general dealer (wonder of sy naam regtig Harry is) R200.00 later vir twee gas bottels voel ek bietjie ingedoen en bietjie bly ons het nou gas. Volgende is groceries by die Spar. Nou is ons gesort en reg vir die trip. Surika begin te bel en kom af op Khotso Horse trails in Underberg. Ons gaan die eerste aand daar slaap. Ons stop langs die pad nog by ’n padstal wat die lieflikste vleis het, ons is nou sommer spyt ons het by Country Meat market in Harrismith gestop, ons koop biltong en koeldrank en amper ’n poncho vir Surika en amper ’n Nguni vel. Sjoe, op vakansie wil mens net koop.

Anderkant Howick draai ons af Underberg se kant toe, dis nou nog so 100 km se ry. En hoe mooi is die stukkie pad nie. Pratige groen golwende heuwels en dammetjies om elke hoek en draai. Ons moet defintief die plek bietjie verken een of ander tyd.

 
Wildcoast Vreklekker
 
 
Wildcoast Vreklekker 1
 
Khoto Horse trails is ’n plaas met ’n Bacpackers  aan die voet van die Drakensberg, hulle reël ekskursies vir twee en drie dae in Lesotho in. Dis nou definitief iets wat op my Bucket lysie gesit word. Die mense hier is baie laid back, ons kan sommer opslaan net waar ons wil, daar is nie eintlik ampelike staanplek nie. Ons gebruik ook dieselfde fasiliteite as die bacpackers in die huis. Teen R300 per aand vir ons almal is dit ’n bargain. Die aand eet ons net elkeen ’n hotdog, en toe kruip ons in. Die jaar se moeg is nog nie uit ons lywe uit nie.
 
 
 
Wildcoast Vreklekker 2
 
 
Wildcoast Vreklekker 4
 
Wildcoast Vreklekker 5
 
Wildcoast Vreklekker 8
 
Wildcoast Vreklekker 9
 
Wildcoast Vreklekker 3
 
Die volgende oggend word ons wakker met ’n pragtige gesig, die mis hang so af teen die groen heuwels en berge. Wat ’n rustige plek. Hulle sien ons weer.
 
Wildcoast Vreklekker 6
 
Wildcoast Vreklekker 7
 
Wildcoast Vreklekker 10
 
 
Ons eerste dag ry ons 633 km.
 
Underberg
 
Dag 2 – Op pad Sharks Point toe.
 
So teen 09:00 val ons in die pad, die Oos Kaap roep en ons is haastig om by die see te kom. Die natuurskoon bly net so mooi. Kan nie glo ons was nog nooit in die deel van die wereld nie. Ons stop by Kokstad en eet chips en drink koeldrank uit ons yskas uit, lekker yskoud. Ons nuwe krag sisteem werk baie lekker. Ons maak sommer vol ook. Ons eerste petrolverbruik lesing met die swaar sleepwa is 5,6km per liter. Ek het gedog dit gaan baie erger wees.
 
Wildcoast Vreklekker 11
 
Wildcoast Vreklekker 12
 
Ons stop ’n paar keer vir fotos neem langs die pad. Die laaste 100 km voor Port st Johns is die heuwels volgepak met huise. Ons wonder hardop waar werk al die mense en hoe kom hulle by winkels uit as hulle die dag geld het. Hierdie is sowaar ’n arm provinsie. Die laaste 70 km voor Port St Johns val ons 1100 m tot op seevlak. Dit is net draaie en bulte waar jy kyk. Op een plek is daar ’n bordtjie wat ’n supermark in Port St Johns adverteer, dit sê: “ Only 133 bends to go” haha. Ons probeer saam tel maar stop gou. Die mense hier ry soos varke, hulle raak moeg om agter ’n kar te ry en steek mens dan sommer op ’n wit streep op ’n draai verby met ’n trok wat aankom. Ek wonder hoeveel ongelukke is op die paaie.
 
Net anderkant Port St Johns word ons afgtrek deur ’n spietkop, 85km per uur in ’n 60 km sone. Ons het ook nog nie die kar se lisensie vervang nie. Only one way, wees so vriendelik as moontlik. Die ou kry ons jammer en stuur ons weg met ’n waarskuwing. Ek hou van sy professionele en vriendelike houding, en hy vra nie vir ’n bribe of hint daarvoor nie. Ek begin sommer al meer van die Oos Kaap te hou.
 
So 16 km anderkant Port St Johns probeer ons die man van Sharks Point se aanwysings te volg. Dit maak geen sin nie nie. Ons gebruik maar Google en die Garmin s’n. Ons is nou op ’n grondpad, dis ’n pragtige wêreld, met BAIE slegte paaie en baie vriendelike mense. Alle kinders wat jy verby ry skree uit volle bors: “SWEETS, SWEETS!” Ons sukkel om die plek te kry en ry ’n paar keer verkeerd, maar die pragtige natuurskoon maak op daarvoor.
 
Wildcoast Vreklekker 18
 
Wildcoast Vreklekker 17
 
 
 
Wildcoast Vreklekker 15
 
Wildcoast Vreklekker 14
 
Wildcoast Vreklekker 16
 
Uiteindelik kom ons by die kampplek aan, Skarks Point. Die wind waai so sterk jy kan omtrent nie ’n tent opslaan nie. Die mense wat daar kamp se tent is heeltemal weg, net die raam staan. Die tent het skynbaar in die wind geskeur.
 
Die plek maak ’n onmidellike slegte indruk. Daar is niemand wat jou kan help nie. Die enigste ou wat hier werk wat beskikbaar is is ’n swart outjie wat nie eers kan Engels praat nie. Hy wil hê ons moet  ons swaar off road trailer teen ’n glibberige “pad” af teen die grashelling na die “kampplek” toe. (Lees “enigste min of meer gelyk stuk aarde”) Ek is egter nie lus om my treiler uit die see uit te probeer katrol nie en besluit op die enigste ander plek wat min of meer gelyk is, dis nie eintlik ’n kampplek nie maar nou ja. Dis ten minste tussen plantegroei wat so ’n bietjie (baie bietjie) die wind se spoed breek. Ons  begin nou om Sharks Point te verken. Dis duidelik hier is die minimum spandeer deur mense wat niks doen om die plek in stand te hou nie. Ek hou van die boskamp en “rustic feeling” van ’n boskamp, maar hierdie plek is pleinweg vuil en word nie in stand gehou nie.
 
Die natuurskoon van die plek is egter ongelooflik, enige plek langs die Wildcoast eintlik. Hierdie is van die mooiste natuurskoon wat ons nog gesien het.
 
Wildcoast Vreklekker 25
 
Timothy se tent….hy het so ‘n bietjie ‘n opdraande tyd met die slapery gehad!
 
Wildcoast Vreklekker 26
 
Ons ontmoet vir Brandon en Lesley en hulle familie, ook vir Francois en sy familie en kueir die aand lekker by die gemeenskaplike kombuis. Ek maak vir ons hoender en rys in ’n ligte Kaapse malay kerrie. Ons eet amper ons vingers af, later die aand sou ’n rondloper hond of kat die res van die pot uiteet toe ons slaap. Wat ’n teleurstelling, ons was so lus vir daardie kerrie hoender die volgende dag. Surika polish ’n bottel OBS en Timothy en ek is op die Black labels. Die volgende oggend 03:30 maak Surika my wakker, baie bekommerd, sy wonder of sy haar kontaklense uitgehaal het. Na ’n gesukkel om by ’n half pap lantern liggie te sien of haar kontaklense uit is besluit ons dit was toe wel uit …en slaap rustig verder.
 
Wildcoast Vreklekker 24
 
Wildcoast Vreklekker 23
 
Wildcoast Vreklekker 22
 
Wildcoast Vreklekker 21
 
Wildcoast Vreklekker 20
 
Wildcoast Vreklekker 19
 
Ons ry die dag 316 km tot by Sharks Point
Sharks Point
 
Dag 3 – Nog by Sharks Point
 
Ons word wakker. En toe bars alle hel los. Surika sien ’n spinnekop teen die tent se dak. Die spinnekop sal soos die dae verby gaan en die storie oorvertel word deur Surika al groter en groter word. Ek moes eers my manlike plig doen en van die spinnekop ontslae raak. Na my tweede slaanslag, eers met Surika se plakkie en toe met my bietjie swaarder plakkie, lê die spinnekop in ’n hopie op die vloer. Maar my vrou se bloedlus is nog nie gestil nie: ” Moer hom weer baby, hy act dood, gil sy uit volle bors. Toe die dooie spinnekop uiteindelik uit die tent verwyder is voel ek omtrent soos ’n warrior wat van die oorlog af kom soos my vrou my prys.
 
Na ’n lekker breakfast gaan loop ons langs die see en ry ons bietjie rond. Ons besoek van die baaie rondom ons, ongelooflike natuur tonele. Ons stop by ’n Spaza shop. (let op die spelling) ons ontmoet die baie vriendelike Frank, die eienaar. Die man is ‘n regte enterpreneur, behalwe die spaza shop maak hy ook krale en het mense wat dit dan vir hom verkoop. Hy moes juis die volgende dag sowat 50-60 km LOOP om te gaan geld optel by iemand wat vir hom krale verkoop. En die dag as besigheid nie te goed is nie, dan oortuig hy jou sommer om nie die kleingeld te vat nie.  Ons koop 3 Castle Milk Stout courts by hom. Nogal bietjie kouerig ook, nadat ons fotos van almal daar en van sy “cousin” Inathi geneem het is ons verder op pad. Ons sou oor die volgende twee dae nog kom “courts” koop by hom.
 
Wildcoast Vreklekker 33
 
Wildcoast Vreklekker 34
 
Wildcoast Vreklekker 35
 
Wildcoast Vreklekker 37
 
Wildcoast Vreklekker 28
 
Ek neem fotos van Surika, donkies, huise en seetonele langs die pad. En luister elke km na die kinders: “Sweets, sweets” En ons drink Castle Milk Stout, en gesels, en kyk na die mooi natuurskoon. Lekker om ’n 4×4 te hê, in die wêreld gaan jy nie te ver kom as jy nie een het nie. (Behalwe as jy ‘n “local” is, dan kry jy dit reg om met enigiets hier te ry. Hoe lank die voertuig dan hou weet ek nie)
 
Terug by die kamp die middag waai die wind nog steeds, Ons kuier weer bietjie by die gemeenskaplike kombuis, Surika maak mince mate, en ek bel die eienaar van die “kampplek” en vertel hom wat ek van sy plek dink. (Hy klink nie baie verras nie) Toe gaan kruip ons in, nadat Surika die keer seker gemaak het haar kontaklense is uit.
 
Wildcoast Vreklekker 27
 
 Dag 4 en 5
 
Net ’n luilekker dag, ons ry so ’n entjie om te gaan bier koop, en ry na ’n strandtjie ’n paar km weg van ons af wat heeltemal afgeleë is. Jy kan slegs hier uitkom met ’n 4×4. Ek vlieg bietjie vir Frank en kry lugfotos en video. Ek sien weereens: “Hoe verder jy moet reis, en hoe meer jy moet sukkel om daar uit te kom hoe mooier gaan jou uitsig wees” Dis net ons by die strand…en ‘n paar locals wat sit en klere was. Die een ou lyk nogal baie cool met sy sonbrille, hy lyk meer asof hy op pad is na ‘n klub toe as wat dit lyk asof hy sit en kyk hoe sy vriendin klere was in die Tanskei.
 
Wildcoast Vreklekker 48
 
DJI_0040
 
DJI_0030
 
DJI_0025
 
Daarna gaan ons na ons eie strand toe. Ek kry nog footage met Frank van waar ons bly, dis mos nou hoe ons ons verblyf hier betaal. ’n Barter deal.
 
Francois sê hy sien dolfyne in die see, ek vlieg met Frank so 597 m die see in maar sien niks nie, dit sou nou exciting gewees het om dolfyne op video af te neem wat in die water baljaar. Die res van die dag spandeer ons op die strand en swem in die yskoue water, dit was skynbaar baie warmer toe ons hier aangekom het. Ons het omtrent gevries in die water, maar swem moes ons swem. Ons is mos by die see.
 
’n Ander interessante ding is die beeste wat jy oral in die Wild Coast op die strand sien staan of lê. Kry seker ook maar warm.
 
DJI_0072
 
Shark’s Point uit die lug uit, so 100 m op. Daar is net so ‘n paar zozo hout huisies. Baie minimalisties. Maar jy kry nie ‘n mooier omgewing nie.
 
DJI_0046
 
DJI_0059
 
Hoeveel mense in die wereld is by so ‘n strand oor Desember? Met slegs 3 of 4 ander gesinne? Dis ‘n voorreg man. Die tipe plek waar ek wil vakansie hou. Of wil JY eerder tiussen 30 000 ander mense op Durban se strand wees? Nee, ek het nie so gedink nie!
 
DJI_0067
 
Toe ek die volgende foto sien toe dink ek heel eerste aan ‘m boek wat ek as kind gelees het. Robinson Crusoe, ‘n familie wat se skip skipbreuk ly, en dan spoel hulle uit op die eiland waar hulle hulle lewe oor begin. Hierdie is presies soos ek dit in my verbeeldingsvlugte as kind voorgestel het die Crusoe’s se strand moes lyk.
 
DJI_0076
 
Wildcoast Vreklekker 44
 
Hier is nie baie winkels hier rond nie. Hierdie is die tipe winkel waar alle mense hulle dingetjies vandaan kry. Hierdie ou bestuur die besigheid vir sy pa.
 
Wildcoast Vreklekker 47
 
Wildcoast Vreklekker 46
 
Wildcoast Vreklekker 45
 
Ons het op die bees afgekom. En wat ‘n pragtige prentjie. Ek het nader gestap en hom van alle kante af afgeneem. Hy het net rustig sy kop heen en weer gedraai en my dopgehou terwyl hy op een plek by staan. Baie fotogenies.
 
Wildcoast Vreklekker 43
 
Wildcoast Vreklekker 42
 
Kyk die ou se T shirt. “Thank God it’s Friday.” So ironies. Hy werk tien teen een nie, (ek dink nie baie mense hier rond werk nie). So wat maak dit saak of dit Vrydag of Maandag is?
 
 
Wildcoast Vreklekker 41
 
 
Wildcoast Vreklekker 40
 
Surika wou ‘n foto hier gehad het. Sy het vir my verduidelik wat sy wil hê, en ek het dit probeer, maar skynbaar nie reggekry nie. Ek kyk na die leë hut agter haar en wonder, wat is die storie? Wie het hier gebly? En hoekom het die hut vervalle geraak? Dis op ‘n plek met so ‘n mooi uitsig gebou.
 
 
Wildcoast Vreklekker 39
 
Wildcoast Vreklekker 38
 
On het gevra waar is ‘n winkel waar ons iets kan koop. Die locals verduidelik toe ons moet sommer hier oor die strand ry, daar is ‘n lekker plek daar anderkant om goed by te koop. Duidelik het die  verbod op strandry regulasies nog nie hier uitgekom nie. (Ons het toe maar nie oor die strand gery nie)
 
Wildcoast Vreklekker 31
 
Wildcoast Vreklekker 30
 
Wildcoast Vreklekker 29
 
 
Die laaste aand by Sharks’ Point braai ons ’n lekker stukkie steak en maak pap en sous.
 
Die volgend oggend slaan ons kamp op, ons volgende bestemming is Coffee Bay. Eers is dit weer so 20 km se 4×4 paaie om by die teerpad uit te kom. Ons gasbottel se raam breek af van die ruk en skud. Gelukkig sien Timothy dit val van die treiler af en ons kan dit gaan optel.
 
Ons ry nou eers Mthatha toe, ons wil nog ’n lisensie vir die kar gaan uitneem. Nadat ek so 5 keer om die blok gery het, en Surika 30 min in die ry gestaan het moes ons uitvind jy kan nie ’n kar lisensie hier uitneem vir Gauteng nie. Surika sê die mense was onsettend behulpsaam in die poskantoor. Almal wou haar die heeltyd help. Ek begin sommer baie van die vriendelike Xhosas in die Oos Kaap te hou.
 
Ons bederf onsself met die heerlikste pizza by Panarotti’s en koop bietjie kos en drank by die Spar. Daarna is dit verder ry Coffee bay toe. Ons het baie negatiewe dinge die laaste paar dae van Coffee Bay gehoor, so ons wonder wat gaan ons kry. Die heuwels bly groen en vol huisies gebou. Dis ongelooflik om te dink dat so baie mense hier by, die heuwels is letterlik volgepak. Tog is die plek baie skoon, die mense baie vriendelik en elkeen het baie spasie, niks is opmekaar gedruk nie. Mens kry ook nie die squatter camp setup hier nie. Die mense verdien definitief minder hier as die mense in Gauteng, maar hulle plekke is baie netjieser. Almal is geverf. Teal en Appelkoos kleur is die gunstelinge.
 
Ons is nog slegs 3 dae in die Oos Kaap, en dis klaar my gunsteling vakansie plek.
 
Ek kan nie help om te wonder hoe suksesvol die provinsie kan wees as die regering begin geld spandeer om toerisme te bemark hier nie.
 
Wildcoast Vreklekker 49
 
Ons kom die middag laat by Coffee Bay Campsite aan. ’n Baie vriendelike Corrie en haar man Buks ontvang ons, wat ’n welkome verandering van Sharks Point af. Die geriewe hier is puik en skoon. Ek het die aand 10;00 gaan stort, toe maak hulle nog badkamers skoon. Die plek is pragtig en hier is ’n lekker gees in die kamp. Al die kampplekke is baie privaat, dit voel of jy in ‘n oerwoud kamp. Ons sien uit na ons drie dae hier. Ons sluit die aand af met ’n braai, vark chops en rashers met kerrie pasta slaai, afgesluk met ’n paar Black labels.
 
Wildcoast Vreklekker 51
 
Wildcoast Vreklekker 50
 
 Ons ry 194 km om daar uit te kom. Met die 4×4 paadtjies is dit eintlik net so oor die 60 km. Maar ek dink dit sou ons nog langer gevat het.
 
Coffee bay
 
Die 3 dae by Coffee Bay gaan gou verby. Ons gaan eet by Friends. Lekker kos, fantastiese uitsig. En BAIE rustige waiters. Niemand hier gaan aan stress doodgaan nie. 
 
Wildcoast Vreklekker 52
 
Wildcoast Vreklekker 53
 
Ons swem in die see, en ons ry na Hole in the Wall toe. WOW. Wat ’n ongelooflike plek, fotos vertel nie die verhaal van hoe indrukwekkend Hole in the Wall is nie. Die plaaslike bevolking hier is baie lastig. Eventueel kos dit ons R30.00 vir iemand om ons kar op te pas vir die halfuur wat ons weg is, en R30.00 vir twee “gidse” vir ’n halfuur. (Ons kon die plek self gekry het) Maar mens is mos die heeltyd bang as jy jou voertuig los tussen die klomp mense dan gebeur iets met dit as jy nie betaal nie. Terug van die manjifieke Hole in the Wall af het ons toe nog ’n uitval met die “gidse” ook. Eintlik een “gids” en sy vriend het saamgeloop. Die tweede “gids” wou nou ook R30.00 hê. Hulle is toe daar weg , dikbek, met R30.00 vir ’n halfuur se niksdoen nie.
 
Wildcoast Vreklekker 59
 
Wildcoast Vreklekker 58
 
Hierdie was nog die dag voor oujaar, maar hierdie man het dit vroeg solank begin vier. Ek is bly ek het nie sy babelaas en sonbrand gehad toe hy wakker word nie.
 
Wildcoast Vreklekker 57
 
Wildcoast Vreklekker 56
 
Wildcoast Vreklekker 55
 
Wildcoast Vreklekker 54
 
Ons gaan neem ook fotos bo op ‘n koppie met ‘n pragtige uitsig oor Coffee Bay.
 
Wildcoast Vreklekker 60
 
Wildcoast Vreklekker 61
Oujaarsaand het ons vroeg gaan inkruip. Ons was teen so 21:00 in die bed met die gedromslanery, drinkery en kuiery van die plaaslike bevolking in jou ore. En ons het daarmee wakker geword. Dit sou nog die res van nuwejaarsdag tot laat die aand aanhou. Ons het besluit om ’n beach daar naby te besoek, Mdumbi. Groot fout. Duisende van die plaaslike bevolking het opgeruk na die strand toe. Bakkies, trokkies en karre het teen hoë spoed en stofwolke gedurig by ons verbygejaag net om nog ’n vrag mense af te laai naby die strand. Die beste van alles is, feitlik niemand het enigiets by hulle nie, nie water nie, nie bier nie, nie kos nie, niks. Maar hulle gaan die hele dag daar spandeer. Hulle vier die nuwe jaar, die slegste van alles is, hierdie is so ’n arm deel van die land, vir die meeste van die mense gaan die nuwe jaar dieselfde oplewer as die ou jaar…niks. Ons geniet egter die ryery en die pragtige natuur.
 
Hier is ‘n creche waarop ons afgekom het, iewers tussen erens en nerens. 
 
Wildcoast Vreklekker 62
Toe nou maar terug Coffee Bay toe, hier het intussen ook duisende mense opgedaag wat die nuwe jaar kom vier. Hulle het nog skaars begin en die plek lyk al klaar soos ’n varkhok soos papiere, bottels ensovoorts net so neergegooi word. Ons het toe maar die res van die dag in die kamp spandeer.
Miya kry ook ’n Hollandse maatjie, Louisa, sy is van Amsterdam af en hulle toer deur die land. Die eerste keer wat Louisa kom speel is sy bietjie oorweldig en is huilend huis toe. Later die middag is sy egter weer terug, en hierna kuier die twee ’n hond uit ’n bos uit ongeag die feit dat Miya nie Hollands praat nie en Louisa nie Afrikaans of Engels praat nie.
Ek staan die laaste oggend lekker vroeg op en is reeds 05:00 op die strand vir ’n paar sonsopkoms fotos. Dis so besonders om die nuwe dag op so ’n ongelooflike plek tegemoet te gaan.
 
Wildcoast Vreklekker 63
 

Wildcoast Vreklekker 64
Morgan Bay

Ons drie dae is verby en nou is dit ’n 280 km rit Morgan Bay toe. Ons ry verby Qunu waar Nelson Mandela gebore en grootgeword het. Ons ry ook verby sy huis. Dit sê baie vir die man dat hy hier ’n huis kom bou het en lang tye hier kom deurbring het. Hy het tog die geld en prestige gehad om sy tyd enige plek in die wêreld deur te bring. Hy was mos ’n beeswagter hier in sy jong dae. Dit moes ‘n maklike werk gewees het, jy kan op jou stoep sit en km’s rondom jou sien waar jou beeste rondloop. Geen wonder hy was so ’n rustige man nie, hierdie plek maak jou rustig deur net na die groen golwende heuwels te kyk. 
Die omgewing begin ook nou bietjie te verander, dis nie meer so groen soos in die ware Wilde Kus nie, maar nog dieselfde golwende heuwels. Ons kom later die middag by Yellowwood Forest aan en slaan kamp op. ’n Beautiful plek, Baie anders as ander kamp terreine. Besonderse ablusie blok, die hele plek het ’n baie kunstige gevoel aan hom.
 
Wildcoast Vreklekker 85
 
Wildcoast Vreklekker 84
 
Hier is ons kampterrein waar ons opgeslaan het
 
Wildcoast Vreklekker 91
 
Miya raak verlief op ’n rok, so ’n swart toppie met reënboog kleure aan die onderkant. Sy is so verlief op die rok sy trek dit eventueel die volgende drie dae aan.
 
Ons gaan eet by die Morgan Bay hotel se restaurant, hierdie ouens skop Ocean Basket se gat. Hulle kan maar kos maak hoor. Ons sit op die deck met die pragtige see uitsig.
 
DJI_0028
 
Wildcoast Vreklekker 65
 
Mia spandeer BAIE tyd in die curio winkel, sy hint links en regs, maar ek hou my doof.
 
Wildcoast Vreklekker 76
 
 
Ongelukkig is ons ete die volgende dag by die Mitford Hotel nie so lekker nie, die diens is swak en die kos smaakloos. Ons stap eventueel baie teleurgestel daar uit, die bestuurder het darem gesê ons hoef nie vir die kos te betaal nie. Sy sê sy weet nie wat gaan aan nie maar almal kla die dag vreeslik oor hulle kos. Maar dis gewoonlik baie lekker…sy hoop sy sien ons weer. Ons ontmoet darem ‘n baie interessante local en Miya maak ‘n maatjie.
 
Wildcoast Vreklekker 78
 
Wildcoast Vreklekker 79
Ons ry uit na Double Mouth toe, wat ’n pragtige kampterrein, by die see, ons gaan definitief eendag nog daar kamp. Op pad soontoe stop ons langs die pad en neem fotos van die beeste wat langs die pad loop.
 
Wildcoast Vreklekker 71
 
Wildcoast Vreklekker 72
 
Wildcoast Vreklekker 70
 
Wildcoast Vreklekker 69
 
Wildcoast Vreklekker 68
 
Wildcoast Vreklekker 67
 
Ons ry ook uit na Kei Mouth toe. En ry met die ferry oor die rivier, dit was nou ’n ander ondervinding. R70.00 per keer. En dit vat twee voertuie op ’n slag. Daar is ook twee ferries, die een van die een kant af en die ander van die ander kant af. Ons eet ’n baie lekker breakfast by Selections in Kei Mouth die oggend, en maak vol petrol. 4,9km/l
 
Wildcoast Vreklekker 90
 
Wildcoast Vreklekker 89
 
Wildcoast Vreklekker 88
 
Wildcoast Vreklekker 87
Die middag kuier ons BAIE lekker by Yellowwood forest en drink van hulle Emerald Ale @R30 per glas. 9Sommer ‘n hele paar, soos op die fotos gesien kan word.  Surika en Timothy speel Uno. Hulle geniet dit vreeslik. Miya het weer maatjies gemaak, en hulle verf, speel, spring trampolien en hardloop die plek vol. Surika het besluit ek gaan baie oulik lyk onder die drie skedels. Die fotos werk toe nie so lekker uit soos sy gedog het nie, maar sy hou aan probeer, en almal wat verby loop wonder seker hoekom sit ek so onder die skedels en word so lank afgeneem.
 
Wildcoast Vreklekker 83
 
Hierdie is Timothy na sy eerste glas…daar is nie fotos van later van hom nie!
 
Wildcoast Vreklekker 82
 
Hoe later…..
 
Wildcoast Vreklekker 81
 
Hoe kwater…
 
Wildcoast Vreklekker 80
Die volgende dag gaan lê ons luilekker in die lagoon en koel af. Die saligheid van absoluut niks hê om te doen nie
 
DCIM103GOPRO

DCIM103GOPRO

DCIM103GOPRO

DCIM103GOPRO

DJI_0030-2

 
DJI_0009
 
DJI_0015
 
DJI_0005-2
 
Die middag gaan vlieg ek vir Frank, en verloor heeltemal kontak met hom. Toe ek laas kontak met hom gehad het was hy 885meter van my af, nou is die screen net swart. Ek is doodseker ek het my drone verloor. Ek hardloop uit buitentoe vir beter opvangs, Sean die einaar van die plek hardloop saam. Gelukkig kry ek weer verbinding met Frank en Sean help om te sê watter rigting lê die kamp. Ek land hom met die batterye heeltemal pap. Sjoe, dit was ’n noue ontkoming.
 
Hier is Yellow Wood Forest van bo af.
 
DJI_0032
 
…en Morgan Bay van Yellowwood Forest se kant af.
 
DJI_0035
 
 
Surika, Miya en ek gaan neem fotos en video op die strand die middag tot en met sonsondergang. Sy kry video shots, en ek die fotos.
 
Wildcoast Vreklekker 77
 
Wildcoast Vreklekker 86
 
Wildcoast Vreklekker 66
Die laaste oggend is almal vroeg op en ek gaan vlieg vir Frank van die heuwels af kuslangs, hierdie kuslyn is net eenvoudig ongelooflike mooi. Ons hoop om van die video footage as stock footage te kan verkoop. Ons sal daarvan hou om op daardie manier geld te begin maak. Verkoop van video en fotos online.
 
DJI_0005 2
 
DJI_0003
 
 
 
 
 
DJI_0009 2
 
Wildcoast Vreklekker 74
 
Die wind het so erg hier gewaai, toe Timothy en ek in die lug op spring toe waai die wind ons amper in die see in. haha
 
Wildcoast Vreklekker 75
 
 Hier is ‘n paar stukkies video wat ek geneem het met Frank. (Phantom 3 pro)
 

Bosbokstrand

Ons vertrek nou na Bosbokstrand toe. Net klaar kamp opgeslaan en ek moet uitvind die inverter werk nie meer nie. Ek sal maar uitsorteer as ons terug is by die huis.

Bosbokstrand is so 32 km van Morgan Bay af, ons vertel vir Miya dis baie ver en ons gaan die heeldag ry.

 
Morganbay - Bosbokstrand
 
Sy is so mismoedig sy gaan slaap sommer.
 
45 min later is ons in Bosbokstrand.
 
Ek hoop die plek gaan iets baie besonders wees. Teen R650.00 per staanplek per nag is dit nogal baie duur. Ons wou braai die eerste aand, maar daar is nie braaiers nie, ons moes ons eie ene saam gebring het. Ek sny toe maar die Chicken flattie op en maak dit in ’n pot. Ek verbrand die rys heeltemal, dis nou maar hoender en slaai.
 
Die volgende oggend is ek 03;00 wakker, so 04:15 is ek reg en op pad strand toe met die kamera. Ek spandeer die volgende twee ure daar om fotos te neem. Ek word ook deur ’n African Black Oystercatchers op die strand gejaag. Ek is nog so besig om fotos by die lagoon te neem en ek hoor net die twee voêltjies kwetter aanmekaar, ek dog hulle is maar net gelukkig. Die volgende oomblik kom daar ’n klein kuientjie onder ’n stomp uitgehardloop, die een voël styg op en vlieg reguit na my toe. Hy voer ’n paar duikslae op my uit terwyl ek kamera en tripod in die hand die hasepad kies. Eers toe ek so 50 m van die lagoon af is los hy my uit. Duidelik is hy baie erg oor sy kuiken.
 
Wildcoast Vreklekker 97
 
Wildcoast Vreklekker 98
 
Ek geniet die stilte tyd by die see met sonsopkoms. Ek kan nie wag om by die huis te kom om van die fotos te begin edit nie.
Breakfast is chicken a la king, gisteraand se leftovers.
Later die dag gaan loop ons rond op die strand en ontmoet ‘n couple in die lagoon. Eintlik het Miya hulle kinders raak gekuier en ons het net met die grootmense begin gesels. Ons spandeer seker ‘n heerlike uur saam hulle in die water wat ons oor alles en nog wat gesels. Maar, snaaks genoeg, vra ons nooit mekaar se name nie. Hulle kom al die laaste 20 of wat jaar elke jaar Bosbokstrand toe. Sy het al as kind saam haar ouers begin oorkom. Miya speel die hele middag by die mense se kinders. Die volgende dag sê Surika vir my die vrou lyk vir haar vreeslik bekend, sy dink hulle was saam op skool. Die mense is toe alreeds weg by Bosbokstrand so ons vra die vrou wat daar werk oor hulle. Die mense se naam is Tino en Estelle. Surika en Estelle was beste maatjies in Gr 1, totdat Estelle se ouers getrek het. Klein wereld nê? Surika het na die tyd op Facebook weer met Estelle begin kontak maak en gesels.
 
Wildcoast Vreklekker 96
 
Die res van die dag verloop lekker rustig, see, strand en rus.
Die volgende dag is ons bietjie Haga Haga toe. ‘N Pragtige klein dorpie waar absoluut niks aangaan behalwe rus en vrede nie. Ons koop ‘n paar biere want ons is nou kort  (mens dink mos altyd jy gaan minder drink op ‘n vakansie as wat jy wel drink) Ons koop ook elkeen ‘n boek om te lees. Ek kry Chesapeake geskryf deur James A Michener.
 
Wildcoast Vreklekker 102
Die middag met sonsondergang is Surika en ek strand toe. Ons is die enigste mense op die strand. Dit is seker die mooiste gesig wat ek in my lewe gesien het. Surika neem video, en ek neem fotos. Dit maak nie saak watter kant toe jy jou kamera draai nie, dis ‘n wenfoto. En hierdie pragtige gesig is deur God vir net twee mense geskep. Surika en ek. Wat ‘n voorreg. Ons spandeer seker twee ure op die strand. Net ons  twee, ons kameras, die lieflike sonsondergang en die geluid van die see wat die heeltyd oor die strand spoel. Dis amper heilige oomblikke, so spesiaal, ons is eintlik te bang om te praat om die oomblik te versteur. 
 
Wildcoast Vreklekker 92
 
Wildcoast Vreklekker 93
 
Wildcoast Vreklekker 94
 
Wildcoast Vreklekker 104
 
Wildcoast Vreklekker 101
 
Wildcoast Vreklekker 103
 
Wildcoast Vreklekker 99
 
Wildcoast Vreklekker 95
 
Wildcoast Vreklekker 105
 
Wildcoast Vreklekker 106
 
Wildcoast Vreklekker 107
Die aand begin ek my boek te lees, en dit begin te reën, en dit reën die hele volgende dag. Al wat daar is om te doen is boek lees. Miya en Timothy is dood verveeld en speel in sy tent. Ek lees amper die hele boek van ‘n 1000 bladsye deur.
Die volgende oggend vroeg staan ons op en pak op. Dis totsiens aan die see.
Dit reën nog steeds liggies en die lug is grys toe ons die lang pad huis toe begin aandurf.
 
Was Bosbokstrand toe die moeite werd? Absoluut, vir daardie natuurskoon, stilte en vrede betaal ek enige tyd wat hulle vra.
 
Ons besluit die vakansie is nog nie verby nie en ons wil iets van die laaste twee dae maak. Ons beplan om deur te ry tot by Aliwal Noord en daar oor te slaap.
 
Ons ry oor Stutterheim, Cathcart en by Queenstown aangekom besluit ons die vakansie is nog nie verby nie. ons is lus vir nog ‘n laaste avontuur. Ons draai af Dordrecht toe. Dis so 290 km van Bosbokstrand af Dordrecht toe.
 
Maar eers stop ons in Cathcart by die Wagon wheel Pie and Copffe shop en eet ‘n pie vir breakfast. Weg het hulle aanbeveel, en hulle het trots die Weg artikel teen die muur ook, so, dis die moeite werd om hulle pasteie te probeer. En mens, was dit lekker. Ek ry sommer terug en gaan eet weer ‘n pie.
 
Wildcoast Vreklekker 108
 
Wildcoast Vreklekker 109
 
Wildcoast Vreklekker 110
 
Dordrecht
 
 
 
 
 
Wildcoast Vreklekker 111
 
Wildcoast Vreklekker 112
 
Die pragtige ou kerk in Dordrecht.
 
Wildcoast Vreklekker 113
 
By Dordrecht begin een van die lekkerste avonture van die vakansie, een van die moosite, maar ook hartseerste. Dis 93.4km wat ek nie gou sal vergeet nie. Elke stukkie grondpad wat ons gery het vanaf Dordrecht tot ons weer op die treerpad opgedraai het by Benjamen’s Hoogte op die R58 naby Lady Grey was die moeite werd. Ek kan enige iemand aanbeveel om die pad te gaan ry. Ek gaan nie te veel probeer om die reis te beskryf nie, ek dink die fotos gaan die verhaal vertel.
 
Dis ‘n droeë wêreld, dit het duidelik baie lank laas gereën hier. Die boere hier rond moet ontsettend swaar kry. Dis ook ‘n eensame wêreld, ons het die hele tyd net een bakkie, en twee ouens op ‘n trekker gesien. Maar dis ‘n pragtige plek, ‘n plek waar mens kan sit en dink, net die stilte om jou kan geniet, en ‘n plek waarheen jy kan kom om jou batterye weer te laai.
 
Ons ry onder andere deur Killian’s pass, deur die dorpie Rossouw,  Greylings pass op en af , en kort kort ry jy oor die Wasbank spruit.
 
 
Wildcoast Vreklekker 114
 
Wildcoast Vreklekker 115
 
Wildcoast Vreklekker 116
 
Wildcoast Vreklekker 117
 
Wildcoast Vreklekker 118
 
Ek dink jy skrik nogal as jy so ry en hierdie ou klippie val hier langs jou!
 
Wildcoast Vreklekker 119
 
Wildcoast Vreklekker 120
 
Wildcoast Vreklekker 121
 
Ek wonder wie het hier gebly op ‘n stdium, en waar is hulle nou.
 
Wildcoast Vreklekker 122
 
Ek dog net nou is ons lelik verdwaal. Is Siberia dan nie in Rusland nie?
 
Wildcoast Vreklekker 123
 
Wildcoast Vreklekker 124
 
Wildcoast Vreklekker 125
 
Wildcoast Vreklekker 126
 
Hierdie troppie skape was te kostelik. Ons het die verkeerde afdraai gevat, en ek probeer toe eers in trurat terug ry met die sleepwa  agteraan. Dit gaan maar stadig. Nes ons begin ry, draf hulle nader, as ons stop en uitklim, hardloop hulle weg. Shame, hulle sien seker maar ook nie baie mense nie
 
Wildcoast Vreklekker 127
 
By Clanville draai ons regs op ‘n bietjie groter grondpad en ry aan tot ons by Benjamen’s hoogte links draai en Chucky se neus na Lady Grey se kant to druk.
 
Wildcoast Vreklekker 128
 
Hierdie petrolpomp het duidelik lank laas gewerk
 
Wildcoast Vreklekker 129
 
Kort hierna loop ons die twee manne op ‘n trekker raak. Hulle werk daar naby op ‘n plaas. Ons vra hulle wie se plaas is dit. Hulle sê dis Mnr so en so se plaas. Maar hy boer nie meer nie, hy moes alles verkoop, al die skape, al die goed, hy verhuur nou die plaas aan iemand anders. Ek vra hulle wat maak Mnr so en so nou. Nee sê hulle, hy sit maar net daar in die huis…
 
Tragies.
 
Partykeer het mens net nie beheer oor jou omstandighede nie.
 
Hoe begin so ‘n man oor in die lewe?
 
Wildcoast Vreklekker 130
 
Ons wou by Lady Grey oorslaap. Maar daar is niks van die karavaanpark oor nie, die guest houses daar was ook bietjie duur vir mense wat nou net ‘n klomp geld op ‘n vakansie spandeer het, ons druk toe maar deur Aliwal Noord toe en gaan slaap daar in ‘n guest house. Ons gaan eet ‘n lekker ete by ‘n restaurant langs die droeë oranjerivier. Ons bestel drinks. Daar is ‘n bordtjie op wat mense waarsku dat hulle miskien nie ys sal kry in hulle drankies nie weens water te kort. Sjoe.
 
Wildcoast Vreklekker 131
 
 
 
Screen Shot 2016-05-18 at 9.46.20 AM
 
En toe ons wakker word is dit die laaste dag van ons vakansie, ons ry die laaste 672 km huis toe.  Dit was ‘n onvergeetlike vakansie, seker ons beste nog. Die transkei en sy wonderlike vriendelike mense het ‘n onuitwisbare indruk op ons lewens gemaak.
 
Die golwende landskap en pragtige ongerepte seetonele sal ons altyd bybly!
 
Ons hoop die Wilde kus bly altyd so wild.
 
Dit verdien nie om getem en mak gemaak te word nie.
 
Screen Shot 2016-05-18 at 10.14.13 AM
 
 
 
TAGS
RELATED POSTS