Naweke

Lekker kuier, opblaas matrasse en gille in die nag by Bass Lake Lodge.

By
on
02/06/2021

7 Mei.

Ons braai die aand by De Villiers en Abbe. Carl en Leandri en Timothy braai ook saam. So gedurende die gekuier besluit ons almal ons is lus vir ‘n lekker kamp.

Van uitstel kom afstel, so ons besluit net daar en dan ons gaan die volgende naweek kamp.

Planne word vinnig beraam, Carl het ‘n ekstra tent waarin De Villiers , Abbe en Mieks kan slaap. De Villiers vertel baie entoesiasties van die oulike opblaas matras wat hulle het wat hulle gaan gebruik. (Of altans, op die stadium het hy nog gedink hy het ‘n oulike opblaas matras. Meer oor dit later)

Ons nooi ons ou vriende Kallie (Hasie) (Moet my nie vra waar kom die Hasie vandaan nie)  en Liesl saam. Hulle het ons ou treiler Skillie gekoop en ons het al ‘n paar keer gaan saam kamp.

Ek stel voor dat ek bietjie sal uitvind van lekker plekke waar ons kan kamp.

Almal is nou vuur en vlam. Daar is net een probleem, die naweek is nog 7 dae weg.

Ek stig ‘n Whatsapp groepie om reëlings te vergemaklik. Na baie gewik en weeg kom ek op met die uitsonderlike naam:  “Kamp Groepie.”

Ek gesels met my vriend Kobus Bouwer oor kampplekke, hy is soos ‘n lopende kamp ensiklopedie, hy weet nie net waar is die beste kampe nie, hy weet ook watter is die beste staanplekke. Hy stel Bass Lake Lodge voor. (Nee, dis nie die een waarin jy geduik het nie)

Ek epos hulle, hulle diens is flink en ons naweek is in ‘n japtrap geboek.

14 Mei sleep ons uit Pretoria uit. 40 min later is ons by Bass Lake Lodge. Mika ry saam met ons , sy is nou 4, amper 5, en haar sêgoed is baie pittig. Een van hulle was die volgende: Nadat ons oor heelwat hobbels in die pad gery vra Mika toe ewe ernstig. “Wat is dit met al die op en af?”

By die kamp gaan almal in hulle opslaan “mode” in. Julle ken mos die storie. Jy stop eers buite die kampplek en haal ‘n bier uit. Dan gaan staan man en vrou saam en beskou die uitleg van die kampplek. Watter kant toe is die mooiste uitsig? Waar gaan ons braai? Is dit ‘n vasgeboude braai of kan hy skuif? Watter kant toe moet jy uitkyk as jy wakker word? Waar staan die kar? Is jy mooi afgesonder van bure?  Waar gaan die son op en onder en waar is dit in die middel van die dag? (Net vir ingeval jy ‘n middag slapie wil neem). In ons geval is daar nog ‘n bydraende faktor, ‘n Commander is swaar, en hy word nie sommer heen en weer gestoot in klein hoekies in nie, so jy moet maklik in en uit. Mens wil nou nie staan en jou naam vergat voor alle mense wat klaar opgeslaan is en jou dophou nie. Alles word in ag geneem en net soos die eerste bier klaar is word jou planne in werking gestel. Ons is op Nr 19 met ‘n lieflike uitsig oor die dam. (Kobus se voorstel)

Surika en ek is nou al ‘n ge-oefende span met die opslaan. Daardie eerste paar warm om die krae opslane van ‘n jaar terug toe die Commander nog nuut was vir ons is nou iets van die verlede. Mans wil mos nooit weet hulle vrouens het beter idees as hulle met die tipe dinge nie. In my geval is Surika se idees met eentonige reëlmaat beter as myne. Maar nou ja, nie meer hieroor later nie. Miya is gewoonlik ook baie behulpsaam, maar ek het gevind as jy haar fiets saamvat vergeet sy heeltemal van alle opslaan take.

DE Villiers en Carl is altwee manne wat hou daarvan as dinge REG is. Hulle kamp terrein lyk soos ‘n weermag basis, Tente mooi in lyn, toue reguit en styf gespan, treiler onder ‘n gazebo in die hoek, nog ‘n Gazebo vir kos maak, en die stoele netjies in die rondte. Ek dink nie iemand kon dit beter beplan het met ‘n CAD program nie.

Timothy slaan sy tent sommer daar in die hoek by ons op. Lekker naby aan die vuur.  En ‘n voorreg dat my seun nog saam ons wil gaan kamp.

Liesl en Kallie kom ook later spoggerig daar aangery met hulle nuwe Double cab,die ander bakkie is so ‘n paar maande terug gesteel.  (Ek dink Kallie is baie bly, hy is al lankal lus vir ‘n Double Cab. Dit is SO lekker om hulle weer te sien. Hulle het ‘n paar oulike verbeteringe aan Skillie aangebring en hulle is in ‘n japtrap opgeslaan.

Ons almal sit heerlik en saam kuier. Die gesprekke loop vlot en almal geniet duidelik mekaar se geselskap. Hierdie gaan ‘n LEKKER naweek wees.

Ek het vir ons lekker dik rumpsteaks gekoop wat 28 dae verouder is by Boma. Surika maak chips daarby.

Almal sien uit na ‘n rustige nagrus. De Villiers en Abbe ook. Mika slaap mos by ons die aand.

Hierdie in die vroeë ogend ure hoor ons ‘n pompie en ‘n matras met mekaar stoei, dit kom daar uit De Villies en Abbe se tent uit. En toe raak dit stil.

Die volgende oggend lyk De Villiers en Abbe nie so uitgerus soos die res van ons nie. Hulle matrassie het toe nie so lank gehou nie. Hulle het toe maar die hele aand op die grond geslaap. Die matrassie is duidelik moeg gekamp en het besluit om op vervroegde pensioen te gaan. De Villies neem op gepaste wyse afskeid van die matrassie.


Die dag is maar lui lekker vir ons. Ongelukkig nie vir De Villiers nie. Hy moet nog die dag ‘n troue gaan afneem by Rosemary Hill. Ons stuur vir hom ‘n video boodskappie om hom te bemoedig:

Die kinders ry fiets, ons maak breakfast, stap na die dam toe en die middag gaan ry MammaMiya en Abbe en Mieks met die trapbootjies op die dam rond. Kallie en Liesl gaan koop kos. Op een of ander manier het hulle dit reggekry om net kos vir een aand in te pak. (Ouderdom is nie vir sissies nie) Kallie het darem sy nuwe Nitecore flits en die drank onthou.

 

Deur die dag doen ons wat almal doen as hulle kamp. Wie weet wat dit is? Reg geraai. Stap deur die kampterrein en steel idees met die oog. Kyk bietjie na planne wat ander mense gemaak het met hulle kamp opset. Droom oor hoe oulik sal jou karavaan of treiler daarmee lyk.

Ek is nogal verbaas met die hoeveelheid mense wat die naweek daar kamp. Ek het gedog as dit kouer raak gaan minder mense kamp. Dit wys jou, moet nooit ons ou volkie onderskat as dit by kamp kom nie. As die Voortrekkers kon oor die Drakenberg met ‘n ossewa kan ons seker in die winter kamp? Of wat sê ek?

Miya inkorporeer haar twee groot liefdes in die lewe. Vinnig geldmaak en gemors en plastiek in die natuur optel. Sy maak so R110-00 met die plastiek optel en Carl en ek moet betaal.

Die sonsondergang is idillies mooi deur die bome op die dam. Ek voel sommer klaar uitgerus. Dis altyd vir my interessant hoeveel beter een dag by ‘n kamp mens kan laat voel.

 

Timothy neem alles af, jy kan sien hy is ‘n fotograaf, altyd reg om iets moois af te neem.

Ek moet net hier weer ‘n kompliment na Bass Lake Lodge se kant toe gooi. Hierdie is ‘n NETJIESE kamp terrein hoor. Daardie ablusieblokke!  Elke kampterrein mooi afgekort van die een langsaan met ‘n paar struike en bome. Pragtige swembad en speelpark vir die kinders (En vir De Villiers en Carl)

Ons sluit die aand af rondom die vuur. Kallie eet lekker groente. Liesl is op ‘n gesonde eet program en ons almal weet wat gebeur as jou vrou op so ‘n program is. Jy is ook. My hart bloei vir my vriend. De Villiers kon darem saam kuier vir ‘n rukkie na sy troue. Hy en Abbe sien seker uit na ‘n lekker aand se rus na die vorige aand se kaskenades. Ek meen, dinge kan seker nie erger vir hulle nie? Of kan dit?

 

Net na 01:00 word ons wakker van ‘n aanhoudende gegil. Ek het my slaappilletjie in en lê met my goeie oor in my nuwe Mr Price Home vere kussing in en my dowe oor na buite. Paar glasies Bella Vino Rooiwyn in. Slegs R49-00 ‘n bottel. R43-16c as jy ‘n boks van 6 koop. (Wat ons doen.) Teoreties behoort ek niks te hoor nie. Maar hierdie gegil laat my sommer dadelik regop sit. En dit hou aan en aan.  Ek was by die FNB stadium toe Guns en Roses daar was. Axl Rose kan by die kind ‘n ding of twee kom leer.  Ek kry die ouers van die kind wat so gil verskriklik jammer. Maar dis hulle probleem, nie myne nie. Timothy en Miya gil nie meer in die aand nie. En klein Mieks is ‘n oulike kind, sy sal nie so skree nie. Dis seker maar die stoute laaitie op die fiets wat Miya en Mieks so geterg het deur die dag. Sy ouers moet maar vir hulle kry.

Toe ons wakker word die volgende dag kon ek sien die arme Abbe en De Villiers is nog steeds moeg. En ons hoor toe die gegillery was klein Mika wat nou so onskuldig daar sit. Sy mis seker die opblaas matrassie. De Villiers vertel hy moes later met haar in die kar gaan sit toe Mieks nie ophou skree nie. Ek moet erken die Prado is nogal redelik effektief ge sound-proof. Volpunte daar vir Toyota.

Enige couple wat op hulle tweede kamp is en so ‘n naweek soos De Villiers en Abbe gehad het sou hier opgehou het en lekker in chalets gaan bly het in die toekoms. Maar die twee beplan klaar om groot te gaan met die kampery.

Ons almal gaan lekker uitgerus (dis nou behalwe De Villiers en Abbe) uitmekaar uit. Dit was ‘n heerlike naweek saam met ongelooflike mense. Sout van die aarde mense. Die tipe vriende waaraan Walter Winchell gedink het toe hy gesê het: “A real friend is one who walks in when the rest of the world walks out.”

Dankie Lollas, Timothy, Miya, Kallie, Liesl, De Villiers, Abbe, Mika, Carl en Leandri. Ons maak gou weer so.

TAGS
RELATED POSTS